Deur Margaret Gardiner
Zac Efron, wat in High School Musical naam gemaak het, het met my oor sy nuwe rol in The Iron Claw gesels. Hierin speel hy ’n stoeier, wat die meerderheid van sy tyd in klein Speedo-broekies op indrukwekkende en ontstellende wyses rofstoei. Enigiemand wat al ooit probeer het om dié veelsydige ster na die kantlyn te stoot en sy roem aan sy voorkoms toeskryf, sal betower word deur sy vertoning as Kevin von Erich in hierdie fliek, wat deur die ware lewensverhaal van die Von Erich-familie geïnspireer is.
Vier seuns word teen mekaar opgeweeg soos hulle probeer om hul charismatiese en dominerende pa se droom te probeer nakom om in die jare tagtig die wêreld van stoei te oorheers. Holt McCallany is uitmuntend in sy rol as hul onheilspellende en gevaarlike pa. Jeremy Allen White (Golden Globe-wenner vir The Bear), Harris Dickinson (Trust) en Stanley Simons (Angelfish) sluit by Zac as sy broers aan.
Dis moeilik om te glo dat dit wat volg werklik gebeur het: Die noodlot wat die seuns oor en oor tref soos wat hulle hul pa se droom – wat die familie se nagmerrie word – probeer verwesenlik, is tragies. Soms is dit so uitermate dat selfs as dit fiksie was, niemand dit sou glo nie. Die akteurs moes tot uiterstes toe geoefen het om op ’n oortuigende wyse die rofstoeiers in die kryt na te maak. Die fliek speel grotendeels hier af en gegewe hul skrapse kostuums, is daar werklik nêrens om weg te kruip nie.
Harris Dickinson merk op dat die heel eerste toneel wat hulle geskiet het, van die broers in hul Speedo’s was, en daar was ’n brawe wedywering om te sien wie eerste homself sou bedek het. Nie een van hulle het nie. “Die wêreld van rofstoei skep eenheid,” verduidelik Zac. Hoe beter mense saamwerk, hoe beter is die produk. Die akteurs het ’n hegte eenheid gevorm.
Die stoeikostuums, die hare en die mode van die jare tagtig maak hierdie fliek baie kykbaar vir enigiemand wat lief vir daardie tydperk is. Maar waarby ’n mens die meeste aanklank sal vind, is ’n frase wat oor en oor herhaal word: Toksiese manlikheid – die idee dat ons samelewing mans in boksies druk wat baie skadelik vir hulle is.
Daar is al baie gesê oor vroue se lot om tot stereotipes gedegradeer te word, maar daar is nog min gefokus op hoe mans gedwing word om resultate te lewer.
Lees ook: May/December – ’n Netflix-fliek met Natalie Portman en Julianne Moore
Die ou gesegde “sterk en stil” kom hier na vore. Zac se karakter stem duidelik nie met al sy pa se uiterste gedrag saam nie en hy probeer om sy broers te beskerm, maar hy is ook grootgemaak om sy pa te eer – en om hom verby ’n sekere punt aan te vat, is problematies. Sal ’n goeie seun sy oukêrel op die dwalinge in sy weë wys?
Zac kry dit reg om innerlike onrus in ’n gelate, opgepompte liggaam uit te beeld. Sy oë verklap sy twyfelinge, sy ware gedagtes en sy onvermoë om emosie uit te druk of waardeur hy gaan, soos sy pa se ongenaakbare dryfkrag rampspoedige gevolge vir sy kinders het – en tog laat dit nooit die pa van sy foutiewe beskouing afsien nie.
Jeremy Allen White, wat Kerry, die tweede oudste seun, speel was gefassineerd deur die enorme gewig van die genadelose tragedie wat die gesin tref. Een spesifieke toneel bly hom veral by.
Voordat ek die draaiboek gelees het, het ek The Dark Side of the Ring gekyk waarin die Von Erichs uitgebeeld word. Ek was dadelik gefassineer, veral deur wat met Kerry gebeur.
Aangesien dit op feite gegrond is, gee ek niks weg om te noem dat Kerry uiteindelik sy pa se droom verwesenlik het om die Nasionale Rofstoei-alliansie se swaargewigkampioenskap te wen nie. Hy het vir een van sy broers ingestaan wat in die kampioenskappe moes veg, maar wat drie maande voor die wedstryd oorlede is. Kort daarna was Kerry in ’n motorongeluk betrokke en moes hy sy voet laat amputeer. Allen Whites sê: “Daar is beeldmateriaal van hom in sy hospitaalbed waar hy met die media en sy bewonderaars praat. Hy sê dat hy goed gevaar het en alles is oukei. Ons weet dis ’n leuen. Hy glimlag, maar jy kan die pyn en vrees in sy oë sien. Ek het dit baie interessant gevind om ’n karakter te speel wat besig was om iets te verloor waarby al sy eiewaarde betrokke was – sy loopbaan en daardie wêreld – en wat dit doen. Nadat hy met ’n mate van sukses aan gevegte met ’n prostese deelgeneem het, het Kerry selfdood gepleeg.”
Fritz von Erich het ses seuns. Vyf is dood. Drie het hul eie lewe geneem. Wat verstommend is, is dat, ongeag die geweldige tol wat dit geëis het, die derde geslag van Von Erich’s in die familie se voetspore gevolg het. Al twee Kevin se kinders werk as professionele stoeiers en Kerry se dogter, Lacy Addison, is ’n afgetrede professionele stoeier (volgens die tydskrif People).
Lees ook: “Beste Partytjie by Verre” – Margaret Gardiner woon die Golden Globes by
Toe ek ’n verbasend snaakse en lighartige onderhoud met Zac Efron en Harris Dickinson gevoer het, het ek vir Zac gevra wat hom ná sy uitmergelende rolspel bygebly het. Hy het geantwoord: “Daar is ’n groot hoeveelheid inspirasie in die fliek. Ek kan nie glo dat so ’n tragedie met een gesin kan gebeur nie. Ek dink elke dag daaraan. Hoe ver jy sal gaan vir die mense vir wie jy lief is.”
Oor daardie nalatenskap moet ’n mens wonder. Wanneer liefde jou aanspoor om pynstillers en medisyne te misbruik om iemand anders se droom te verwesenlik. As dit tot dood en selfdood lei – is dit regtig liefde?
Kyk na my onderhoud met Zac Efron en Harris Dickinson waarin ons praat oor hoe die akteurs onder mekaar tydens oefensessies gewedywer het; klere; en wat van hul karakters steeds by hulle spook.
Volg Margaret op Youtube, Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: Nyad: Margaret Gardiner gesels met Annette Bening en Jodie Foster