Sy is in lewende lywe selfs kleiner en fyner as wat sy op foto’s lyk. My eerste indruk van haar, versterk deur haar sagte stem, was een van broosheid. Gentle, was my eerste gedagte.
Maar moenie ’n fout maak nie, onder haar fyn broosheid is Yolande Korkie (45) ’n ystervrou wat van die ergste fisieke en emosionele ontbering denkbaar oorleef het.
Tog dra sy steeds haar omgeehart op haar mou oor die mense van Jemen, al was dit die land waar sy vir net meer as ’n jaar, en haar oorlede man, Pierre, vir 558 dae aangehou is nadat ’n groepering van die terreurgroep Al Qaeda hulle ontvoer het.
“Dit was nie die Jemeniete wat ons ontvoer het nie, dit was Al Qaeda,” sê sy ferm.
Die Suid-Afrikaanse noodlenigingsorganisasie Gift of the Givers se Jemeense verteenwoordiger, Anas alHamati, het destyds intensiewe onderhandelinge met Al Qaeda gevoer om Pierre vrygelaat te kry. Maar hy is etlike ure voor sy vrylating doodgeskiet. Wie die snellers getrek het wat Pierre en die Amerikaanse fotojoernalis Luke Somers se dood veroorsaak het, sal niemand seker ooit weet nie, want alles het gebeur in ’n mislukte bevrydingspoging deur die Navy Seals, ’n elite-eenheid van die Amerikaanse weermag.
Tog verklaar sy steeds onomwonde: “As ek nou terugkyk, sien ek God se hand in alles, ook die ontvoering. Die ontvoering was nie noodwendig Sy wil nie, maar Hy het my en Pierre toegerus om dit te kon deurstaan. God kan selfs dit wat vir boosheid beplan is, omdraai in iets goed.”
Die Korkies is in 2007 Jemen toe om onder die arm Jemeniete te gaan werk. Pierre, wat 28 jaar lank ’n onderwyser aan Grey Kollege in Bloemfontein was, was diep gelowig en het geglo God wil hê hy moet ander help.
“Die groot nood in Jemen het hom diep geraak. Naas Afganistan is dit seker die armste land in die Midde-Ooste. Toe ons soontoe is, was dit redelik stabiel daar en daar was selfs ’n mate van toerisme.
“Pierre was 49, ouer en wyser, en beslis nie ’n impulsiewe man nie. Hy het die saak goed deurdink. Ons is in 2007 vir ’n maand Jemen toe om die situasie te gaan bekyk. Toe het ons ons harte op die land en sy mense verloor.”
Pierre, Yolande en die kinders, Pieter-Ben, wat in 2015 matriek geskryf het, en Lize-Mari (nou 15), het destyds as gesin saam besluit om te gaan.
“Ons wou die mense gaan help – hulle na liggaam, siel en gees gaan dien. Ek het Engels gegee, perde afgerig vir ’n plaaslike sjeik en ook soms in die plaaslike hospitaal vrywilligerswerk gedoen. Pierre het boere met landbouraad bygestaan. Vir ons was ons roeping sterker as die potensiële gevaar. Waar in die wêreld is dit vandag immers werklik veilig?”
Hulle het ook veiligheidsmaatreëls ingestel, soos ’n wag by hul huis. “Ons het ook vir onsself gesê ons kom terug as dit lyk asof dinge in Jemen te onveilig raak.”
Dinge hét begin verander in die nasleep van die Arabiese Lente wat sedert Desember 2010 tot heelwat opstande en burgeroorloë in talle Arabiese lande gelei het. Daar was revolusie en oorlog in die lug, en Al Qaeda het sy tentakels ook in Jemen ingeslaan sodat dié arm land op die Amerikaanse radar was.
“Ons het so lief geword vir die mense van Jemen dat dit regtig nie maklik was om net op te pak nie. Maar ons het planne gemaak om tydelik terug te kom totdat die revolusiestof gaan lê het.”
Hul paspoorte het in daardie tyd onverklaarbaar in die Jemeense burokrasie “verdwyn” en Pierre kon nie eens sy sterwende pa in Suid-Afrika kom groet nie. Invloedryke Jemeense vriende het intussen gehelp om die paspoorte op te spoor sodat Pierre minstens sy pa se begrafnis kon bywoon. Ironies genoeg is die Korkies ontvoer toe hulle op pad was om hul paspoorte te gaan afhaal.
Die middag van 27 Mei 2013 is vir altyd in die Korkies se geheue ingegraveer. Dis die dag waarop hul sorgvrye, hegte gesin vir altyd wreed uitmekaar geruk is.
By die terugkyk het die Korkies besef daar is lank en deeglik aan hul ontvoering beplan. Hul ontvoerders het verkeerdelik vermoed hulle is Amerikaners omdat sy in Amerika gebore is, iets wat iemand net op haar paspoort sou kon sien. Amerikaners was die vyand wat Al Qaeda betref, en gedurende hul aanhouding moes sy oor en oor en tevergeefs verduidelik dat haar ouers na Suid-Afrika gekom het toe sy maar nog ’n baba was. Sy is in hart en siel ’n Suid-Afrikaner, en boonop ’n Afrikaans-sprekende een. Maar haar ontvoerders wou niks weet nie.
“Al Qaeda se doel is om Westerlinge van invloedryke lande soos Brittanje en Amerika te ontvoer sodat hulle oor ’n groot losprys of die uitruil van gevangenes kan onderhandel. Dis bloot ’n sake-transaksie.” (Die geld word gewoonlik gebruik om wapens te koop.)
Niemand wou die Korkies glo dat die Suid-Afrikaanse regering nie hul losprys sou betaal nie. Die meeste lande, Suid-Afrika ingesluit, se amptelike beleid is dat geen onderhandelinge oor ontvoerings en lospryse gevoer word nie. Met ons swak wisselkoers (destyds was dit R11 vir een dollar) was die bedrag van drie miljoen dollar boonop byna onbekostigbaar.
Yolande het ná haar vrylating vir die eerste keer gehoor hoeveel die losprys was.
Was dit nie vir die ingryping van Gift of the Givers nie, was Yolande dalk nie vandag hier om haar en Pierre se verhaal te vertel nie. Anas alHamati, die organisasie se Jemeense verteenwoordiger, het letterlik sy lewe gewaag om oor hul vrylating te onderhandel, en 228 dae later, op 10 Januarie 2014, is Yolande vrygelaat. Sonder ’n losprys.
Later het Anas weer oor Pierre se vrylating begin onderhandel.
Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het Yolande ingelig om van 6 Desember 2014 af gereed te wees om Pierre iewers te ontmoet. Maar toe kom die skoknuus: Pierre is dood. Hy was aan Luke Somers vasgeketting. Yolande en die kinders het nie eens geweet hulle word saam aangehou nie.
Op die nuuskonferensie ná Pierre se dood het Yolande die wêreld verstom deur te verklaar: “Ons kies vandag om te vergewe. Ons kies vandag om lief te hê.”
Sy en die kinders mis Pierre elke enkele dag, vertel die dapper ma wat deesdae aan die Universiteit van die Vrystaat klasgee. (Sy het ’n meestersgraad in sielkunde.)
Dit was vir haar bitter traumaties om van haar kinders geskei te wees, en ewe verskriklik om sonder vooraf waarskuwing van Pierre geskei te word. Die ontvoerders het die Korkies valslik onder die indruk gebring dat Pierre ook vrygelaat word, maar dat hulle net in afsonderlike voertuie vervoer sou word ter wille van hul veiligheid.
Nie sy of die kinders kon ooit vir Pierre groet nie, en dit bly swaar.
“Ek gee nie om om dit vir mense te sê nie. Ons verlang. Ons het seer. Ons is net mense en ons het lief. Baie mense dink Christene mag nie swaarkry nie, maar dit is nie so nie.”
Op ’n manier troos Pierre se nalatenskap hulle tog, sy voorbeeld van liefde en deernis en ’n onwrikbare geloof.
“Sy morele gesag is steeds oor ons,” sê Yolande sag. “As ek nie weet wat om te doen nie, sal my kinders my gou herinner: wat sou Pappa in hierdie situasie doen?”
Sy skryf openlik en aangrypend in haar boek, eenvoudig getitel 558 dae, oor haar en Pierre se wanhoop en twyfel gedurende hul aanhouding.
“Ek kan my op niks roem nie. Alles wat ek vandag is, is God se werk. Hy het ons in staat gestel om deur die aanhouding te kom, want uit eie krag en met ons menslike emosies sou ons dit nie kon regkry nie. Soms het God onbereikbaar ver gevoel, en dan het ek en Pierre vir mekaar in gebed ingetree.”
Hulle het mekaar nie net in geloof regop gehou nie, maar Yolande moes ook pleit dat Pierre, wat gesukkel het met ’n liesbreuk en ander gesondheidsprobleme, mediese hulp kry. Hy het uiteindelik in aanhouding doof geword. Uit van syjoernale wat die Seals ná die mislukte reddingspoging aan haar terugbesorg het, kon sy aflei hoe swaar hy ná haar vrylating gekry het. Maar daarmee moes sy ook leer vrede maak. Want sy weet: die Here was ook daar by Pierre.
Sy het die boek, wat sy in Engels geskryf het en wat Maretha Maartens in Afrikaans vertaal het, geskryf om hoop te bring. Vir haar was dit terapeuties, en nog ’n intense stuk pad met die Here.
“Ek het die ongelooflikste detail onthou terwyl ek geskryf het. God het dit aan my openbaar, want dis goed wat ek weens die trauma nie sou kon onthou nie.”
Daardie verskriklike 558 dae het haar baie dinge geleer, soos dat jy nie altyd beheer het oor jou lewe nie, maar dat jy ’nkeuse het in hoe jy dit gaan hanteer.
“Ons word wat ons is deur keuses. Jy kan kies hoe jy vandag aanpak, hoe jy gaan leef, hoe jy teenoor die mense om jou gaan optree, selfs al is hulle jou ontvoerders. Onthou, God het selfs ontvoerders geskape – niemand van ons is per ongeluk op hierdie aarde nie.”
Die menslikheid van die Jemeniete bly haar by, maar ook die armoede. “Ons het selfs menslikheid by van ons ontvoerders beleef. Maar was ek of jy al ooit so honger en so arm dat jy selfs iemand sou help ontvoer in die hoop op ’n beter lewe?”
Haar geloof het verdiep, verander.
“Vandag weet ek dat ek nooit weer die mens wil wees wat ek voor die ontvoering was nie. Ek het geleer dat God nie noodwendig altyd antwoord soos wat ons wil hê nie. Hy het ’n Ewigheidsperspektief. Ons nie. Ons kan God nie in enige boksie inpas nie. Ons ontvoering het my geleer dat ons konsep van Hom nie naastenby groot genoeg is om Hom te akkommodeer nie. In swaar tye leer jy die meeste van God.”
Trauma, vertel sy, is soos ’n bril. “Dan sien jy baie diep. Jy sien God, jy sien jouself, jy sien mekaar. Ek en Pierre het in ons aanhouding die kans gehad om nader aan mekaar te wees as ooit tevore in ons huwelik. ’n Mens sien ook jou eie doel op aarde anders.”
Wat is haar doel? “Dalk moes ek hierdeur gaan om met mense te kan praat oor God sodat hulle kan hoor dat God ons kraggee vir wat ook al op ons pad is. Ek weet vandag dat die ontvoering nie oor my en Pierre gegaan het nie, maar oor ’n groter saak.”
Sy en Pieter-Ben en Lize-Mari hou van sport. Yolande ry nie meer perd soos voor die ontvoering nie, maar die kinders het haar uitgedaag om saam met hulle crossfit te doen. En, sê sy laggend, partykeer is almal maar die volgende oggend lekker styf. Hulle was die afgelope Desembervakansie weer op ’n uitreikaksie in die Midde-Ooste, maar in Jemen sal sy nooit weer kom nie.
Yolande het ’n pastorale terapeut gespreek om weer te probeer heel word. “’n Mens moet na jou liggaam, siel én gees omsien. Ek moet na myself kyk om behoorlik na my kinders te kan kyk. Gedurende ons ontvoering was hulle ons grootste bekommernis.” Haar oë skiet vol trane toe sy vertel van hul weersiens ná haar vrylating. “Hulle is nou net my verantwoordelikheid. Met watter voorbeeld wil ek hulle eendag agterlaat?”
*558 dae word deur CUM Uitgewers uitgegee en kos R299,95; vanaf 20 Februarie landwyd in boekwinkels beskikbaar.