Dis hartseer vir my om aan te kondig dat hierdie my laaste blog-inskrywing vir rooi rose is. Ek is ewig dankbaar vir die platform wat my toegelaat het om my reis tot ma-wees met Suid-Afrika te deel en die lesers tydens die proses beter te leer ken. Ek hoop ek kon julle inspireer om ook jul storie te deel. Vandag deel ek die heel beste nuus … my kleinding is hier!
Ek is smoorverlief! Die liefde vir my kleinding is so rein dat dit my skoon was. Ek val op my knieë en lig my hande na Bo vir my groot geskenk. Soos om suurstof met jou kaal hande te probeer versamel, vind ek dit moeilik om die mooiheid hiervan in woorde vas te vang. Ek is so dankbaar dat ons albei veilig aan die ander kant uitgekom het, want tydens kraam staan mens werklik met een voet in die graf. Dit was seker een van die mees vreesaanjaende, pynvolle en heiligste ervaringe van my lewe.
Soos om suurstof met jou kaal hande te probeer versamel, vind ek dit moeilik om die mooiheid hiervan in woorde vas te vang
Ek het op Maandag, 18 Desember 2017, hospitaal toe gegaan sodat die dokters ’n ondersoek kon uitvoer om seker te maak alles is nog oukei met my en baba, maar toe hou hulle my daar as gevolg van hoë bloeddruk. Die volgende dag het hulle my “induce” met ’n pilletjie wat kraampyne veroorsaak. As jy ná 4 ure nog nie in kraam is nie, kry jy weer ’n gedeelte van die pilletjie. Ek het gelukkige net een gekry, want na 4 ure het ek begin ontsluit.
Ek was ook vir ongeveer 4 ure in kraam. Die verpleegsters was verbaas omdat ek volgens hulle so vinnig ontlsuit het, maar dit het soos ’n ewigheid gevoel. Ek kan amper nie glo dat daar so ’n erge pyn soos dit bestaan en dat mens oorleef om die storie te kan vertel nie. Die lewe is werklik ’n voorreg. Ek voel soos ’n superhero, soos Goku en Vegeta. Na ure se ondraaglike pyn hoor ek toe vir die eerste keer hoe my kleinding huil. Dis asof net ek, baba, my man en God in daardie oomblik saam was. Toe ek my kop lig en my kind sien, het ek begin huil. Ek was terselfdertyd so moeg en verlig, so verlief en dankbaar dat alles goed verloop het.
My kleinding is op 19 Desember gebore en my lewe het oombliklik verander, trane van dankbaarheid onderstreep dit en ek koester my inspirasie in my arms.
As ek nou na my Moedertaal-album luister of selfs my lirieke in my kop terugspeel, is daar baie dinge wat ’n nuwe betekenis gekry het. Asof dit wat ek reeds geweet en verstaan het my op ’n dieper vlak tref.
Lirieke uit My blom:
“Jy sluk aan die sap van my bas,
Dis prentjiemooi en ek dien as eregas.
Dis ’n skelmstreek wat hier deurweek
Want ek snak na lug as jy my asem steel.
Jy’s ’n helder lig,
As jy opkyk draai die son selfs haar gesig.
Jy is my blom.”
Ek speel van die liedere op die album vir my kleinding en dis sigbaar dat die dingetjie die musiek herken. Dit is so mooi om te weet dat ons dit saam geskryf en opgeneem het. Dit help my kind ook om lekker te slaap en rustig te wees. Ek hoop dat hierdie album dieselfde sal beteken vir die duisende swanger vroue daar buite. Dis veral lekker om te weet dat ek so ’n mooi ervaring met miljoene vroue kan deel, ek het groot respek vir julle.
Die wete dat dinge interessanter gaan raak wat die groei van baba betref, is vir my heel opwindend! Met die week wat verby is, kon ek die moegheid op my gesig sien, maar gelukkig help MUD-grimering my om vars te lyk gedurende die dag! Dit beteken die wêreld vir my om ’n ambassadeur vir MUD te wees, veral omdat hulle ’n swanger vrou toegelaat het om as ambassadeur te dien – dankie dat julle in my glo. Ek geniet die gerustheid om te weet dat die produkte natuurlik is en geen skade aan kleinding tydens my swangerskap kon aandoen nie. Dankie ook aan TICIA dat julle seker maak ek lyk altyd op my beste – die pens was nogals ’n lekker aanpassing maar met julle hulp kon ek betaamlik voorkom.
Met elke begin is daar ’n einde en aan die einde wag ’n nuwe begin. Die reis is aaneenlopend en ek jubel in my binneste. Ek is so gereed vir ma-wees, ek was in groot afwagting vir hierdie oomblik en dit het uiteindelik aangebreek. Vir nou sterk ek nog aan en geniet die bietjie rus in George by familie. Vanaf einde Januarie begin dinge weer heelwat op te tel en dan wil ek gereed wees. Ek kan nie wag om meer te gesels oor my kleinding en my album nie. Julle kan ook uitkyk vir die musiekvideo van my eerste enkelsnit ‘Tsunami’ op my Moedertaal-album. Die video sal in Januarie die lig sien en ek hoop julle geniet dit so baie soos ek. Dankie vir al jul ondersteuning en liefde, ek sal dit nog sommer lank saam met my dra en eendag met my kleinding deel. Mag julle ’n geseënde 2018 hê. Ek hoop dat alles waarvoor julle hoop en wil bereik, sal realiseer. Hou aan om aan te hou en in jouself te glo.
Hou aan om aan te hou en in jouself te glo
My kleinding het reeds so baie geskenke en mooi seënwense ontvang. Ek sê dankie daarvoor, dit beteken baie vir ons! Dankie ook aan Danielle Jeneria vir die pragtige Kersgeskenk aan ons kleinding. Hierdie dame het haar eie klerereeks, dis alles natuurlik en word van hemp-materiaal gemaak. Ek kan nie wag om my kleinding in hierdie African Royalty-reeks te beklee nie. Kyk net hoe oulik …
My kleinding is baie rustig en ek dink mens se gemoed tydens swangerskap is verskriklik belangrik want alles wat jy eet, dink en voel word aan baba oorgedra. Jy moet letterlik op elke dingetjie fokus om seker te maak dat baba die heel beste kry. God was ons genadig, alles het verloop soos dit moes en dit was goed!
As jy hierdie blog geniet het, deel dit gerus met vriende en tag my op:
Facebook – YOMA
Twitter – @YOMAIsAfrikaans
Instagram – Claudia Witbooi/YOMA
Maak ook seker dat julle my pages fyn dophou vir nuwe verwikkelinge!