Laatnag bel iemand van die noodeenheid by die Addington-hospitaal in Durban. Jos is daar opgeneem na ’n oordosis kokaïne en alkoholvergiftiging. Hy was saam met ’n meisie in ’n gastehuis in Amamzimtoti en sy het die personeel laat weet sy kan hom nie wakker kry nie. Arien se naam is op sy mediese kaart aangedui as sy naasbestaande.
Na ’n paar slapelose ure bel sy die hospitaal. Jos is buite gevaar en stabiel. Die seuns is verlig dat hulle pa veilig is, maar sy is eerlik oor sy toestand. Hulle weet hulle pa was op ’n drank en dwelm binge.
Op pad salon toe bel sy Cari.
“Moet ek af vlieg om hom by te staan? Ek kan hom seker nie alleen daar laat lê nie? Hy moet darem weet iemand gee om?”
Cari deel Gerhard se diagnose dat Arien ’n ko-afhanklike is.
“Ek wil nie hard wees nie, maar het hy omgegee dat jy en die seuns radeloos van kommer was oor waar hy hom bevind? Hy het lekker paartie gehou saam met ’n meisie en dit te ver geneem. Die keuse is joune, maar as dit my man was, het ek hom daar gelos om ’n bietjie oor sy vergrype te dink.”
Arien kan nie op haar werk konsentreer nie. Sy bel die hospitaal teen twaalfuur weer. Jos is by en buite gevaar. Die gastehuis het sy klere gestuur, maar daar is geen selfoon by nie. Sy beursie is ook leeg buiten sy mediese kaart en foto’s van die kinders. Die hospitaalbeampte lig Arien in dat die gastehuis haar gaan kontak aangesien Jos nog nie sy rekening betaal het nie. Jos se metgesel het haar uit die voete gemaak nadat die ambulans hom kom haal het.
Arien sluk haar trots en bel Jos se nuwe werkgewer. Sy wei nie uit oor detail nie, en sê net hy is in die hospitaal en sal waarskynlik eers weer oor ’n week by die werk kan wees. Die bestuurder se simpatie laat haar skuldig voel. Hy bied aan om haar en die seuns by te staan. As hy maar weet watter soort bystand haar gesin nodig het.
Hendri bel later die middag. Hy wil haar wegneem vir die naweek. Sy weet wat dit beteken. Dit is vir haar te vinnig en sy is nie juis in die bui vir ’n romantiese naweek terwyl Jos in die hospitaal is nie. Die seuns is duidelik teleurgesteld in hulle pa en het haar nou nodig. Sy besluit om reguit met Hendri te wees.
“Gee my kans om my lewe uit te sorteer. Ek het tyd nodig.”
Hendri verseker haar hy sal wag en sy wonder wat het sy reg gedoen om so ’n ondersteunende mens in haar lewe te verdien.
Die personeel van die hospitaal is baie behulpsaam en ’n beampte onderneem om ’n selfoon vir Jos te gaan koop as sy die geld oorbetaal.
Na aandete lui haar foon. Dis Jos. Hy klink moeg en pap.
“Ek is jammer, Arien.”
Sy weet nie eintlik wat om vir hom te sê nie. Is hy regtig jammer? Hoeveel keer in die verlede was hy al jammer.
“Jy het die seuns deur hel gesit. Hulle het gedink jy is dood. Jy het hulle diep teleurgestel.”
Jos kry homself jammer. Hy voel Arien is wreed om hom te konfronteer net na hy by die dood omgedraai het.
“Dis jou eie skuld. Jy het te ver gegaan en ek het regtig nie simpatie met jou nie.”
Jos druk die foon dood.
Arien voel vir die eerste keer in dae verlig. Jos leef en sy weet nou wat in haar hart aangaan. Sy gaan die prokureur bel en die egskeiding laat voortgaan. Sy kan nie toelaat dat Jos se selfsug die kinders so ontwrig nie.
Sy lê en rondrol oor hoe sy haar kinders se lewensgehalte kan verbeter. Jos is nie deel van die prentjie nie. Sy gaan nie weer terugdraai met die egskeiding nie en tensy Jos weer gerehabiliteer is, mag hy nie die seuns ’n naweek uitneem nie.
Sy wonder of sy nie liefs die salon moet verkoop en ver weg trek van die negatiewe omgewing waarin mense soos Selma sappighede oor Jos se vergrype kwetter nie. Ver weg. Sy wil so ver moontlik van Jos en die situasie kom.
En Hendri?
Asof Cari haar gedagtes telepaties kan aanvoel, bel sy laataand.
Liewe ou Cari, wat probeer grappies maak en belowe om die seuns die naweek te bederf met ’n ysskaatssessie en fliek.
Sy vertel Cari van Hendri se planne om haar ’n naweek weg te neem.
“Jy is reg, meisie. Nie nou nie. Jy moet eers jou kop gesond kry. Hy kan wag. As hy nie wil wag nie, hoort hy nie in jou lewe nie. Maar het jy al besluit hoe voel jy oor die Daniel Craig-kloon?”
Vir ’n oomblik het Arien helderheid oor hoe sy voel. Hendri se aandag vlei haar. Dit stuur vlinders deur haar maag, maar op die oomblik is dit al. Sy besef haar siel is op die oomblik te siek om ’n nuwe verhouding aan te knoop.
“Slim meisie. Wat is die volgende stap?”
“Cari, jy klink nou soos my shrink! Maar ek weet wat ek gaan doen. Ek gaan skei en ek gaan die salon in die mark sit. Ek gaan Kaap toe trek.”
Cari klink geskok.
“Hokaai jong! Jy moet mooi oor die ding dink! Jy kan my mos nie alleen hier in die bose stad los nie! Wie gaan saam met my by die skoonheidslaunches rook?”
Maar hoe meer Arien aan haar besluit dink, hoe kalmer voel sy. Sy het nodig om weg te kom. Baie baie ver weg.