1 Biga: Sit die gis en 50 ml water vir 10 min. in ’n groot mengbak. Meng die res van die water in en gooi die meel by. Meng tot glad. Sit die biga in ’n bak wat met olie gesmeer is en bedek met kleefplastiek. Laat rys vir 12-24 uur by kamertemperatuur. 2 Brood: Voorverhit die oond tot 220 °C en spuit 2 × 12 cm × 26 cm × 10 cm-broodpanne met ’n inhoudsmaat van 3 liter met kleefwerende kossproei. 3 Meng die gis en melk in die bak van ’n elektriese menger. Laat vir 10 min. staan. Gooi die water, olie en 450 g van die biga by en meng goed met die spaanaanhegstuk. 4 Gooi die meel en sout by en meng vir 10 min. Vervang die spaan deur die deeghaak en knie vir 15-25 min. met ’n hoë spoed tot die deeg draderig lyk en van die kante van die bak wegtrek. Hierdie stap is baie belangrik, jy moet aanhou meng tot jy die drade sien trek wanneer jy die masjien se spaan oplig. 5 Verdeel die deeg tussen die twee panne en laat rys vir 60-90 min. op ’n warm plek, of tot die deeg in grootte verdubbel het en tot bo in die pannetjie gerys het. 6 Bestuif die brood liggies met meel en bak vir 30-35 min. of tot dit hol klink as jy daarop klop. Laat op draadrakke afkoel.