Volgens my het ek nog altyd ’n goeie verhouding met my pa gehad. Die min tyd wat ons saam spandeer het was waardevol. Ons albei waardeer musiek en sou altyd saam daarna luister. Hy het my op ’n jong ouderdom aan Bob Marley se musiek blootgestel. Dit is sy gunstelling-musikant en dus wanneer ek Bob Marley se musiek hoor, dink ek altyd aan my pa.
Hier staan ek en my man by my pa:
In later jare toe ek, volgens my ma, oud genoeg was om ’n foon te besit wat musiek kon aflaai en met Bluetooth, het ek en hy wanneer ons bymekaar was graag nuwe musiek uitgeruil. Op ’n dag tydens so ’n sessie het ek hom gevra of hy onthou hoe hy my as kind gewys het om terug te skip op die CD-speler. Hy vra toe hoe oud ek was. Ek kon nie mooi onthou nie, en noem dat ek verneem ek so 5 jaar oud was. Daar was ’n oomblik van stilte alhoewel daar musiek gespeel het. Hy kyk toe op en sê: “Maar dit kan nie wees nie,” en vra of ek seker is dat dit hy was? Ek sê toe ja, ek sal dit nooit vergeet nie, want dit was my gunstellingliedjie: “Lemon Tree”. Daarna sê hy die rede waarom dit nie vir hom sin maak nie, is omdat hy vir die eerste 5 jaar van my lewe nie daar was nie. Duidelik het ek my misgis, maar dit was groot nuus vir my. Dit was ook vreemd omdat ek verneem het hy daar was. Soos ek die storie verstaan, het hy voor my geboorte besluit om Pretoria toe te trek en a.g.v daardie besluit was hy en my ma toe uitmekaar. Hulle het nooit getrou nie.
In daai 5 jaar het hy aan dwelms verslaaf geraak. Teen die tyd dat hy in George aangekom het, was hy ’n ander mens. Alhoewel dwelms my pa se lewe verwoes en ek hom oor die jare sien wegkwyn, bly ek lief vir hom. Die feit dat hy nie geskenke aangedra het en tyd gemaak het vir my nie, het my nie juis onder gekry nie. Dalk is dit omdat ek ’n optimis is en altyd die goeie in mense probeer raaksien. Maar ek het altyd gehoop dat hy die dwelms sou los en ek op ’n manier sou kon help om dit te maak gebeur. Veral omdat hy vir my gesê het dat dit self is wat hy wil hê, maar dat dit moeilik is.
Vroeër vanjaar het ek vir die eerste keer ’n lied hieroor geskryf. Die doel van die lied was om vertroosting vir my te bring, en so ook vir ander wat in ’n soortgelyke boodjie sit. Die titel is: Die Rugsak En Die Rower.
Die rugsak verwys na my onderbewussyn wat ek ooral saam met my ronddra en die rower na die dwelmmiddels wat my pa keer op keer van my wegsteel.
Kyk hier na my optrede vroeër vanjaar by die W.A.T:
Die Rugsak En Die Rower
“Ek verkondig sake van die hart.
Hoe kom dit oor?
Hoe prosper die kind.
As die ouer versmoor?
Homself so verloor in die oomblik.
Dat hy dit skaars witness.
Met die rower in die hand
En sy mind disnis.
Wat loer uit die distance
En wonder of dit rus is.”
Ek het nooit die afwesigheid van my pa gevoel nie. Seker oor my wonderlike oupas die rol van ’n pa vertolk het. Dis dalk waarom ek nie met bitterheid in my hart rondloop nie. Hulle het my gehelp om ’n goeie man te kan identifiseer. Ek onthou toe ek en Simon met my familie gesels het oor ons wat wou trou, was my oupa daar en hy was heel gerus en tevrede met Simon.
Hier stap ek met my oupa en ooms voor my optrede by die Tarka-fees in Mosselbaai verlede jaar:
Toe ek en Simon nog in ’n verhouding was, het ons baie gesprekke gehad oor kinders kry en watter waardes ons daaraan koppel. Ek dink dis belangrik om sulke gesprekke te hê. Baie mense bots later oor sienswyses en waardestelsels wat verskil. Ons stem darem met die meeste dinge ooreen en dit is een van die redes waarom ons ’n pad saam stap. Kinders kry is die makliker deel, die proses daarna is meer gekompliseerd. Maar wat ’n eer om by te kan dra tot ’n nuweling se identiteit en dogma. Van doeke omruil, bedstories vertel 3 uur in die oggend tot skool toe ry, en so meer. Of dis hoe dit aan my oorgedra word.
Teleurstellings is een van die min dinge waaroor mens beheer het in hierdie lewe. Een ding wat wel seker is, is die oneindige moontlikheid om aan onsself te werk. Om te bid en die beste te maak van ’n slegte saak. Ons kan nie ons omstandighede bepaal nie, maar ons het beheer oor hoe ons daarvan wegstap.
Somtyds maak dit wat oor ons pad kom seer, maar dit kan ons net uitmekaar skeer as ons dit toelaat. Ek dink die grootste fout wat my pa steeds maak, is deur ander te blameer vir waar hy homself bevind. As ’n individu konstant blaam op ander plaas sonder om tyd te maak om in te sien waar hy/sy fouteer, word dit uiteindelik ’n resep vir woede en bitterheid. En so sal jy nooit weet waarop jy kan verbeter nie.
Tip: Maak tyd om stil te wees en te reflekteer. Dis slegs op hierdie wyse dat ons beter kan word en kan groei.
As ek my lewe lank vasgekyk het aan my pa wat nie daar was nie, sou ek moontlik ’n heel ander mens gewees het. Die rol van ’n pa is noodsaaklik, maar op die ou end van die dag is jou realiteit wat jy daarvan maak. Jy het twee voete gekry om op te staan, gebruik dit.
Hier is ek saam met die jeug in Prins Albert tydens die LeesFees verlede jaar:
Ons kinders is die toekoms en ons die voorbeeld. Kom ons wees ’n inspirasie vir mekaar, kom ons wees lief vir mekaar. Daar is baie jongmense wat grootword sonder ’n pa. Ons kort meer voorbeelde van sterk mans in ons gemeenskappe. Nie almal het oupa’s wat hulle die weg kan wys nie.
Kom ons gesels!
Ek wil graag meer van julle hoor!
As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook | YOMA
Twitter | @YOMAIsAfrikaans
Instagram | @claudiawitbooi