As kind het ek kasette en storieboeke as geskenk ontvang om my luistervermoë op te skerp. Daarna het my vaardigheid om die lirieke van liedere te memoriseer, ontwikkel. Ek kon ’n lied 2-3 keer luister dan het ek dit geken!
Tot vandag toe is ek dankbaar vir hierdie vaardigheid, veral omdat ek soms vinnig ’n 16-reël vers moet skryf en binne ’n dag of so moet ken.
Vir so lank as wat ek kan onthou, vloei musiek deur my are
Destyds was dit vir my lekker om myself te kon uitdruk deur middel van sang. Soos die tyd aangestap het, het ek begin wonder, “waarom moet ek ander se liedere sing as ek my eie kan komponeer?” Ek het toe begin om my eie musiek aan mekaar te sit, eers deur die wysie van gekose liedere te gebruik en dan my eie lirieke by te voeg. Ek was maar 6/7 jaar oud en te jonk om te kon skryf, so die skryfproses moes in my kop gebeur. Dit was maar hakkerig aan die begin, maar dit het gladder begin verloop hoe meer ek dit gedoen het.
Op laerskool was skryf weer nie iets waaroor ek gaande was nie. Veral nie as dit by opstelle gekom het nie. Dit was asof my kop stilgestaan het. Ek het nie gedink dat ek dit kon doen nie, so familie moes maar help wanneer ek sulke take vir huiswerk ontvang het. Die hulp het spoedig tot ’n einde gekom nadat my oupa vir my gesê het dat ek op my eie moet voortsukkel om my opstel klaar te kry, en dat hulle my nie so kon versterk nie. My hart was seer want ek kon nie glo dat hy my so in die steek kon laat nie … my eie oupa … Nadat ek oor my selfbejammering gekom het, het ek besef ek kan! My liefde vir digkuns het daarna gevolg, bloot omdat ek een aand so ontsteld was na ’n stryery met my oom, dat die enigste manier hoe ek myself kon uitdruk, was deur ’n gedig te skryf. Dit was merkwaardig wat daai vir my gedoen en beteken het. Ek het stukke beter gevoel en daarna oor allerhande dinge begin skryf. Dit was en is steeds ’n wonderlike uitlaatklep vir my.
Na jare van digkuns het hip-hop aan my deur kom klop. Ek het musiek as vak op laerskool asook op hoërskool gehad. Op hoërskool het ek keyboard leer speel, en ek was gelukkig genoeg om my eie een by my oupa te kry sodat ek by die huis kon oefen. Nou onthou, op die keyboard is daar gewoonlik beats soos julle seker weet en op ’n dag besluit ek om ’n kort opname te maak waar ek ’n freestyle gooi op ’n beat met die naam “Rap”. Ek het dit as ’n grap vir my neef gespeel want hy was verskriklik lief vir hip-hop musiek. Hy’t my toe aangemoedig om die rap-storie verder te vat. Eers het ek die blote gedagte daarvan van die hand gewys, want ek kon nie insien hoe ek dit voor ander mense doen nie. Dit was asof dit nie by my gepas het nie, maar hy het nie met daai hand gevat nie! Hy het my aan mede hip-hoppers voorgestel en ek kon meer leer oor wat hip-hop behels en waaroor dit eintlik gaan.
Hip-hop is ’n wonderlike kultuur wat voorwaar my hart kom steel het. ’n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan. Dit was opwindend om te weet dat ek my digkuns met ritme kon meng en ek was heeltemal sold en van daar af was hip-hop deel van my.
Van julle ken my as ’n Afrikaanse rymkletser, en ja ek rym nou voltyds in Afrikaans, maar dis nie hoe dit altyd was nie. My inleiding tot hip-hop was Engels en aanvanklik het ek gedink dat dit so moes wees, maar oor my liefde vir Afrikaans kon ek dit nie daar laat nie. Ek het tyd gemaak om meer in Afrikaans te skryf en myself op te skerp totdat ek soort van tevrede was met wat my pen na vore gebring het (die groeiproses stop eintlik nooit!). Daarna het ek Afrikaans stelselmatig in Engelse verse begin inwerk totdat ek heeltemal in Afrikaans begin werk het. En ja, my Afrikaans is dalk nie op standaard nie, maar dis hoe ek praat … dis wie ek is.
Hier is ’n musiekvideo wat ek destyds saam met S.M.P. gedoen het wat dit demonstreer. Die title is: Sê Wat Jy Wil.
My #Moedertaal is meer as net wat my tong verklap, dit is my identiteit. Dit verteenwoordig waarvandaan ek kom, en onderstreep my menswees. Ek moedig baie mense aan om hul ding in hul moedertaal te doen, want slegs in ’n moedertaal kan mens iets prentjiemooi verf. Soms sal jy druk vanaf toeskouers voel (ja, dit is bietjie van ’n ironie), maar moenie toelaat dat dit jou definieer of in ’n boksie van ongemak plaas nie. Mense sal altyd ’n opinie hê. Druk jouself uit soos wat dit jou pas, want wat is die doel van kuns as dit nie wie jy is verteenwoordig nie? Wat is die punt daarvan om iets te deel wat oneg is en watter impak kan dit tog maak?
Ek is trots om te kan rym in my moedertaal veral omdat ek sien hoe baie dit vir ander jongmense beteken.
Ek is tans besig met my eerste konsep-album. Ek het lank gewag om dit aan te pak, want ek wou nie net ’n spul songs bymekaar gooi en dit ’n “album” noem nie. Die hele projek moes sin maak. My album se naam is #Moedertaal, waar ek praat oor my liefde vir Afrikaans, die reis van ma-word en onder andere sosiale kwellinge aanraak soos F.A.S. en tienerswangerskappe. Volgende week gaan ek een van die enkelsnitte op my album vrystel. Kyk uit daarvoor en geniet die voorsmakie. Daar’s ’n Tsunami op pad! Onthou … #YOMAISAFRIKAANS
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor! As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook | YOMA
Twitter | @YOMAIsAfrikaans
Instagram | @claudiawitbooi