Cari bel vroeg.
“Trek gemaklike klere aan. Ek gaan jou ontvoer. Ek het gereël dat al jou kliënte deur ander terapeute behandel word. Vandag is ’n geskenk aan jou deur jou terapeute en sommer van my ook. Wel, soos jy weet, kom die idee eintlik van my!”
Cari kan dinge oorneem. Sy floreer op ander se krisisse want dan kan sy ingryp en die situasie vir hulle bestuur. Sy voel dit haar lewenstaak om ander se probleme vir hulle te probeer oplos. Die gevolge is nie altyd so ’n positiewe uitkoms nie, maar Cari se bedoelings is eg. Sy het ’n goeie hart. ’n regte Italiaanse Mama wat daarvan hou om mense onder haar vlerk te koester. Net jammer haar vurige Italiaanse temperament laat haar ook soms wilde gedagtes kry. Soos die idee dat Arien ’n minnaar moet kry. Arien is verlig dat dit voorkom of Cari vir ’n wyle van Hendri vergeet het. Hendri, daarenteen, laat hom nie so maklik vergeet nie. Elke oggend is daar ’n e-pos van hom: “Rientjie, ek wag vir jou. Ek weet jy is besig, maar ek is geduldig.” Arien is so besig om te rou oor haar laaste droom oor Jos wat saam met die sy-nagjurk in vlamme opgegaan het dat sy alle gedagtes aan Hendri afsny. Haar brein laat op die oomblik net gedagtes rondom oorlewing toe: “Ek moet die kinders by die skool kry,” “Ek moet onthou om brood en melk te koop,” “My volgende kliënt kom tienuur.” Net die basiese. Geen gedagtes oor wat sy met haar en die seuns se toekoms gaan doen nie. Sy wil net deur hierdie minuut, hierdie uur en hierdie dag kom. Dit maak haar bitter en woedend dat dit lyk of Jos maar net van plan is om op sy ou trant voort te gaan. Hy het nie in Elim-kliniek ingeboek soos hy belowe het nie. Hy werk weer “laat”. Dis hoekom sy net oorgee aan Cari se planne.
“Meisie? Hoor jy my? Sorg dat jy jou tekkies en gemaklike klere aantrek. Vandag neem ek en jy op ’n avontuur. Ek kry jou by die koffiewinkel oorkant die kinders se skool. Toedels!”
Cari wag nie vir antwoorde nie. Sy is soos ’n stoomroller wat seker maak daar is geen moontlike teenkanting van haar vriendin se kant nie. En die “Toedels!” wat sy as ’n laaste toegif in die gesprek gooi, is daarop gemik om Arien te laat glimlag. Arien verpes die woord. Dis vir haar gelykstaande aan vroue wat in verkleinwoordjies praat.
Cari wag al by die koffiewinkel. Sy het cappuccinos en ’n ligte ontbyt bestel.
“Vandag se avontuur kan jy nie op ’n vol maag aandurf nie.”
Arien kry ’n benoude gevoel. Sy is nie juis die avontuurlustige soort nie. Cari is ’n adrenaline junkie. Sy hoop nie Cari beplan enigiets wat ’n uitdaging vir haar suwwe siel en lyf is nie. Daar lê ’n diep moegheid in haar.
Cari vleg deur die laaste stuiptrekkings van die oggendverkeer. Sy ly aan padwoede en verkies om mede-motoriste in haar moedertaal uit te skel.
“È stronzo! Dove hai preso la licenza cazzo!”
Arien weet al wat dit beteken en dit is nie mooi nie. Gelukkig rammel Cari die refrein gewoonlik so vinnig af dat die seuns nog nooit hulle ma se wilde vriendin se woorde kon ontsyfer nie.
“Krugersdorp? Wat gaan ons daar maak?”
Cari lag uit haar keel.
“Oeee, Meisie! Jy is in vir ’n ding!”
“Jy weet ek is bang vir allerhande goed nê? Soos hoogtes en spoed en goggas … en?”
Cari kies koers na die Kings Kloof Brug. Arien sien dadelik moeilikheid op die horison.
“Nee! Ek gaan nie daar afspring nie! Jy weet dit is die ergste van my vrese!” Arien voel of sy gaan begin hiperventileer. Haar bene bewe al klaar as sy uit die kar klim. Cari kom staan voor haar.
“Vandag gaan jy ’n leap of faith neem. Jy gaan aan jouself bewys dat jy enigiets kan doen. Jy gaan daar afspring en vir jouself wys jy is in beheer van jou vrees.”
Arien verstaan waarheen Cari op pad is, maar sy weet hoogte is die een ding wat haar sal laat vassteek.
“Wat het my hoogtevrees met my mislukte huwelik te doen?”
“Baie. Dit het te doen met die feit dat jy nog nie die prokureur gebel het nie.”
Arien weet sy moes dit al gedoen het, maar sy is bang. Sy is nog nie gereed vir die groot stap nie. Sy weet sy moet haar en die seuns se lewens in beheer kry, maar haar siel is nou te moeg vir ’n groot besluit.
Cari neem haar aan die hand en sy stap gewillig saam. ’n Lam ter slagting. Arien kyk na die blou lug, sy probeer op die mooi klowe konsentreer. Sy wil nie na die brug en die ander avontuurlustiges kyk nie.
Cari sit die vrywaringsvorm voor haar neer. “Teken.” Sy teken.
Sy luister in ’n waas na die instrukteur. Haar gedagtes daal na die brug. As die rek breek, sal dit ’n genade vir haar wees. Dan hoef sy nie meer met die huidige krisis te sukkel nie. Maar die seuns. Sy moet haarself regruk vir die seuns.
Sy klim gewillig op die skaal. Die instrukteur skryf haar gewig neer. Sy sien sy het sewe kilogram verloor, maar sy voel nie eens opgewonde daaroor nie. Sy wou gewig verloor vir Hendri, en ironies het Jos haar in die proses gehelp. Maar sy voel nie nou meer lus om saam met Hendri te gaan koffie drink nie.
“Ek dink nie ek sal kan spring nie. Regtig. Ek het nie die moed nie.”
Sy kyk na die hoogte van die brug. Sy hoor die jolige gegil van die springers. Sy kan nie vorentoe beweeg nie.
“Jy kan. Arien, luister na my. Jy moet vandag by hierdie brug afspring. Jy moet dit vir die seuns doen. Na vandag sal jy kans sien om die prokureur te bel.”
Hoe nader hulle aan die voorpunt van die ry kom, hoe meer bewe Arien se bene. Haar wese bewe. Sy fokus op die seuns. Hulle verdien ’n ma wat ’n besliste besluit oor hulle toekoms kan maak. Hulle verdien nie ’n huishouding waarin die ma gespanne is soos ’n snaar en die pa se beste vriend ’n bottel whisky is nie.”
Die helpers is vriendelik en moedig haar aan. Hulle verseker haar sy is veilig terwyl hulle haar vasgespe.
“Ek kan nie!”
Cari staan langs haar. “Jy kan.”
Die afgrond voor haar wil haar insluk. Dit trek haar. Haar hart wil by haar keel uitspring.
“Ek is hier by jou. Spring net.” Cari gee haar ’n drukkie.
Die helper lig haar arms op. Dit strek soos twee vlerke langs haar bewende lyf. Sy is bang haar vlerke van geloof gaan smelt soos Ikarus se was-vlerke.
“Arien, jy is ’n sterk vrou. Jy gaan hierdeur kom.”
Sy kyk vlugtig na Cari. Die helper laat haar veilig voel.
Hy neem haar tot by die lyn waarop sy moet staan as sy spring. Dis vir haar ’n simboliese lyn. As sy oor die lyn trap, gaan sy in die veld van haar grootste vrees. Nee, dit is nie meer haar grootste vrees nie. Daardie telefoonoproep. Dit is wat haar hart nou in draad toespin. Die eerste stap om Jos te los. Sy weet sy kan nie meer uitstel nie.
“Een, twee, drie …”
Sy voel die helper se gerusstellende hand op haar rug. Dan tree sy oor die lyn. Sy strek haar vlerke. Sy vlieg. Haar vlug verander na stadige aksie. Sy voel die wind op haar gesig. Haar lyf is gewigloos. Sy sweef tussen die klowe deur. Veraf hoor sy stemme. Maar in haar nabyheid is daar ’n stilte. Dit is vreedsaam. Haar binneste bedaar. Sy voel hoe haar mond gil, maar sy hoor nie vrees nie. Sy hoor ’n oorwinningskreet.
Die tou swaai haar heen en weer deur die kloof. Sy kyk na die diepte na benede en skielik hou dit geen vrees meer vir haar in nie.
Die sprong is vir haar ’n kombinasie van absurde indrukwekkendheid en absolute opwinding.
Opwinding het haar oorlewingsinstink oorwin. Daar op die platform het sy die stryd teen haar vrees gewen. Sy het lanklaas so deel van die lewe gevoel soos nou.
Suiwer sintuiglike genot neem oor by vrees. Die tyd staan stil. Sy wil die oomblikke uitrek. Sy wil verder vlieg deur die kloof, uit die kloof, verder …
Sy het die eerste tree uit haar gemaksone geneem. Sy voel is nou gereed. Haar vlerke is sterk. Sy is nie vandag ’n Ikarus nie. Vandag vlieg sy.