Word uitstel afstel? Die gevolge van uitstel

Word uitstel afstel? Die gevolge van uitstel deur Anys Rossouw. Hooffoto: pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ons vermy so dikwels die dinge wat ons weet ons moet of behoort te doen. Of dit nou ’n belangrike stuk werk is waarmee jy eers ter elfder ure begin, of jy uitstel om iemand te bel, ’n probleem op te volg, dokumente te liasseer, die garage reg te pak, of sover te kom om daardie doktersondersoek te bespreek.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Om uit te stel is so oud soos die berge. In die tyd van Sokrates en Aristoteles was daar reeds ’n woord daarvoor: “akrasia”. Dit het beteken om teenstrydig met jou beterwete en oordeel op te tree, om uit te stel of nie werklik selfbeheer te hê nie.

Uitstellers gebruik verskillende ontkenningstegnieke om hul geneigdheid om uit te stel te rasionaliseer. Jy hoor hóé besig hulle is. Hulle probeer gewoonlik hulself en ander oortuig dat dit wat hulle wel doen, net so belangrik is as die take wat hulle eintlik moes doen, of skryf dit toe aan omstandighede buite hul beheer. Hulle sal hulself ook graag met ander vergelyk wat nog minder as hulle daartoe in staat is. Of hulle gebruik humor om hul uitstellery te versag of te verbloem. Intussen vermy hulle dit wat gedoen moet word en ontvlug ure op sosiale media, met elektroniese speletjies, kuier, inkopies doen … ’n Uitstappie winkels toe wat ’n halfuur moes neem, duur drie uur; die vinnige opspoor van ’n prys op die Internet lei tot ure se nalees oor onverwante kwessies.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Uitstel moet van luiheid onderskei word. ’n Lui mens is passief, apaties en onwillig om dinge te doen. Uitstel, aan die ander kant, is ’n aktiewe proses, waar die uitsteller net nie fokus op take wat prioriteit behoort te geniet nie, maar dit vermy deur intussen eers ander dinge te doen. Dit gebeur dikwels dat mense ’n bietjie uitstel net voor ’n tyd van intense produktiwiteit.

Maar doen jy dit so dikwels dat dit jou produktiwiteit, loopbaan, lewe of verhoudings kniehalter?

Lees ook: Tydsbestuur: Kry meer uit jou dag

Mense stel om baie redes take uit

Aan die wortel van uitstel, lê dinge soos mense se persoonlikheid, vrese, motivering, of gewoontes. Take wat as vervelig, onnodig of oorweldigend gesien word, lei ook tot uitstel. Sommige mense stel ook take uit en kom nie verantwoordelikhede na nie om op ’n passief-aggressiewe wyse weerstand te bied teen die eise wat ander aan hulle stel. Hulle sien nie kans vir konflik nie, en belowe hul hulp, of stem in, maar doen dit dan nie, of sleep hul voete.

Uitstellers, veral diegene wat impulsief van aard is, is dikwels ingestel op korttermyn-plesier en -gewin, en ignoreer die lang-termyn gevolge van die vermyding. Met die uitstel van byvoorbeeld ’n ongemaklike telefoonoproep of ’n taak wat oorweldigend voel, probeer mense hul stres en ongemak verminder. Die ironie is dat die uitstel juis hul stres verhoog en terselfdertyd die selfvertroue verlaag wat nodig is om dit af te handel. Sodra jy jou take afgehandel het, is jou stres ook minder.

Uitstel kan meer as net ’n slegte gewoonte wees. Dis dikwels simptomaties van behandelbare mediese toestande, soos aandagtekortsindroom, obsessiewe kompulsiwiteit, angsversteurings, depressie, hormoontekorte, en meer.

Die stigma wat aan uitstellers kleef, gaan oor uitstellers wat werklik ’n probleem het en nié by spertye hou nie, nié doelwitte het en nie beplan nie. Hulle word selfs uitgekryt as onverantwoordelik, lui en dat hulle slap en ambisieloos is en geen self-dissipline het nie.

Skuldgevoelens tot die mate van selfverlamming is seker die grootste gevolg van ’n uitstellery. Dit laat mense ook twyfel aan hul bevoegdheid en vermoë om sukses te behaal. Dit verlaag hul selfvertroue en selfwaarde en steel dikwels hul geluk, verhoudings en geleenthede en selfs die tyd om sorgeloos te kan ontspan. In hul agterkop is daar altyd skuldgevoelens, want daar is altyd nog iets belangriks wat hulle eintlik moes doen.

Marnus, ’n selferkende uitsteller, vertel wat uitstel aan sy lewe doen. “Dit maak my, maar veral my vrou, gedaan – daardie klomp goed wat nie klaarkom nie. Ek werk gereeld naarstigtelik tot watter tyd van die nag, of naweke. Ons vakansie is al telkens uitgestel oor projekte by die werk wat ek net nie afhandel nie. Volgens my vrou is die huis verwaarloos. Daar is lekkende krane, lendelam kaste, elektriese probleme … Ander projekte kom net nie klaar nie, soos my doktorsgraad waaraan ek al langer as agt jaar werk, ’n sonkrag-warmwaterstelsel vir die huis en die badkamer wat ek ’n jaar gelede begin verbeter het. Dit lei tot soveel konflik. My vrou voel ek gee nie genoeg om nie en die dinge is nie vir my ’n prioriteit nie. Sy voel ek hou nie by my beloftes nie, en sy trek gedurig aan die kortste ent. Sy wou al ’n bouer kry om van die projekte klaar te maak en herstelwerk te doen, maar ek weier. Ek is gewoonlik nie gelukkig met die gehalte van die werk nie en weet dat ek dit netjieser en beter kan doen. Dit maak Anet net nog ongelukkiger.”

Baie suksesvolle uitstellers steek hul gewoonte weg oor ander se kritiek, veroordeling en negatiewe evaluering daarvan. Uitstellers moet dikwels hoor hulle het ’n patologiese probleem, is onverantwoordelik, lui, impulsief, of het swak selfdissipline. Tog doen baie sperdatumgedrewe mense met sukses wat nodig is.

Spertyddruk verhoog sulke mense se fokus, energie, konsentrasie en motivering. Hulle gedy onder die druk en ervaar hulself dan as doeltreffend. Hul uitsteltyd funksioneer as ’n inkubasietydperk waarin hulle planne en idees oordink en verwerk. Wanneer hulle wel begin, het hulle al ’n redelike, uitgewerkte idee of plan.

Mense stel uit omdat hul brein op daardie oomblik die beloning van die oomblik hoër ag as die uitgestelde beloning van eendag of die toekoms. Jou eendag-self stel doelwitte, soos om maer te wees, maar jou vandag-self moet nee sê vir die sjokolade, of nou gaan werk of studeer.

Vir baie uitstellers is die grootste probleem nie die doen nie, maar om te begin. Hul motivering kom eers ná hulle begin het en dan geniet hulle dit eintlik en voel goed oor wat hulle doen.

Katy Milkman van die Universiteit van Pennsilvanië sê jy moet gedrag wat op lang termyn goed vir jou is, aan onmiddellike belonings koppel. Jy mag net iets doen waaroor jy gaande is terwyl jy besig is met die ding wat jy so aanhou uitstel. Jy kan byvoorbeeld na jou gunsteling-musiek luister terwyl jy kaste regpak, of jou gunsteling TV-program kyk terwyl jy die oefenfiets trap …

As jy uitstel wil vermy, moet jy jou tot bepaalde take verbind. As jy jou tot niks spesifieks verbind nie, gaan alles jou aandag aftrek en in beslag neem. Wêreldleiers op enige gebied het een gemeenskaplike karaktereienskap: fokus op ’n doelwit.

Foto: pexels

Is jy ’n uitsteller?

  • Stel jy sommige dinge onbepaald uit?
  • Fokus jy dikwels so op korttermyn-verpligtinge dat jy nie werklik by belangrike take met langtermyn-konsekwensies uitkom nie?
  • Moet jy gereeld onder groot druk werk omdat jy te laat begin het?
  • Bly sekere take baie lank op jou doen-lysie?
  • Lees jy boodskappe of e-posse meer as een keer sonder om dit dadelik te antwoord?

Stel jy besluite uit?

  • Begin jy met belangrike take en gaan maak dan eers tee, of bel iemand?
  • Bestee jy te veel tyd aan take wat laag op jou prioriteitslys is?
  • Bepaal jou gemoed, of die tyd van die dag jou produktiwiteit?

Soorte uitstellers

  • Die perfeksionis stel te hoë standaarde en onrealistiese verwagtinge en vrees dat haar werk nie goed genoeg is nie. Dus kom min dinge klaar, want dit kan nog beter wees. Daar is altyd nog iets wat jy kan doen. Ander mag nie help nie, want hulle sal dit nie goed genoeg doen nie.
  • Die waaghals of adrenalienverslaafde is op sy beste onder die adrenalien van die laaste minuut se druk. Jy kom eers aan die gang as daar ’n krisis is. Dan is dit deurnag met gefokusde ywer. Om in ’n klein tydjie veel te vermag, versterk jou selfbeeld. As jy hiermee wegkom, raak dit ’n gewoonte. Dit veroorsaak stres vir jou en die mense om jou. Jy en ander besef dat jou werk dikwels beter kon wees as jy net vroeër begin het.
  • Die dromer sukkel om te fokus – daar is net te veel dinge wat jou aandag aftrek. Al jou wonderlike idees, daardie grootse planne … Jy hop van een droom en groot plan na die ander met min om te wys. Jy kom nie by die praktiese uitvoering daarvan uit nie, want jy fokus nie op een ding nie en kom nie by die harde werk uit wat jou planne sal laat realiseer nie.
  • Die kommerkous sukkel om besluite te neem en rigting te kry. ’n Knaende, kermende stemmetjie in jou kop beperk jou: Wat as … ; sê nou net … ; Jou vrese en moontlike katastrofiese scenario’s oorweldig en verlam jou.
  • Die rebel weier op ’n passief-aggressiewe manier om te doen wat ander verwag. Dis ’n passiewe manier van wraak of beheer. Hulle sien verantwoordelikhede of versoeke as opdragte en eise wat hulle passief teenstaan, al het hul daartoe ingestem. As ander iets daaroor sê, hoor hulle dat hulle heeltyd kla of veeleisend is.
  • Die oordoener of pleaser probeer met die beste bedoelings almal tevrede stel, gelukkig hou en niemand teleurstel nie. Jy kan nie grense stel of nee sê nie en het eenvoudig net te veel om in jou beskikbare tyd af te handel. Die skuldgevoelens vreet jou op.
  • Die bedrieër of jabroer belowe oënskynlik en aanvanklik alles, maar lewer nie resultate nie. Sy uitstel is ’n poging om om sy onbevoegdheid of oneerlikheid te versteek.

Foto: pexels

Breek só die uitstelgewoonte

  • Erken dat jy ’n probleem het.
  • Bepaal die funksie, rede, patroon en uitwerking van uitstel in jou lewe. Jy het moontlik die behandeling van ’n professionele persoon nodig.
  • Vergewe jouself vir jou uitstelverlede.
  • Fokus op die doel en voordele van wat jy behoort te doen. Waarom is dit nodig? En nie waarom jy dit uitstel nie.
  • Visualiseer wat jy wil regkry: Met watter houding jy gaan instap en hoe netjies en georden alles om jou gaan wees. Sien hoeveel makliker jy in daardie omgewing gaan funksioneer. Hoe duideliker die beeld of prentjie is, hoe beter is jou kans om dit reg te kry. Sien jouself in die situasie waar jy dit regkry.
  • Prioritiseer. Wat is werklik belangrik? Skryf soos Warren Buffet elke aand vyf kritiese dinge in die volgorde van belangrikheid neer waarop jy die volgende dag gaan fokus. Begin die volgende dag met die eerste taak en maak dit klaar en merk dit af voor jy die tweede taak aanpak. Take wat nie voltooi is nie, gaan na die volgende dag se lys.
  • Beplan en skryf dit in jou dagboek: Wát en hóé jy dit gaan doen. Maak en plak visuele lysies op om jou te herinner en jou vordering aan te toon.
  • Koppel jou doelwit aan ’n bepaalde tydlyn. Laat vaar daardie “Ek sal dit doen wanneer ek tyd het”-benadering. Koppel dit aan ’n bepaalde tyd en hou daarby. Wees realisties oor hoeveel tyd jy nodig het. Beplan skedules, asook ’n tydraamwerk waaraan jy jou vordering kan meet – gebruik die talle elektroniese taak-, tyd- en projekbestuur-toepassings op jou foon of tablet.
  • Plaas positiewe druk op jouself. Vertel vir mense van jou plan en wat jy wanneer gaan doen. Jy wil nie soos ’n mislukking lyk nie!
  • Betrek ander mense: Dis makliker om by ’n plan te hou wanneer jy ’n afspraak met iemand het wat byvoorbeeld saam met jou gaan oefen, of iemand vir wie jy op sekere tye terugvoering oor jou vordering met ’n projek gaan gee.
  • Bestuur die dinge in jou omgewing wat jou fokus steel: Skakel jou foon af of laat ’n moenie steur nie-boodskap; beantwoord en kyk net op sekere tye van die dag na jou e-posboodskappe, ander elektroniese boodskappe en sosiale media.
  • Breek die taak in hanteerbare en haalbare dele op. In die volgende halfuur gaan ek hierdie stukkie leer of doen. Klein suksesse bou momentum, motivering en ’n gevoel van produktiwiteit.
  • Doen die moeilikste dele eerste, of op die tye van die dag wat jy gewoonlik die beste fokus en op jou produktiefste is.
  • Beloon jouself vir gefokusde werk: Ek mag eers weer na sosiale media kyk, uitgaan, koffie drink en meer as ek ’n sekere taak voltooi het, of ’n sekere hoeveelheid werk afgehandel het.
  • Geniet die proses en assosieer plesier met positiewe optrede: “Dis lekker om dit reg en klaar te hê.” “Ek voel goed as ek … ”
  • Fokus op alles wat lekker en mooi is.
  • Onthou die magiese 21 dae-reël: Doen iets vir 21 dae agtereenvolgens en die kans is goed dat jy ’n nuwe gewoonte gevorm het. Sê vir jouself: ek het dit gemaak, dis nou ’n gewoonte!

Lees ook: Is jy altyd laat?

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Kry katte en honde ook Alzheimersiekte?

Kan my kat of hond ook Alzheimersiekte kry? Dis wat jy moet weet oor "canine…

20 hours Gelede

Hoe om die kleredragreëls op uitnodigings te verstaan

Sodra jy dink jy het al die voorskrifte onder die knie, hoor jy daar is…

20 hours Gelede

Is jou kleinding se sintuie oor- of ondersensitief?

Het jy geweet jou baba of peuter moet letterlik leer om sintuiglike inligting te filtreer…

20 hours Gelede

Waatlemoen-pizza met gebraaide feta

Die nuwe (en gesonder!) pizza - in slaai-vorm!

20 hours Gelede

Bessiejellies

Genoeg vir 6 Bestanddele   625 ml (2½ k) tee-en-vrugtesap 30 ml (2 e) gelatienpoeier…

21 hours Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met Len Muller oor sy passie vir musiek en sy gesin

Buiten vir sy uitsonderlike talent as musikant en liedjieskrywer, is Len Muller ook bekend as…

22 hours Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.