1 Winterwarm-mokka
Smelt 200 g donker sjokolade en 45 ml organiese koffie (ons het Woolworths s’n gebruik) in ’n klein kastrol. Skep die sjokolademengsel in 4 hittebestande glase en verdeel 2 1/2 k warm volroommelk tussen die glase. Sit voor met malvalekkers en ’n skeppie van die melkskuim.
2 Stroperige poeding
Gee jou gunstelinggebakte nagereg ’n gedaanteverwisseling en bedruip dit met 125 ml gegeurde rooibosstroop terwyl dit nog warm is. Sit voor met lepels vol mascarponekaas.
3 Ryk sjokolade-en-karamel-drankie
Verhit 3 k volroommelk en geur met ’n vanieljepeul en -saadjies en 3 kardemompeule. Voeg 2 groot eetlepels sjokoladesous en 2 groot eetlepels karamelfudge by die warm melk en roer tot die sous gesmelt is.
Om dit nog lekkerder te maak, kan jy ’n paar skeutjies van jou gunstelinglikeur byvoeg. Verwyder die vanielje-en-kardemompeule. Verdeel in vier glase en versier met gerasperde sjokolade.
Probeer ook warm gebakte brie
Gebruik gegeurde rooibosstroop oor ’n groot, ryp brie- of camembertkaas en strooi ’n hand vol heel, geroosterde amandels en droë appelkose bo-oor die kaas. Bak vir 10 min. tot deurwarm en smul.