Jos gaan vandag sy dagvaarding kry. By die kantoor. Arien weet dit is wreed, maar dit is óf die kantoor óf een van sy kuierplekke in Sandton of Rosebank. Sy weet nie hoekom sy haar nog bekommer oor die ervaring vir hom ’n vernedering gaan wees voor sy kollegas nie. Deur die jare het hy haar telkemale voor kollegas, vriende en familie verneder as hy besope raak en te veel praat en aggressief raak.
Arien kan al voorspel hoe Jos gaan reageer op die dagvaarding. Hy sal soos in alle gevalle wanneer hy in ’n hoek vasgekeer raak na die naaste kroeg ry en die situasie probeer wegdrink. Dan sal hy haar in sy dronkenskap bel en vir die situasie blameer.
Sy het die dag afgeneem om Jos se noodsaaklikste klere in te pak. Sy tydelike verblyf by ’n gastehuis in Rivonia is bevestig. Al wat sy nou kan doen, is om te sit en wag vir sy reaksie.
Sy het hom probeer waarsku nadat sy by die prokureur was, maar Jos het dit weggelag. Sy kan hom nie kwalik neem nie. Sy het hom deur die jare al soveel keer gedreig met egskeiding dat hy dit sekerlik nie meer glo nie. Maar dié keer is sy ernstig. Die situasie het onuithoudbaar geraak vir haar en die kinders. Dit het ’n besliste uitwerking op hulle skoolwerk, het sy ná die oueraand die vorige week besef. Beide seuns se onderwysers het hul kommer uitgespreek oor hul skoolwerk wat agteruitgaan. Sy weet wat die oorsaak is. Haar eens skrander seuns se akademiese agteruitgang is die gevolg van hulle pa se toenemende alkoholisme en die spanning tussen hul ouers. Sy skaam haar dat haar kinders in so ’n situasie beland het. Maar dit is die onderwysers se kommer wat haar finaal na die kantoor van die gesogte egskeidingsprokureur in Rosebank gedryf het. André Bredenkamp het sy hande behaaglik gevryf nadat hy haar dokumente deurgelees het.
“Ek sal hom vir jou uitroei,” het hy gesê. “Hoeveel onderhoud wil jy per maand hê?”
Sy woorde het haar ontstel. Sy wil Jos nie uitroei nie. Sy wil net van hom skei.
“Net die seuns se skool, mediese, buitemuurse en ete-uitgawes. Dis al. Ek wil net so vinnig en vreedsaam moontlik uit die huwelik kom sodat ek en my kinders met ons lewens kan voortgaan.”
André is skynbaar daaraan gewoond dat vroue hul mans wil uitroei, maar dit sal vir Arien geen bevrediging bring om Jos finansieel op sy knieë te dwing nie. Hy is reeds op sy knieë met sy verslawing. Sy weet buitendien nie hoe lank hy nog sy werk gaan behou nie. Sy kon al vir maande agterkom dat sy leefwyse sy werk ook benadeel.
Die seuns was ’n ruk stil toe sy gisteraand aan hulle verduidelik het dat sy klaar is met die huwelik. Dit het haar ontstel om te sien hoe half dankbaar haar kinders is dat dinge na ’n punt beweeg. Hulle is vanselfsprekend bekommerd oor hulle pa se welstand en sy het hulle verseker sy sal steeds ’n oog oor hul pa hou, maar dat hy definitiewe besluite oor sy toekoms self sal moet neem.
Net na twaalf lui haar foon. Sy weet dit is Jos. Sy kan aan sy stem hoor hy het gedrink. Sy luister stil na sy woede wat gaandeweg oorgaan in selfbejammering en beskuldigings. Sy ken die refreine al.
“Ek is moeg, Jos. Ek is finaal klaar. Ek kan nie meer nie. Die situasie benadeel die kinders. Dit kan nie so aangaan nie.”
In Jos se dronkenskap het hy gewoonlik ’n antwoord op alles. In die verlede het sy nog probeer redeneer, maar vandag is haar tong lam. Sy voel daar is niks meer te sê nie.
Jos begin smeek en beloftes maak. Maar ook dit het sy al gehoor.
“Ek gaan nie omdraai nie, Jos. Die besluite oor jou toekoms berus nou by jou. Die kinders is nou my prioriteit.”
Die teer punt wat sy aanraak laat Jos nuwe kaarte uit sy hand speel.
“Is daar iemand anders, Arien?”
Vir ’n oomblik is sy uit die veld geslaan. Haar skuldgevoelens oor die e-pos aan Hendri oorweldig haar steeds. Maar dan herinner sy haar aan Jos se flirtasies op kantoor en by die drinkplekke. Hy is die laaste een wat haar kan beskuldig.
Oudergewoonte gooi Jos die foon neer as hy nie meer skietgoed het nie.
Arien voel besmet na die gesprek. Jos se woorde klou aan haar lyf. Soos ’n outomaat stap sy stort toe. Sy gaan staan met haar klere onder die stort. Yskoue water spoel oor haar. Sy laat die water loop en loop tot haar lyf soos ’n riet bewe. Dan stroop sy die nat klere af en droog haar lyf af. Die sweetpak voel koesterend teen haar lyf.
Dis nog twee uur voor die seuns terugkom van rugbyoefening af. In ’n paniekbevange oomblik weet sy nie wat sy met die tyd moet doen nie. Sy wil net nie dink nie. Sy wil vlug.
Die strate in Allansnek is vir haar vreemd te voet. Sy stap bulte op en af, deur singels en lane en strate. Op en af. In sirkels. Gedagteloos en stom. Uiteindelik sak sy uitgeput op ’n sypaadjie ineen. Waar sy is, weet sy nie. Iewers tussen die niks en nêrens van haar lewe. Sy skakel haar foon se GPS aan en as sy haar adres intik, voel dit of sy skielik nie meer die mense ken wat by die adres woon nie. Wat het van die ma, pa en kinders geword wat tien jaar gelede daar ingetrek het? Het hulle ook verdwaal?
Haar huis lyk vreemd van buite. Die tuin is verwaarloos en die geute dop af. Hulle droomhuis. Die vensters lyk van buite donker. Sy wonder of mense wat verby die huis ry ooit besef hoeveel hartseer daar binne die huis woed?
Haar foon lui. Dis weer Jos. Hy bel vanaf Elim-kliniek. Hy het homself ingeboek.
“Sal jy vir my klere bring?”
“Dis reeds gepak. Ek sal ry as die kinders kom.”
Jos klink moeg. Hy praat nie veel nie.
Vroegaand tref sy die laaste verkeer op die westelike verbypad. Ry stop, ry stop, tot die verkeer na die Oosrand makliker begin vloei. Sy ken die pad Elim toe. Sy het Jos al daar gehad, maar hy wou nie inboek nie.
’n Suster neem haar na ’n wagkamer. Sy skrik as Jos uiteindelik aangestrompel kom. Hy lyk skielik soos ’n ou man. Sy gesig is rooi en geswel en die sweet tap in strome by sy wange af.
“Ek gaan bly. Die keer gaan ek bly. Ek gaan dit vir jou en die kinders doen.”
“Nee, Jos, jy gaan dit vir jouself doen.”
Hy kyk geskok na haar.
“Gaan jy my nie ondersteun nie?”
Die woorde vloei uit haar mond sonder dat sy hoef te dink.
“Ek het jou nog altyd ondersteun. Dalk het ek jou te veel ondersteun. Nou is jy op jou eie. Jy moet eers self opstaan.”
Jos huil. Hy bejammer homself en beskuldig haar van harteloosheid.
“Ek en die kinders sal by jou kom kuier, maar wat jy hier doen, hang net van jouself af. Die pad is jou eie.”
Uiteindelik hou Jos se skouers op ruk. Sy wil opstaan en haar arms om hom sit, maar haar lyf is lam. Sy sit net na die bedroefde man en staar.
“As ek hier uitkom, sal jy my terugvat?”
Arien is nie gereed om hom te antwoord nie. Die plek in haar brein waar die antwoorde vandaan kom, is leeg.
“Staan op en word gesond, Jos.”
Sy stap tot by die deur. Jos staar geskok na haar. Sy is self geskok. Voorheen sou sy week geword het en hom jammer gekry het, maar hierdie keer is anders.
“Ek en die seuns sal die naweek kom kuier. Tot siens, Jos.”
Sy ry stadig terug stad toe. Op die snelweg draai sy al die vensters oop sodat die koue lug deur die kar warrel. Sy glip Vivaldi in die radio en draai die klank op sy hoogste. Dis asof sy die vrou in die kar op ’n afstand dophou.
Die vrou huil tussen die klank van strykinstrumente deur.