Met Jos wat gevestig is in die gastehuis en die seuns op ’n skoolkamp, kan Arien vir die eerste keer in weke asemhaal. Die egskeiding is vir eers op ys, maar die ooreenkoms is dat Jos op sy eie bly totdat hy ’n jaar nugter en dwelmvry is. Hy neem laasgenoemde baie ernstig op en het selfs aansoek gedoen vir ’n nuwe pos by ’n ander maatskappy sodat hy kan wegkom van die ou invloede by die werk. Hy gaan elke dag gimnasium toe en woon die seuns se rugbywedstryde Saterdae by. Hoewel Arien versigtig optimisties is oor Jos se ommeswaai, voel sy die gelukkigste in jare. Sy het nie besef hoe gespanne sy elke aand in haar onderbewussyn gewag het dat Jos huis toe moet kom nie. As hy nou nie huis toe gaan nie, is dit sy eie verantwoordelikheid. Sy het aan die begin die versoeking gehad om die gastehuis te bel om seker te maak hy gaan saans betyds huis toe, maar sy het besef sy plaas haarself in ’n negatiewe situasie as polisieman. Nou berus sy saans daarby dat sy nie meer hoef te bekommer of Jos in ’n kroeg is, of hy in die hospitaal is na ’n ongeluk en of hy vir dronkbestuur in hegtenis geneem is nie. As enige van die dinge gebeur, bly die bal steeds in Jos se sak. Een misstap en sy bel haar prokureur om met die egskeiding voort te gaan. En Jos weet dié keer sy is ernstig.
Dit gaan goed by die salon en Arien se dagboek is vol bespreek. Dis ’n lekker gevoel. Sy is weer in beheer van haar lewe. Sy voel geestelik en fisiek goed en die gewig het letterlik weggesmelt weens die laaste paar weke se spanning. Op Cari se aanbeveling het sy haar hare in ’n kort pixiestyl laat sny en swart met ’n blou skynsel laat kleur. Dit bring die kleur van haar oë uit, sê Cari.
Na ’n besige oggend met kliënte gaan sak Arien in haar kantoor op die stoel neer. Jenna bring vir haar ’n beker ystee en sy sien daarna uit om haar oë vir tien minute salig toe te maak. Sy het haarself al geleer om tydens hierdie vinnige meditasies aan absoluut niks te dink nie. Nie eens aan die kinders nie en veral nie aan Jos nie. Sy bly steeds bang om weer teleurgestel te word en seer te kry. Jos is deesdae baie hofmakerig en stuur gereeld ’n Whatsapp met ’n kort boodskappie dat hy aan haar dink. Sy het tot dusver nog alle uitnodigings vir afsprake alleen saam met Jos weggepraat. Sy gaan net saam met hom uit as die seuns ook by is.
Sy het skaars weggesink in haar diep poel van salige niksheid of Jenna kom klop aan die deur.
“Hier is ’n man om jou te sien. Hy wil nie ’n afspraak maak nie en hy wil nie wag nie. En hy is vreeslik handsome!”
Arien word sommer vies as mense net van die straat af instap vir behandelings en nou is haar rustydjie boonop daarmee heen.
“Ek gee nie om hoe handsome hy is nie. Sê vir hom ek is besig en hy moet tien minute wag.”
Jenna rek haar oë en kyk bang in die deur se koers.
“Hy is nie iemand wat nee vat vir ’n antwoord nie. Hy wil nie ’n ander terapeut sien nie, hy sê hy wil net vir jou sien. En hy sê hy wag nou al lank genoeg. Maar ek belowe jou hy het netnou hier aangekom en ek het jou dadelik kom roep.”
Arien voel hoe irritasie haar rustigheid versteur. Sy haal die klam lappie van haar voorkop af en stap reguit ontvangs toe om die arrogante man op sy plek te gaan sit.
Die lang man staan met sy rug na haar. Hy trippel ongeduldig rond en sy sien hoe hy na sy horlosie kyk. Verwaand!
“Kan ek help?”
Sy moet half opkyk na die forse figuur.
Dis asof hy in stadige aksie omdraai na haar. Elke sel in haar lyf begin bewe en sy voel hoe haar gesig nog kouer word soos die bloed uit haar wange dreineer. Daar is nie ’n sekonde se twyfel nie. Hendri staan in sy volle glorie voor haar! Die jare sedert sy hom die laaste keer gesien het, waai in ’n warrelwind weg.
Hy raap haar op en druk haar so styf teen hom vas dat sy snak na haar asem.
“Rientjie! Uiteindelik! Ek kon nie een dag langer wag nie!”
Die onverwagsheid van sy verskyning laat haar sprakeloos. Sy e-posse het al hoe skaarser geraak en sy het verlig (maar met ’n effense hartseer gevoel) begin dink dat sy hom afsgeskud het. Die afgelope weke was nie die ideale tyd om aan ou liefde te dink nie. Sy het haar hande vol gehad om haar lewe weer min of meer op koers te plaas.
“Hoe het jy geweet waar die salon is? Ek het jou regtig nie verwag nie.”
Hendri se oë vonkel met ou bekende duiweltjies. Fyn lagplooitjies omring hulle nou. Sy hare het ’n effense grysheid langs die slape, maar die mond, die hande, die lang forse lyf … Dis steeds dieselfde Hendri wat haar hart as jong meisie oorrompel het.
“Jy vergeet dat ek altyd kry waarna ek soek? Ek weet al lankal waar jou salon is. Ek het net gewag vir die regte oomblik, en vandag, is dit die regte dag om jou vir middagete te ontvoer!”
Arien kyk hulpeloos na Jenna wat Hendri byna oopmond staan en aangaap.
“My dagboek is vol. Ons sal ’n ander afspraak moet maak.”
Hendri neem haar gesig tussen sy hande en soen haar op die voorkop.
“O nee, jy gaan my nie weer ontwyk nie.” Hy kyk in Jenna se koers. “Maak jou baas se dagboek leeg. Sy het ’n baie belangrike afspraak. En ek twyfel of sy na middagete gaan terugkom. Dit gaan ’n lang afspraak wees.”
Jenna stap gehoorsaam na die dagboek en die ander terapeute is nou ook deel van die gehoor wat Hendri aanstaar.
“O, dit is Hendri. Ons ken mekaar al lank.”
Sy wil haar personeel nie te veel detail gee nie, maar Hendri het ander planne.
“Ek is haar ou boyfriend en sy het my hart in stukke gebreek toe ons jonk was. Maar ons twee het dik stukke gevry toe ons jonk was!”
Arien kan sien hoe die meisies na Hendri kyk en dan in ongeloof na haar.
“Hy jok vir julle! Ek het nie sy hart gebreek nie en ons het nie dik stukke gevry nie! Maar wag, laat ek hom hier uitkry. Ons gaan gou oorkant die straat by Fago koffie drink. Gee asseblief gratis geskenkbewyse vir die kliënte wat vanmiddag verontrief is.”
Hendri is al op pad deur toe.
“Slim meisie!” Hendri neem haar aan die hand en trek haar by die deur uit. Sy is vrek spyt dat sy nie eens haar lippe rooi gemaak het toe sy woedend by haar kantoor uitgestorm het nie. Nou, na al die afwagting, gaan sy saam met Hendri koffie drink met ’n gesig wat silwerskoon gewas is en waarskynlik blink van die angssweet! Haar enigste troos is dat haar lyf lekker skraal is en haar hare lyk asemrowend met die nuwe kort styl.
Arien kies ’n tafeltjie buite onder die bome sodat die wind haar angstigheid kan laaf.
Hendri sit dadelik vooroor en neem beide haar hande in syne. Hy kyk na haar trouring.
“En hoe gaan dit met die huwelik?”
Sy skrik haar flou. Dis asof hy reg deur haar onsekerheid kyk.
“Baie goed, dankie.”
Sy probeer ongesiens na sy linkerhand kyk. Daar is nie ’n trouring nie.
Hulle gesels oor wat van al hul vriende geword het en Arien is gou ontspanne. Sy en Hendri kon nog altyd lekker gesels. Dit voel of hulle gister die laaste keer gesels het.
Hy vertel van sy loopbaan, sy fotografie en sy bergfietstoere, maar nêrens maak hy melding van ’n gesin nie. Sy neem aan hy sou sekerlik van sy gesin gepraat het as daar een was. Sy het hom klaar in detail vertel van haar seuns en net bolangs genoem dat Jos ’n makelaar is. Niks oor die egskeiding en Jos se rehabilitasieproses nie.
Hy bly skielik stil. Hy kyk diep in haar oë.
“Vir jou, my prinses, het ek nooit vergeet nie.”
Arien voel hoe die angs weer langs haar wange opslaan in koue sweet. Haar maag voel hol en sy voel duiselig.
Sy onthou die uitwerking nog baie goed. Hendri het haar altyd so laat voel. Sy kry dit reg om haar hande los te wikkel en vou dit veilig om die koffiebeker.
“Ons was so jonk gewees. Dit was lank gelede. Baie lank gelede, Hendri.”
Sy oë is skielik baie na aan haar. Dit kyk tot in die diepste van haar hart.
“Maar jy wou my weer sien, Arien, ek weet dit.”
Haar tong strompel oor ’n paar verskonings, maar hy luister nie daarna nie.
“Toe jy my weer kontak, het ek geweet dit is so bestem. Ons moes mekaar weer sien. Ons is ou sielsmaats. Ek het agtergekom jy het geskrik en wil my probeer vermy, maar ek is geduldig. Ek weet wat ek wil hê en ek is bereid om daarvoor te wag.”
Sy probeer weer om hom met flou verskonings weg te skrik. Maar Hendri het klaar haar geheime uitgerafel.
“As jy gelukkig getroud was, sou jy my nie gekontak het nie. Ek kan aan jou oë sien daar is ’n diep hartseer in jou en dit ontstel my. Jy is die laaste mens wat hartseer verdien. Ek gaan al daardie seer uit jou vat, jy sal sien.”
Arien voel of Hendri soos ’n tsoenami oor haar spoel. Sy het geen weerstand teen sy aanslag nie. Sy probeer hom verduidelik dat Jos op ’n baie brose deel van sy rehabilitasieprogram is. Dat sy nog nie eens haar voete gevind het nie.
Dis te veel emosie op een slag. Sy wil aan die een kant wegvlug van Hendri en sy meesleurende aanslag, maar andersyds tintel haar hele lyf en tol haar kop in die rondte. Sy voel lus en vergeet van alles en spring in die begeerlike stroom wat haar wil meesleur.