Dis wonderlik hoe lewenservarings ’n mens skaaf en dinge waaroor jy soveel sekerheid gehad het heeltemal duskant gegooi word. Ons almal beweeg maar deur die warm en die koud van die lewe.
Ek het al pasgebore babas vasgehou en aan koue lyke gevat. In beide voorvalle rus daar insig oor wat die lewe bied en agterlaat. ’n Feit wat bly staan is dat tyd aanbeweeg. Tyd laat ons toe om mekaar te ervaar en dit wat daar voor wag vierkantig in die oë te staar.
Ons almal beweeg maar deur die warm en die koud van die lewe
Soms maak tyd die deur hard in jou gesig toe en forseer dit jou om terug te draai en weer te bepeins oor jou gekose bestemming.
Daai is eintlik maar net ’n klap in die gesig. Perspektief is alles, ons wil in beheer wees, maar beheer eintlik so min.
My asem is weggeslaan deur die wete dat hier ’n mensie met idees, opinies en ’n identiteit binne my vorm. Iemand vir wie God reeds ruimte geskep het op aarde. Daar is twee harte wat hier binne my klop. Ek wonder of dit dalk die oorsaak is dat ek meer emosioneel is en soms oor enigiets huil.
’n Vrou is oor die algemeen ’n emosionele wese, dit begryp ek, maar dis nogals ’n teer saak om vanaf ’n well composed state of mind te beweeg na ’n vlak waar ek amper geen beheer oor my liggaam en emosies het nie. Ek kom al 24 jaar met die liggaam aan, tog voel dit asof ons nou eers begin kennis maak. Ek dink wel dat dit noodsaaklik vir die groei van my as ma is, en ek begin dit as broodnodige dissipline sien waaraan ek nog lank moet kou. ’n Kleinding verg immers baie geduld van mamma!
Nie te min, ek en Simon is verskriklik opgewonde hieroor en dit beteken die wereld vir my om hierdie ervaring met julle te kan deel.
Dis ’n hoogtepunt in my lewe, nes daardie oomblik toe ek die nuus van ons baba met Simon deel en dit voor ons moes optree by ’n show in Narraville, Namibië.
Kyk hoe vol vuur was ons! Volg die skakel na ons optrede
Ek is 4 maande en 2 weke swanger en begin ervaar hoe die kind beweeg, maar behalwe vir beweging is dit asof die klein dingetjie klop vanaf hier binne. Ek deel die nuus met my ma en haar antwoord was: “Ja, die kind wil gesels!”
Die tyd in Namibië was onvergeetlik. Een van die vele hoogtepunte was tydens die tweede seremonie by ’n kerk in Narraville. ’n Dame het na my toe gekom en gevra of ek asb. ’n boodskap in haar boekie sal skryf. So 20 minute daarna kom haar dogter na my toe tydens die diens en noem dat haar ma ’n boodskap vir my in dieselfde boekie geskryf het. Sy sê toe dat haar ma voel dat sy dit met my moet deel. Ek het dit vlugtig gelees, dankie gesê en toe sommer ’n foto daarvan geneem.
Dis eers ’n paar dae gelede dat ek besef wat die boodskap beteken. Ek was onmiddellik in trane en het seker vir 10 minute in my kamer gesit en huil. Ek was oorweldig deur die liefde en merkwaardigheid van God. Na die trane sit ek toe met die volgende gedagte:
Hoe kan jy God ontken, hoeveel keer kommunikeer Hy met ons, maar ons is te vasgevang om dit te besef. Sjoe. Plus, dit was die dag nadat ek en Simon uitgevind het van die swangerskap, niemand anders het geweet nie.
“Hi! The Lord says, I have planted a seed in you! I’m taking you to a new level in Me says the Lord your God! Stay in Me!! I love you dearly & completely!!”
Lirieke uit my lied: My Blom
“Jys nuwe reën wat water giet op dit wat droog was.
Waarookal ek my vingers na wys, drip water af.
Jy reinig my.
Jou water is weelde met die diepste mening.
Soortgelyk aan toe God die verbondenheid in geseën het.
Dis pragstene, wanneer jy wieg en woel.
Jou getrap laat daai skitter soos water oor in my boot spoel.
Ek sinspeel op emosie wat my hormone staan en roer.
Dis voorbereiding wat verseker dat ek jou met ’n steady hand voer.
Die bewuswording van jou geskied keer op keer.
Veral as ek die bpm van jou hartklop op die skerm lees.
Dis meer as bloed, want dit sny verby die vlees.
Jy’s uit satyn-lappe gekerf om die sagkuns van my liefde uit te beeld.”
Ja, ek rym in my #Moedertaal
Ons is almal geskape met ’n plan in gedagte. Ons almal is hier met ’n doel. Als verloop soos wat dit moet, al voel dit nie so nie. Soms is dit moeilik om te vertrou in ’n plan wat ’n mens nie verstaan nie, maar dis perfek uitgewerk vir jou. Deur die warm en die koud, die lelik en die mooi. Tyd sal “op sy eie tyd” die doel openbaar.
Wees rustig.
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor.
As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en “tag” my op:
Facebook | YOMA
Twitter | @YOMAIsAfrikaans
Instagram | @claudiawitbooi