Van die oomblik wat die eiersel bevrug was om my te vorm, het alles van en in my begin groei en gestrewe na meer. Insluitend die wete om te onderskei tussen die noodsaaklikheid van wat dit is om minder en meer te wees. My hele interne en eksterne komposisie het saam gewerk om my te kry by die punt waar ek vandag is. Wie ek is, rank deur my vingerpunte, dit waarin ek glo, wat ek wil bereik en bekom.
Die groeiproses is oneindig en vir die afgelope 25 jaar verander ek saam met die seisoene. Die belofte wat lente bied steel my hart keer op keer, want ongeag wat gebeur, blom ek weer. En vir die laaste 33 weke rank ek selfs na binne. Dit laat my mooi voel, asof daar blomme uit my vel groei. Hierdie mensie wat elke week sterker, woeliger word en harder skop, laat my steeds sprakeloos. Op een of ander eienaardige manier is dit asof alles wat ek tydens my swangerskap deurmaak die moeite werd is … al word dit hoe moeilik, al word ek hoe moeg. Daar is niks op aarde wat die mooiheid uit hierdie reis kan suig nie. Hoe meer ek fisies, psigies en geestelik verander, hoe meer glo ek dat dit nodig is vir swangerskap om nege maande te duur. Daar is soveel dinge waarvoor ek as 1st time mamma moet voorberei, gereed wees en verleer. En soos julle weet, wanneer dit kom by slegte gewoontes of selfs net gewone gewoontes, is dit nie die maklikste ding om tot niet te maak nie.
Maar ek word groener … Die proses is half omgekeer. Soos ’n boom wat terugwerk grond toe om haar wortels te herbestudeer. Hierdie proses maak my bewus van hoe sterk ek is, maar herinner my ook aan my broosheid. Dis asof ek stelselmatig in baba se skoene begin staan. Ek voel klein, naak en soms magteloos. Tog stoot dit die vlak van dankbaarheid net hoër. Ek het nie verwag dat die voorbereiding op so ’n diep vlak sou geskied nie. God is merkwaardig. Dit is alles deel van die plan, vlekloos en perfek.
Ek geniet die nuwe definisie wat “ons” bring. Ek kan nie wag om my kleinding te ontmoet en vas te hou nie. Ek het reeds so baie verander tydens hierdie paar maande en ek sien uit na wat voorlê. Ek sien uit na elke uitdaging en mooi oomblik, dit vorm en skaaf my om die beste ma te wees wat ek kan. Hierdie kleinding verdien net die beste.
Met ronde wange, ’n neus wat steeds groei, opgeswelde hande en voete, vrees ek nie verandering nie, want as jy mooi daaroor dink is dit eintlik tog die enigste konstante ding.
25 Oktober is my crown birthday en ek het altyd gedink dat dit ’n groot gedoente sou wees! Klomp vriende en goeie tye (lekker lag ek nou) want hier sit ek met ’n glas water langs my bed. Dankbaar vir my groot geskenk, wie alles saam met my ervaar. Die lekkerste is om te weet dat ons reeds saam eet en nog vele etes vorentoe saam gaan geniet. Cheers op nuwe lewe, cheers op ’n oneindige groeiproses.
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor!
As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook | YOMA
Twitter | @YOMAIsAfrikaans
Instagram | @claudiawitbooi