Van die mees outentieke en heerlikste wynkelders is gestrooi oor die eiland van Hvar, en om by elkeen ‘n draai te gaan maak is ‘n pure plesier waarvoor ‘n goeie lewer en nugter drywer ‘n noodsaaklikheid is. ‘n Baie dapper navorser van hierdie wynplekke, genaamd Paul Bradbury, het al baie hieroor geblog en sover ook sy lewer oorleef. Lees gerus www.Total-Hvar.com. Ek gaan nie sy harde werk oordoen nie en my bepaal by die drinkgedeelte – sonder ‘n drywer.
Al die restaurante en café/bars bedien tuisgemaakte crno vino of bjelo vino (rooi of wit wyn) en dit is meestal ‘n goeie opsie as jy van die “local flavours” wil proe. Wees egter net gewaarsku: party van hierdie huiskonkoksies kan verf “strip” of is soms bietjie verdun met water. Dit is ‘n goeie idee om eers vir ‘n proeglasie te vra voor jy ‘n kraffie bestel. Gelukkig het die meeste van Hvar se kelners ‘n vreeslike swaar hand en die proeglas is gewoonlik ‘n reuse wynglas wat tjokvol gegooi is. (Zagreb se restaurateurs neem asb kennis…. 100ml is ‘n proetjie, nie ‘n glas wyn nie.) Partykeer bestel ek maar net ‘n tweede glas om nie te lyk of ek alewig verniet wil drink nie.
As deeltydse inwoner van die dorpie Stari Grad het ek al die heerlikste verrassings ontdek: in my buurman se agterplaas uit ‘n groot houtvat; die oulikste stowwerige konobas (kelderverdiepings van huise) en wynwinkeltjies wat staaltenke vol wyn huisves. By laasgenoemde daag jy op met jou 2 liter Coke bottel en wag vir die rooipers straaltjie om die bottel te vul. So terwyl jy wag vertel hy vir jou van die variëteit en sy probleme tydens die laaste druiweseisoen en laat jou ook proe aan die ander wyne. Dis egter by die huise wat vino, Prosek en witblits Travaritsa op ‘n stukkie kaartbord in ‘n bewerige handskrif adverteer waar jy inglip en bedien word deur ou omies met knobbellitte wat hul eie wyn maak. Die roesmoes van glasbottels staan op die kombuistafel uitgestal en jy kry ‘n lekseltjie van alles uit ‘n ou gechipte shotglasie. So met die uitstap koop jy sommer ook van die aartappels wat in ‘n bak by die deur lê – nog vol grond van vanoggend se uithaal.
Nog ‘n skelmstreek, om my SA besoekers vir ewig trou te laat sweer aan Stari Grad, is om hulle teen sonsondergang te neem na die dowe omie se Vino Place oorkant die seiljaghawe. Die ritueel is om net buite die klein klipgebou op houtbankies te sit – met ‘n klein glasie brandsoet Prosek, net so uit die vat. Die soet smaak van rosyntjies-in-die-son en sterk alkohol kielie jou tong en jy besef dat die uitsig voor jou van seiljagte wat wasgoed uithang, sundowners drink op die dek en ‘n oranjerooi horison, iets is om vir ewig vas te vang in die geestesoog.
Die dowe omie neem al solank ek SG besoek (10 jaar) elke keer ‘n foto van my voor die deur en die aanskoue van my eie fisieke aftakeling oor jare heen is al aanmoediging wat ek nodig het om by elke besoek nog ‘n tweede of derde glasie te drink.
Om die vele wynkelders (regtes) te besoek bied uitstekende proesels wyn – wyn wat al wêreldwyd pryse gewen het – maar dit is in die vate van elke huishouding wat die smaak van oorspronklikheid vasgevang word. Dit is hier waar jy versigtig aan jou stoel vashou as ‘n glasie Travaritsa (witblits) aangebied word. Dit is wanneer jy ‘n glasie huiswyn, -Prosek of –Pelinkovac aangebied word dat jy WEET: ek is nou amptelik deel van die locals en ‘n vriend/in van hierdie huis.