“Voor ek by Madiba begin werk het, het ek van ’n gewone lewe gedroom. Ek wou maar net ’n salaris verdien, trou en kinders hê,” vertel Zelda la Grange, oudpresident Nelson Mandela se eertydse persoonlike assistent . “Maar die lewe het my op ’n ander pad gevat, en ek is dankbaar dat ek ’n gewone lewe vir ’n warrelwindbestaan kon verruil; ’n lewe waarin jy meer vir ander omgee as vir jouself. Dít is die grootste geskenk wat enigiemand jou kan gee, en dít is wat Madiba vir my gegee het. Hy het my lewe oneindig verryk.”
Die wedervaringe saam met Madiba het Zelda plaaslik en internasionaal in aanraking gebring met al wat Baie Belangrike Persoon is: staatshoofde, rocksterre, invloedrykes, beroemdes. Maar ander dinge bly haar ook by.
“Op ’n dag was ons op ’n afgeleë plek iewers in die Transkei en die kinders daar het nog nie wit mense gesien nie. Hulle het hulle aan my vergaap. ’n Swart seuntjie het my hand stilletjies gevat en syne daarteen gevryf om te kyk of die wit afgee. Dit het dikwels gebeur dat my wit vel meer aandag as iets anders getrek het. Dit was oorweldigend en ek het ’n intense begeerte gehad om vir die kinders te wys dat hulle nie vir wit mense bang hoef te wees nie.”
Zelda met haar sekretariële diploma het in 1994 as tikster in Mary Mxadana, toe die private sekretaresse van die nuwe president Nelson Mandela, se kantoor begin werk. Teen 1997 het sy tot private sekretaresse in die presidensiële kantoor gevorder.
“In daardie beginjare het ek geen selfvertroue gehad nie.
Die eerste keer toe ek by die werk in Madiba vasloop en hy met my Afrikaans praat, was ek so verskrik dat ek sommer in trane uitgebars het.”
Naïef tot selfversekerd
Zelda kom uit ’n gewone Afrikaanse huis, en het soos baie van ons met ’n agterdogtige vrees vir swart mense grootgeword. Die mense in haar kring het vas geglo dat die “nuwe Suid-Afrika” en veral die vrylating van Nelson Mandela ons ondergang en einde sou beteken. En daar beland die naïewe Afrikaanse meisie toe in die gevreesde man se binnekring. En die vreesaanjaende “terroris” teen wie sy gewaarsku is, laat haar veilig en geborge voel. En maak haar vry.
“Ek was altyd saam met Madiba, en ek het besef niks sal met my gebeur terwyl hy daar is nie. Dit maak ’n mens mos sterk as jy veilig voel. Hy het my veilige hawe geword en ek het geleer om hom te vertrou. In ’n stadium het ek besef ek is ook sy anker. As hy iets nodig het, bel hy my en ek kon nog altyd doen wat hy my vra. Madiba se vertroue in my het my in myself laat glo.
“Madiba het die ongelooflike vermoë om elke mens met wie hy te doen kry, spesiaal te laat voel. Vir my ook. Hy het my ten volle vertrou en in my geglo.
“Ek kan nie vir jou sê hoe ek van destyds tot nou gegroei het nie. Toe ek in 1995 saam met hom begin reis, het hy daarop aangedring dat sy sekretaresse sy toesprake op die verhoog moes gaan neersit. Dit was vir my net te verskriklik om voor duisende mense op ’n verhoog te klim. Ek het my altyd daaruit probeer wurm en die toespraak aan die veiligheidswagte, of wie ook al bereid was, afgesmeer.
“Dit het hom so ergerlik gemaak en dan het ek deurgeloop. Hy wou hê die wêreld moes sien hy steun ook op ’n wit vrou. Ek het ’n rol gehad, maar sjoe! ek het gesukkel. Uiteindelik moes ek maar doodeenvoudig my vrees oorkom, vergeet van almal en daardie stuk papier gaan neersit! En nou? Nou praat ek gereeld voor baie mense.”
In 1999 het Nelson Mandela as president uitgetree en hy kon ’n werknemer kies om voortaan vir hom te werk. Hy het Zelda gevra. Natuurlik het sy ingestem.
“Wat ’n chaos! Hierdie beroemde man. En net Zelda en ’n rekenaar en ’n telefoon. Ek het skielik ’n helse gewig op my skouers gehad. Ná drie maande het ons mense begin aanstel, maar ek moes die ‘belangrike’ goed hanteer.”
Deur hom fyn dop te hou en te luister, het sy geleer wat om te doen, te sê en te antwoord.
“Ek het hom goed leer ken. As ons by ’n geleentheid kom, het ek geweet ek kan maar solank die polisiemanne of die koor gaan roep, want hy sou hulle wou groet. En die dag as ek dit nie sou doen nie, sou hy dit sélf doen.
“Dis vir seker nie ’n grap om Nelson Mandela se lewe te bestuur nie. Daar was kritiek, en ja, natuurlik het ek foute gemaak, maar ná al die jare kan ek terugsit en sê ek het regtig my bes gedoen en dit gee my gemoedsrus en maak my gelukkig.”
Stilte na die storm
Sewentien jaar lank was Zelda se lewe ’n warrelwind, en hoewel sy steeds Madiba se persoonlike assistent is, het haar lewe rustiger geword sedert hy in 2008 uit die openbare lewe getree het.
Sy tref nog sy persoonlike en sakereëlings waar nodig, en bring ook gereeld tyd saam met hom en sy vrou, Graça Machel, in die Oos-Kaap deur. Sy is ook steeds betrokke by die Nelson Mandela-stigting wat nou daarop fokus om sy nalatenskap te ontwikkel en te vestig.
Maar sy het baie meer tyd vir haarself. “Dis ’n luukse. Aan die begin het ek nie geweet wat om met die tyd te doen nie. Ek kon vir die eerste keer in baie jare rustig wakker word en besluit vandag gaan net my dag wees. Ek gaan heeldag saam met my honde Winston en Indira by die huis bly. Die holdersteboldertye het my geleer om klein goedjies te waardeer.
“Jare lank het ek nie iets gehad om na terug te kom nie. Altyd net leë hotelkamers. Moenie my verkeerd verstaan nie, die eerste twee jaar was dit heerlik om so baie te reis en in weelderige hotelle te bly, maar daarna word dit die alleenste plek.
As jy daardie deur saans elfuur toemaak, is dit net jy. Alleen.
“Ja, soms het ek net genoeg gehad. En as ek my humeur verloor het, het jy dit goed geweet! Party mense noem my ‘The General’. Maar my werk was my erns. Oudpresident Bill Clinton reis steeds met omtrent twintig mense, maar ná Madiba se aftrede was dit net ek, ’n dokter en veiligheidsmense.
“Ek moes álles doen: van omsien na sy kamer tot seker maak daar is vir ontbyt één eier, drié repies spek en drié skyfies papaja op sy bord. Ek kan nie vir jou sê hoeveel keer ek ’n bord moes terugvat nie omdat mense so graag meer wou gee. Detail was vir hom belangrik, en ek moes leer om dit raak te sien.
“Dankie tog vir die huis waarin ek grootgeword het. Kyk, ’n Calvinistiese Afrikaner-opvoeding het sy tekortkominge, maar daar is baie positiewe dinge ook. Ons is grootgemaak met respek en goeie maniere en jy moet trots wees op wie jy is en wat jy doen. So baie dinge het met my opvoeding te doen. Selfs nou nog, as ek by Madiba eet, is dit vir my moeilik om bedien te word. Ek sal altyd self my bord agtertoe vat en vir myself koffie maak.”
’n Eie lewe
“Ek moes ’n nuwe lewe begin, en hoe doen jy dit? Ek het op ’n dag besef ek bestee 80% van my vrye tyd daaraan om vir ander mense goed te reël. Hoëprofielmense soos Bono, die hoofsanger van U2, sou byvoorbeeld Suid-Afrika toe kom en omdat hy my ‘ken’, sou sy mense my kontak en vra om met die reëlings te help. Of invloedryke mense sou bel en vra waar hulle met iets soos filantropiese werk kan help. Hulle vertrou my en weet ek sal nie hul sake aan die wêreld uitlap nie. Ek het toe besluit om my eie onderneming te begin.”
In 2009 is Zelda la Grange Edms. (Bpk.) geregistreer en haar netwerk sluit ook oudkollegas in, soos haar eweknieë saam met wie sy in die Withuis en Downing Street gewerk het. Buiten konsultasie-werk en toere en avontuurreise wat sy reël, hou sy ook motiverings-praatjies.
Maer word en ouer word
Nog ’n nuutjie in Zelda se lewe is haar nuwe lyf. Sy het heelwat gewig verloor sedert sy meer tyd het om haar eie lewe te organiseer.
“Daar is ongelukkig net een oplossing vir ’n gewigstryd: eet gesond, gereeld, minder, en beweeg meer! Ek het nou tyd om dinge behoorlik te beplan en ordentlik inkopies te doen. Anders gryp jy mos na wat ook al beskikbaar is en eet wanneer jy tyd het. Ons Afrikaners hou boonop van eet en omtrent alles draai om kos.
“As iets gevier moet word, eet ons; as ons hartseer is, eet ons; as ons mekaar om persoonlike of sakeredes moet sien, eet ons. Die gasvryheid is fantasties, maar om gesondheidsredes kan ’n mens nie so aanhou eet nie. Ek word nou ouer en dis vir my belangrik om te voel dat ek beheer oor iets so nietig soos my gewig het.”
Dis nie vir haar lekker om te sien hoe Madiba ouer word nie.
“Op ’n manier berei dit my voor op wat op ons almal wag. Dis ’n leerskool, maar dis moeilik om te sien hoe iemand oud word. Madiba was so aan die gang en lief vir mense, nou is alles net moeiliker. Maar dis maar ’n paadjie wat ons almal moet loop.”
Terwyl ons praat, lui Zelda se foon. Een van Madiba se vriende wil weet wanneer hy kan gaan kuier. “Dis belangrik vir hom om mense na aan hom te sien. Daar is geen interaksie met die publiek meer nie, en dis goed so. Jy hoef nie op 94 met vreemde mense te chit-chat nie. Vir party mense word Madiba net nie oud nie, en hulle verwag die onmoontlike van hom. Hy wil nou net by sy familie en kinders wees, en dis reg so, hy het genoeg gedoen.”
Zelda is ook dankbaar dat sy nou meer tyd saam met haar gesin, pa Des, ma Yvonne en broer Anton, het.
“Ons hele gesin is passievolle mense, almal met ’n obsessief-kompulsiewe streep – so ons verstaan hoe dit is om jouself geheel en al aan iets toe te wy. Omdat ek so min by hulle kan wees, is ek baie beskermend oor my tyd saam met hulle. Ek word blind van woede as ek drie dae by hulle kan wees en iemand bel my met iets wat netsowel kon wag.
“Dit is die een plek in die wêreld waar ek nie oor my werk wil praat nie. As ek by hulle is, sal hulle my een keer vra hoe dit met Madiba gaan en dan is ons klaar. Ek wil weet hoe dit met húlle gaan en wat in húl lewe aangaan. Ons praat oor mekaar.”
Vryheid en tevredenheid
Die meeste mense weet al dat Zelda ’n petrol head is. Sy ry motorfiets. “Ha! Ja, as ek ooit bankrot verklaar word, sal ek alles verkoop, behalwe my motorfiets. Die gevoel van vryheid wat daarmee saamkom, kan jy nie vir iemand verduidelik wat dit nog nie ervaar het nie. Ek is mal oor ’n bietjie adrenalien en ek begin uitdagender paaie ry. Ek konsentreer soms so hard as ek op die motorfiets is dat ek van my bekommernisse vergeet. Ek probeer nou net om ’n valhelm te kry wat nie my hare so plat druk nie. Die res het ek onder beheer.
“Ek is in ’n toestand van vrede met myself, ook oor my tekort-kominge, en wanneer jy daardie punt bereik, is jy gelukkig. Ek is maar steeds ’n hardekop en vat nie nonsens nie. Ek het jare gelede besluit ek is nie ’n deurmat nie en as ek een was, sou my lewe vandag heel anders daar uitgesien het. Ek het geleer om nie skaam te wees vir wie ek is nie.”
Lees oor Madiba
“As mense meer van Madiba wil weet, is daar twee boeke wat hulle moet lees: Long Walk to Freedom deur Nelson Mandela (Macdonald Purnell (PTY) Ltd, Randburg, Suid-Afrika) en Conversations with Myself deur Nelson Mandela (The Nelson Mandela Foundation).
Die boek bevat notas en briewe wat hy in die tronk geskryf het. Jy leer hom regtig ken in daardie boek. Partykeer wil ek baie mense, veral jongmense net aan die ore vat en sê gaan sit en lees daardie boek! Ons moet leer uit die lesse wat hy vir ons nalaat. Ek hoop mense sal sy lewe bestudeer en insig kry oor hoe eenvoudig dit eintlik is om die beginsels waarvoor hy staan, na te volg.”