Dit is maklik om in vervoering te raak oor waterblommetjies.
Dié varswaterplant het ’n delikate, soet, skoon reuk en pragtige blomme in skakerings van groen, wit, salmpienk, wynrooi en pers.
– Maak die blomme só gaar: Voor waterblommetjies gekook word, moet die harde skutblare van groot blomme weggebreek word en die rugkant weggesny word. Laat lê die blomme in soutwater om goggas van kant te maak. Die meeste waterblomme word deesdae kommersieel verbou en is kleiner, omdat hulle gereeld gepluk word.
– Waterblommetjies vries uitstekend. Blansjeer die blomme in kookwater en dreineer onder lopende koue water (wat ook sommer goggas verwyder). In die vriesproses word die weefsel afgebreek sodat hulle vinniger sag kook.
– Waterkastaiings wat in blikkies gekoop word, is niks anders as die bolle van waterblommetjies nie en kan pleks van aartappels in geregte gebruik word.