In Johannesburg is die meeste dinge ’n gejaag. Veral as jy met jou motor die strate in vaar. As jy dink verkeer in die Kaap is erg, moet jy ’n draai hier kom maak!
Die robot is skaars groen dan blaas die motor agter jou sy toeter. Ek en my man probeer gewoonlik om nie in verkeer vasgevang te word nie, want ons lack geduld daarvoor. As dit wel oor ons pad kom, probeer ons maar sterk wees nes die mense voor en agter ons. Hier is ook ’n hele paar crooks, ek is maar skepties op die pad en sif deur almal. ’n Mens moet maar ligloop en kan nie sommer enigeen vertrou nie.
Nou die aand was ek heel verbaas. Ek en my man het sushi bestel en voor die plek in die hoofstraat parkeer om ons pakkie te kry. Ons het in die kar geklim, maar ’n bietjie langer geneem om weg te trek want hy was besig om my van sy dag te vertel. Tydens die gesprek was dit asof iets vir my sê om op die kar oorkant die pad te fokus. Dit was ’n ou, geroesde kar. Die bestuurder het die ligte aangeskakel en toe weer afgeskakel. Toe ons die kar aansit, start daai ou weer sy kar, maar hy ry nie. Ek het nie veel daarvan gedink nie, want dalk het hulle ook net gesit en gesels. Die kar was immers vol mense. Maar toe ons uittrek om te ry, begin hy ook ry. Net mooi stadig genoeg sodat wanneer ons ons draai vat, ons kar syne sal tref. Hoekom? Want hy het stil gaan staan op die presiese plek vir daai om te gebeur. Gelukkig was ons waaksaam en kon dit vermy.
Wat het die ou in elk geval gedink? Ek, my man en my kind se lewe stel hy in gevaar, plus die van die mense in sy motor. Dalk het hy gedink dis ’n quick buck wat hy kon maak. Ek weet nie, maar ek’s net bly ons het heel daar weggery.
Net soos wat elke dag onvoorspelbaar is, val swangerskap vir my ook mooi in daardie lyn. Ek weet nooit wat om te verwag nie! Selfs in hierdie geval moet ek maar kop bo water hou, want daar is ’n hele paar dinge wat my van koers af gooi. My vel is byvoorbeeld een van die vele dinge wat my lewe kompliseer. Ek is ’n internasionaal gekwalifiseerde somatoloog. So, volgens my moet ek nie met hierdie probleme ook nog sit nie!
Hier is ’n paar:
- Vel wat ontydig droog word asof ek nooit room aansmeer nie
- Hande wat lyk soos ’n baie ouer persoon s’n
- Jeukerigheid as gevolg van droogheid, maar as ek krap voel dit asof dit onder die vel jeuk
- Vel wat vinnig strek
- Rekmerke hier en daar (al beplak ek my met room)
- Puisies in my gesig
Ai, die lys gaan aan. As vroue moet ons seker nie mismoedig word wat dit aanbetref nie. Ons moet net doen wat ons kan. MUD-grimering, lipstiffie onder andere en parfuum laat my altyd beter voel.
Die organe van my kleinding is basies gevorm so nou moet baba net groei, en wat daarmee gepaard gaan is baie kos. Ek word omtrent elke 2 ure honger. Dan voel ek soos iemand wat nog nooit geëet het nie. Plus, honger wees maak my krapperig, maar ten minste is my mooi maniere weer teenwoordig nadat ek geëet het.
Toonnaels knip is een van die vele dinge wat ek nie meer kan bykom nie. Dis ’n bietjie van ’n pyn, want ek het nogal trust issues wanneer dit kom by mense wat my toonnaels moet knip. Ek is altyd bang hulle knip dit te diep of knip my raak! Ek sukkel ook om bra’s te kry wat pas. Dis eintlik ’n nagmerrie, plus die draad daarin maak my seer en knorrig. Ek raak baie vinnig uitasem en moet kort-kort toilet toe om te gaan pieriewhieps. Ek sukkel geweldig om op te staan nadat ek vir 20 minute of meer gesit het. Asof ek stelselmatig aan die stoel of bank begin vasplak het …
Met al hierdie onvoorspelbare dinge wonder ek oor jong dames, tieners wat kans sien om kinders te kry. Ek wonder of hulle in lyn sal staan as hulle weet wat dit als verg. Dis regtig nie speletjies nie. As ek op ’n verhoog klim of dit deur ’n besige dag gemaak het, voel ek soos ’n superhero! Ek moet eintlik met ’n cape rondloop. En ja, almal se ervaring is nie dieselfde nie, maar baie van hierdie bogenoemde dinge moet elke vrou deurmaak. Is jy gereed daarvoor? En dink jy dat ouers op ’n jong ouderdom met hul kinders oor swangerskap en wat dit behels moet gesels? Ek dink so. Ek weet baie mense is nog skrikkerig daarvoor, maar kinders het tog toegang tot die internet. Hulle weet baie meer as wat ouers dink hulle weet.
Nietemin. As jy kans sien vir al die en vele meer, wil ek net vir jou sê: op jou rekmerke, gereed, kruip. Want alles word stadiger.
My album is feitlik klaar! Met al die nice features en variasie van klanke en genres kan dit enigeen deur ’n moeilike tyd dra. My album, #Moedertaal word Desember/Januarie vrygestel. Sien julle ook uit?
Ek rym in my #Moedertaal, #YOMAISAFRIKAANS.
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor!
As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook | YOMA
Twitter | @YOMAIsAfrikaans
Instagram | @claudiawitbooi