Deur Margaret Gardiner
Ek was op soek na ’n bekostigbare hotel in Brussel, België, tydens ’n vinnige sakereis en het toe op The Plaza Hotel besluit. My kennis van die Plaza Hotel oorkant Central Park in New York het in my gedagtes opgekom. Ek het my ’n elegante miernes van bedrywighede voorgestel. Ek was wel verras en verheug dat dit goedkoper as die New York-weergawe was.
Die hotel se personeellede het uit hul pad gegaan om behulpsaam te wees. Daar was ’n pragtige kroeg, hoewel ek dit nie juis vol gesien het nie. Die hotel was nooit oorvol nie en tog is ek met ’n woelige groep klante begroet, wat uit sakemense tot gesinne bestaan het, toe ek ’n heerlike kontinentale ontbyt geniet het, wat by my kamer se prys ingesluit was.
Die ontvangspersoneel het my gehelp om tot by die Gare Du Noord uit te kom sodat ek ander stede kon verken. So in die verbyloop het hulle genoem dat ek dalk eerder ’n ander treinstasie, die een nader aan Brussel se middestad, moes gebruik – veral as ek laat gaan terugkom.
Ek het na my kaart gekyk. Die hoofstasie was 10 minute van die hotel af terwyl die Gare Du Noord ’n vinnige 4 minute was. Ek het by ’n plaaslike winkel gestop om ’n botteltjie water te koop en die man agter die toonbank het gebloos toe hy my geld gevat het.
Ek is wat ’n mens beleefd na sal verwys as ’n volwasse vrou. Mans bloos nie meer in my teenwoordigheid nie. Waarom nou? My vlugvoosbrein het die euro’s op die toonbank uitgegooi en een het afgerol. Die man het gebuk om dit op te tel en ek het ’n interessante tentoonstelling van foto’s van die maan gesien wat teen die muur vasgesteek is. Hoe opvoedkundig!
Ek het dit van naderby bekyk. Dit was soos ’n Rorscach-toets. Ek kon nie lekker uitmaak waarna ek nou eintlik kyk nie. Dit het gelyk soos een van daardie kraters wat jy op die maan sien nadat daar ’n landing was; dalk was dit die oppervlak van ’n planeet? Ek het probeer agterkom watter planeet dit was waarna ek besig was om te kyk en het toevallig na die omringende foto’s gekyk. O my aarde!
O, my liewe genade! Die ou agter die toonbank het weer verskyn en het my geskokte uitdrukking gesien. Hy’t weer gebloos. Hierdie keer het ek verstaan hoekom. En ek het ook gebloos.
Dit was geen maankrater nie. Dit was ’n liggaamsdeel en dit was een of ander hoekkafee wat melk, water, bier en seksueel eksplisiete voyeurisme verkoop het. Ek het my oë neergeslaan, my water gegryp en uitgehol. Op die sypaadjie het ek die winkels van naderby bekyk en iets besef wat my vlugvoosbrein wat steeds nege uur agter, in Amerika was, nie voorheen opgemerk het nie.
Smaaklose vroue-onderklere was in al die vensters vertoon. Daar was ’n onguurheid in die atmosfeer. Wat ek in my vervaagde visie as “kleurryk” geregistreer het, was in werklikheid die rant van ’n opdringerige rooiligdistrik!
Twee aande later het katte se gekerm my wakker gemaak. Dit was aanhoudend en ek kon nie verder slaap nie. Ek besef toe dis ’n vrou wat in ’n ander taal huil. Was sy besig om aangeval te word? Ek het opgespring na die elegante langvensters wat op tipies Franse styl oopmaak, en het uitgeloer. ’n Klomp jongmans het saamgedrom. Hulle het gelag en ’n spektakel op hul selfone opgeneem.
Ek het geloer en en ’n klein vroutjie, wat ’n hajib gedra het, in die middel van die oorgang gesien staan. Voor haar was daar ’n effense groter man. In ’n huilende stem was sy besig om haar storie met die wêreld te deel terwyl die man homself probeer kleinmaak het en dalk wou verdwyn.
Uiteindelik het dit duidelik geword dat die vrou haar man in die rooiligdistrik gevang het en was besig om met hom in die openbaar te raas – tot die verbygaande jongelinge se groot vermaak. Die openbare vernedering het vir ’n goeie 45 minute voortgeduur.
Die gebied was voorheen heel skaflik, maar daar was ’n instroming van immigrante soos Europa die bewaarplek vir al die wêreld se ellendes geraak het en dit het die gees van hierdie plek kom verander.
Ek het gemerk vir 8 minute se stap was die straat meestal vol mans tot die omgewing begin verander het en daar ’n meer verteenwoordigde gemeenskap teenwoordig was, wat die verstommende skoonheid en kultuur gereflekteer het wat in die stad te vinde is. Ek het ’n knoop in my oor gemaak om voor donker terug by die hotel te wees.
Dis nie dat die mans enigiets gedoen het nie. Dit was meer in hoe hulle kyk. Ek het my oë neergeslaan gehou en vinnig gestap. Dis snaaks hoe ’n vrou minder alleen voel wanneer daar ander vroue ook teenwoordig is.
Aangesien ek saans gewerk het, moes ek my hotel – wat ’n absolute veilige hawe van doeltreffendheid en diens was – rondom 19:00 verlaat en teen middernag terugkeer. Ek het al om die wêreld heen gereis, en gewoonlik gebruik ek plaaslike vervoer. Die ontvangspersoneel het voorgestel ek gebruik ’n taxi. Sy woorde was: “Dis nie dat dit gevaarlik is nie, maar dis beter om ’n huurmotor te neem.”
Ek het rondgekyk en die situasie gade geslaan. Die strate was steeds besig. Ek sou my kanse met die trein vat. Ek hou daarvan om in die skare te wees om ’n gevoel van die plaaslike leefstyl te kry. Die perron was besig en ek het ’n plek met baie vroue gekies – een met ’n babastootwaentjie. Veiligheid in getalle, soos die Engelse sê. En niemand sou met ’n vrou en haar baba mors nie. Ek was bly ek het die trein gewaag.
By die volgende stasie moes almal afklim. Dit was net ek en nog ’n tingerige tiener wat agter haar hoodie in die verste hoekie weggekruip het. Stil. Ek was in die trein – wat kon verkeerd loop? Ek was op my hoede.
Soos ons by die stasie weggetrek het, het ek mans gemerk wat met ’n inspuiting oor ’n gekreukelde stukkie foelie gebuk het. Die trein het versnel, die helder ligte het in flikkerende oranje verander en ’n hawelose man het in die kajuit rondgeslinger. Hy was vuil en maer soos iemand wat ondervoed is en met dwelms deurmekaar was.
Hy het met ’n uitgesteekte hand oor my geleun. Die reuk was walglik. Ek het die klein vroutjie van die vorige aand nagemaak en hard geskreeu: “Nee! Gaan weg!” Hy’t na die tiener gegaan en ek het probeer dink wat ek as wapen kan gebruik sou hy haar bydam. Sy’t dieper haar hoodie oor haar gesig getrek en ná ’n ruk het hy geloop. Die res van die uitstappie het niks noemenswaardig opgelewer nie, maar ek het nooit weer die trein snags gevat nie.
Rondom middernag voor my vertrek het ek na die ontvangspersoneel gegaan om my huurmotor te bevestig. ’n Jong man was in ’n stoel met twee polisiemanne voor hom. Hy is geslaan en besteel. Die polisie se reaksie was dat die man dronk was.
My vriendin het ’n hotel in die middestad gekry. Haar treinroete het direk gegaan na die plek waar ons geleentheid sou plaasvind. Sy het nie sulke kleurryke avonture soos ek beleef nie. My hotel was ruim en doeltreffend. Die personeel – wonderlik. Ek het heelwat treine tydens my besoek aan Brussel geneem en heelwat verken. Die mense was vreeslik behulpsaam en kon nie gawer gewees het nie.
Onthou net: As jy alleen reis, wees op jou hoede. Moenie onverskillig met ander se waarskuwings wees nie en as jy vir ’n hotel soek, kies een in die middestad.
Volg Margaret op Facebook, Twitter en Instagram!
Lees ook: WEN een van twee kaste van De Krans se portstylwyne!