Vrouwees is voorwaar ’n wonderwerk op sy eie, en as gevolg hiervan pak ons soveel dinge aan en sien selfs kans vir dit wat onmoontlik voorkom. Soos die gesegde lui: “Wie nie waag nie, sal nie wen nie.”
Ek dink nou terug aan ’n voorval by Suiderkruis Lagoon in Groot Brak, wat afgespeel het toe ek omtrent 7 jaar oud was. Dit was een van my gunstellingplekke om te “swem” want daar kon ek met my hande teen die bodem druk en my voete skop om my familie te fop dat ek wel kon swem. Hulle het vir my hande geklap om my goed te laat voel en dit het gewerk! Ek onthou hoe my niggies by my gespeel het in die vlak water maar genoem het dat hulle later dieper in die water wou gaan en ek nie by hulle kon aansluit a.g.v my lengte nie. Ek het my kop geknik en gemaak asof ek hul plan respekteer maar het reeds besluit om by hulle aan te sluit. Hulle het toe gaan swem en ek moes by my ouma en anties agterbly, maar na sowat 20 minute het ek ook in die water gegaan en stadig maar seker nader aan hulle beweeg. Die water was later by my nek, toe my ken, daarna oor my mond en toe trap ek in ’n gat. Die water het tot bo-oor my kop gegaan en ek kon nie swem om my lewe te red nie, toe staan ek daar en dink wat om te doen (ek kon hoor hoe almal hul lewens geniet en hier is myne byna verby.)
Ek strek toe so hoog as moontlik tot feitlik net die punt van my regter middelvinger bo die water sigbaar was. Dis mos immers my langste vinger en op daai stadium, my laaste hoop! Ek het gestaan en bid dat iemand dit moes sien en toe kom tel my niggie Vanessa my op en plaas my neer waar ek kon staan. Sy het my lewe gered! Ons albei was koud geskrik, maar het ook lekker gelag want wat het my besiel om so iets aan te jaag? Die res van die familie het natuurlik nooit hiervan gehoor nie want anders was ons in moeilikheid-straat.
Op hierdie wyse het ek besef dat ek versigtig moet wees waarvoor ek kans sien en as iets “onmoontlik” voorkom, die nodige beplanning moet doen om dit te maak werk.
George is langs die kus so daar’s baie plekke om te swem en ek was altyd die laaste een in die water. Maar as ek wel in die water was, was dit vir my opwindend en lekker om te probeer bereken hoe hard elke brander my sou tref. Een dag was ek en my vriendin, Lucretia, by die see. Ek is die kortste van ons twee, maar wil altyd die diepste in die water wees! Ek verstaan nou nog nie heeltemal waarom ek die lewensgevaarlike uitdaging geniet het nie, seker maar omdat ek ’n waaghals is. Dit was ’n pragtige sonskyndag op Victoria Bay in George en perfek om te duik en in die water rond te spartel. Dit het goed gegaan totdat ek my misgis het met die krag van ’n spesifieke brander. Ek het in geduik soos gewoonlik, maar toe ek wou staan het die stroom my skielik ingetrek. Als het vinnig gebeur, maar daar was genoeg tyd vir my om te besef dat daardie moontlik my laaste duik sou wees. Tydens my oomblik van wanhoop, gryp Lucretia toe my hand en trek my uit tot daar waar ek weer kon staan. Ek het gelag en gemaak asof dit nie so erg was nie in die hoop dat sy sou bedaar, want sy was nie juis beïndruk met my nie. Ek dink wel dat ons albei bewus was van hoe hard my hart geklop het in daardie oomblik, en so moes ek weer leer dat die see niemand se speelmaat is nie!
Nietemin, ek leef steeds na verskeie dinge wat ek al deurgemaak het, en dit is die inspirasie agter my nuutste enkelsnit “Tsunami”. Die lewe is maar woes. Dit ruk en pluk jou rond nes dit lus het, gooi jou dan eenkant en terwyl dit ’n breek vat, kom dit weer vir jou … nes branders. Maar ons almal moet sterk staan voor daardie tsunami’s. Baie uitdagings kom groot en onbeheerbaar voor, maar wanneer dit verby is, is dit verby. So in plaas daarvan om in die hoek te gaan sit en kripeer, staan voor daardie tsunami.
Party verkies om meegesloer te word, maar ek nie. Ek staan om perspektief te kry. Ek staan want al word als uitgegooi beteken dit nie dat dit die einde is nie.
Lirieke uit my lied, Tsunami:
“Dit gaan my niks maak nie, kan my nie skrik maak nie,
Al dink jy ek’s dik taatie.
Ek is gebukkend, gestrip, stukkend in ’n wip,
Biddend in die midde van die bibberende koue wat my innerlike pluk maar …
Ek staan voor ’n tsunami.”
Somtyds is daai tsunami soos om Duin 7 uit te klim. Soms ’n donker geheim wat jy saamdra, leë koskaste, of soos in my (swanger) geval, nul koffie per mond, emosionele wipplankryery, heupbene wat uitskuif en borste wat die toekoms ingaan!
Lirieke uit my lied, Crazy Tye:
“Vrouwees is moeilik by tye.
’n Vrou is ’n pragtuk, ’n kuns op haar eie.
Sy moet kan sterk staan en saad skiet soos plantjies in duine.
Woestyne se dors les ou manne se kennis kan bless.
Bring horde mense na vore, by monde van ponde,
Kniel as jy dors is vir kennis.
Steek op jou hand na die waarheid die swaarheid sal klaarblyklik klaar uit gepen is.”
Al voel jy te swak om aan te gaan, vat jou tyd om asem te skep tot jy weer nuwe krag het, want om staande te bly beteken om nie op te gee nie, ongeag wat!
Volg die skakel na my nuutste enkelsnit Tsunami hier
Ja, ek rym in my #Moedertaal en onthou #YOMAISAFRIKAANS
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor! As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook | YOMA
Twitter | @YOMAIsAfrikaans
Instagram | @claudiawitbooi