Arien hou stil onder die ou bekende Pride of India voor Gerhard Brits se spreekkamer. Dis in blom. Die ligte somerwind laat die pers blommetjies saggies op haar kar val. Soos ’n bruidskar, dink sy en die trane loop vryelik oor haar wange. Sy snik nie, sy knip nie haar oë nie, die trane loop net onbeheerst.
“Ek het nie ’n afspraak nie. Ek sal sit en wag tot hy my kan help.”
Dis skynbaar geen onbekende situasie vir die ontvangsdame nie. Sy neem Arien na ’n kleiner wagkamer en bring vir haar tee. Daar is ’n sagte rusbank, ’n stapel goedvoel boeke en ’n boks tissues. Die weenkamer.
Sy het by Gerhard beland nadat sy ’n paar onsuksesvolle besoeke aan sielkundiges gehad het. Sy het moeg geword om haar hart uit te stort teenoor iemand wat al haar probleme in sy legger sit en neerskryf en saam met haar stem dat sy ’n huwelik uit die hel het.
Gerhard is ’n praktiese sielkundige. Hy gee raad en volg dan op of jy sy die raad gevolg het.
“Jy het nog nie die punt bereik waarop jy van Jos kan skei nie. Jy is nog nie kwaad genoeg vir hom nie. Ek gaan jou nie raad gee om hierdie huwelik te red nie, want jy het nog nie die regte perspektief op die kern van die probleem nie. Jou man is ’n alkoholis en so lank as wat jy hom nie voor ’n besliste ultimatum stel nie, gaan jy altyd tweede kom in die huwelik.”
Dis hy wat haar Jos se ko-afhanklike genoem het. Sy bemagtig Jos in sy vergrype deur hom elke keer te vergewe, of om die probleem te probeer ignoreer. Sy was kwaad vir die man wat veronderstel is om haar in ’n simpatieke kokon toe te wikkel. Sy was nie lus om R700 te betaal vir ’n sessie waarin haar sielkundige haar nie as die slagoffer beskou nie. Hoe durf hy haar van aandadigheid beskuldig? Dit het haar ’n ruk geneem voor sy besef het Gerhard is reg. Dis ook hy wat haar geleer het om weer te huil. Sy kon lank nie trane huil oor die situasie waarin haar huwelik beland het nie. Gerhard het haar stap vir stap geneem tot sy weer die sluise van haar trane kon oopdraai.
Na ’n tweede koppie tee kry sy haar beurt om hom oor die jongste drama in haar lewe in te lig.
“Op en af, op en af. Dis hoe my lewe voel. Die een dag op die hoogste wolk en die volgende in ’n swart gat.”
Sy vertel van Hendri en hoe sy komplimente haar weer vrou laat voel. Sy vertel hoe sy weke op die aaklige groen sap was om gewig te verloor, hoe sy kant panties en bra’s gaan koop het vir Hendri … en hoe sy ’n sy ’n trollie vol Woolies-kos gaan koop het om Jos weer ’n kans te gee. In ’n vlaag van verbale diarree en trane lig sy Gerhard in oor die kliniek, die egskeiding op ys, die wit rose wat haar salon met ’n sagte aroma vul, die tientalle onoopgemaakte sms’e van Hendri … en Jos wat nou amptelik vermis is.
“Ek weet nie meer hoe om te voel of wat om te glo of te hoop nie. Ek weet nie, as dit nie vir die seuns was nie …”
Gerhard luister.
“En? Wat gaan jy nou aan die situasie doen?”
Sy kyk geskok na hom. Hy moet mos vir haar sê wat om te doen?
“Arien, jy het vergeet. Ek neem nie jou besluite vir jou nie. Ek gee raad en terapie. Ek deel my kennis met jou, maar jy is self verantwoordelik vir wat in jou lewe aangaan. Wat wil jy hê moet ek vir jou sê? Moet ek jou toestemming gee om ’n verhouding met Hendri te begin? Wat van die egskeiding? Verwag jy ek moet die besluit namens jou neem?”
Hoe kan Gerhard so rustig agteroor in sy stoel sit terwyl haar lewe voor hom verkrummel?
“Ja ja ja! Ek wil nie besluite neem nie! Ek is te moeg om besluite te neem. Ek is moeg vir verantwoordelikhede soos verstopte dreins en om vir die seuns te verduidelik dat hulle pa dalk weer die pad byster is … of dalk dood is. Die onsekerheid vreet my op.”
Gerhard staan op en gaan haal ’n vel papier en ’n potlood.
“Skryf neer wat jou gelukkig gaan maak.”
Sy staar na die papier.
“Ek weet nie. Dit voel of ek nooit weer gelukkig gaan wees nie. Miskien is ek een van daardie mense vir wie geluk nie beskore is nie? En, elke keer as ek dit waag om te droom of gelukkig te wees, dan weet ek Jos gaan dit weer vir my verongeluk.”
Gerhard beduie weer na die papier.
“Skryf vir my hoe jy op hierdie oomblik oor Jos voel, wat jou kwaad maak en wat jy vrees. Die feit is, hy is amptelik vermis. Hoe gaan jy dit hanteer as hy dalk dood is? Gaan jy verlig wees? Bly? Hartseer?”
Sy skryf verwoed tot beide kante van die papier vol is.
Gerhard gee haar nog ’n vel papier.
“Skryf ’n paar stappe neer wat jy bereid is om vandag te neem.”
Sy probeer haar versteende brein in aksie kry. Besluite. Dis een ding wat sy nie nou kan neem nie. Sy begin skryf.
“Ek gaan nou in my kar klim en na Olivia’s se koffiewinkel ry. Dan gaan ek ’n yskoffie met roomys bestel. Dan gaan ek die seuns by die skool haal. Dis al waarvoor ek vandag kans sien. Die wag op nuus oor Jos maak my hele wese lam.”
Gerhard lees dit en glimlag.
“Dis reg, Arien. Dis wat jy vandag gaan doen. Jy gaan sommer twee yskoffies drink. Gaan haal jou seuns en gaan fliek. Sit jou foon af vir ’n paar uur.”
Gerhard stap soos altyd saam met haar kar toe. Hy gee haar ’n drukkie.
“Jy gaan ok wees. Jy bons mos elke keer terug.”
Sy kies die stilste hoek in Olivia’s. Sy kruip agter haar donkerbril weg. Om haar wemel die gewilde koffiewinkel. By party tafels sit sakemanne met hul skootrekenaars en werk. Daar is feestelike tafels waar mense vrolik kwetter. En dan is daar ’n paar mense, soos sy, wat alleen by tafels sit. Mense met hul eie geselskap en gedagtes.
Sy sien die gevaar by die deur inwarrel. Selma Jansen. Die heel laaste mens wat sy vandag wil sien. Sy skuif dieper in haar stoel en bestudeer die spyskaart met erns. Hopelik kyk die bemoeisieke mens haar mis. Selma gaan sit by ’n tafel aan die ander kant van die stoep. Sy kwetter oor haar selfoon. Arien sug van verligting en bestel haar tweede yskoffie. Teen die derde teug omhels iemand haar van agter en soen haar op die wang.
“Arien! Ek dog eers, maar dit kan nie Arien wees nie? Maar toe sien ek dit is jy! Mens! Hoeveel gewig het jy verloor?”
Arien stik byna in die salige dik koffieroomys.
Selma se seuns is presies dieselfde ouderdom as hare. Hulle is top presteerders, top rugbyspelers, top debatteerders, top, top, top … Selma se man is voorsitter van die skool se beheerliggaam. Hy is ’n oud provinsiale rugbyspeler en as ’n prokureur vir elke celebrity-egskeiding in die stad is hy hand-om-die-blaas met elke egskeidingsprokureur wat daarop uit is om sy kliënt se eks uit te roei. Vyf minute nadat Selma haarself ongenooid oorkant haar neergeplak het, weet sy Selma weet …
“En hoe gaan dit met daardie oulike man van jou?”
Arien neem ’n groot sluk yskoffie.
“Sommer baie goed,” lieg sy onbeskaamd.
“Ek hoor hy is nou by ’n nuwe firma?”
Arien weet sommer Selma het ook heelwat ander sappighede gehoor.
Selma borduur voort op haar telge se prestasies en haar man se deugde. Dan vra sy weer. “En jy sê, dit gaan goed met Jos?” Dit voel of die vrou se priemende ogies deur die donkerte van haar donkerbril tot in die privaatste van haar private lewe kyk. Dan onthou sy Gerhard se woorde, “Jy is ’n sterk vrou, Arien. Jy gaan jou nie laat onderkry nie.”
Genoeg is genoeg, besluit sy. Sy sit regop en haal diep asem.
“Jong, Selma, noudat ek jou so kyk, dink ek dit is tyd dat jy by my salon uitkom. Ek hoop nie jy gee om dat ek dit noem nie, maar ek sien jy sukkel steeds met jou vel. Kom maak ’n draai dat ons jou kan help. Jy weet, vandat ek so baie gewig verloor het, voel ek soos ’n nuwe mens. Jy moet tog onthou dat ek my dieet-wondersap se resep met jou deel. Jy sal sien, binne weke het jy van elke oortollige kilogram ontslae geraak.”
Arien voel moedswillig, Sy wil sommer ook vir die vrou sê sy kan haar aanbeveel na ’n vriendin wat klerekas-beplanning vir mollige vroue doen. Maar dan lui haar selfoon. Dis Hendri. In haar moedswillige vlaag antwoord Arien die foon.
“Waar is jy? Ek soek my dood na jou! Ek is op die oomblik by Cresta vir ’n vergadering en het gewonder of ek jou kan kom oplaai vir koffie?”
Arien voel haar planete het vir ’n paar sekondes reg gedraai.
“Jy sal my nie glo nie, maar ek sit by ’n koffiewinkel omtrent net ’n kilometer van Cresta af! Kom drink saam met my koffie!”
Selma gaap steeds van skok oor Arien se verwysing na haar probleemvel en oortollige kilogramme.
“Selma, kom ons bestel vir jou ook ’n yskoffie voor jy my wondersap probeer!”
Selma se wind is steeds uit haar seile as Hendri by Olivia’s instap. Hy het ’n kraakwit hemp en sy Levi jeans aan. Hy lyk vandag stukke beter as Daniel Craig homself!
Hendri raap haar in sy arms op.
“Die mooiste vrou wat ek ken! Dis so lekker om jou te sien!”
Uit die hoek van haar oog sien Arien dat Selma se mond oophang van verstomming.
Maar op hierdie oomblik gee sy nie om nie. ’n Aardskuddend-aantreklike man sit by haar en hy het net oë vir haar!