Die swart leerbaadjie
Dié sexy item hoort in jou versameling. Jy sal nooit spyt wees as jy in ’n duursame leerbaadjie belê nie. Dra dit in die winter saam met ’n swart denim en in die somer oor ’n rokkie vir daardie kenmerkende stadstyl-voorkoms.
Die wit hemp
Die wit kraaghemp is ’n pasmaat by alles – of dit nou by denims, ’n snyersbroek of patroonromp is. Dit is ook die perfekte item om laag op laag te dra. Knoop dit toe tot bo en verf jou lippe rooi vir ’n sjiek voorkoms. Wees egter versigtig om te veel op hierdie hemp te spandeer, omdat die kleur se leeftyd beperk is. Koop eerder slim en skaf elke tweede seisoen ’n nuwe een aan.
Leerstewels
Die lengte van leerstewels wissel elke jaar, maar die stewel wat altyd op die rakke sal bly, is die perdrystyl. Hierdie item waarborg jou ’n stylvolle voorkoms sonder om ure aan jou uitrusting te beplan. Gaan vir die kenmerkende denim van kop tot tone of wissel dit af met ’n maksirok en baadjie. Onthou om jou leerstewels af en toe te politoer om ’n lang leeftyd te verseker.
Die soldaatjas
Jy kan maar op hierdie snit spandeer, want dit sal nog lank in jou kas hang. Kies een van duursame materiaal – soortgelyk aan die Burberry-jasse. Maak seker die lengte van die jas pas by die lengte van jou lyf. Indien jy kort is, moet jou jas tussen jou heupe en knieë hang, maar ’n langer persoon kan dit met ’n ekstra lang jas ook waag.
Parka
Die parka is perfek vir naweekdrag en jy sal dit elke naweek wíl dra. Kies dus ’n kleur wat by baie van jou ander klere pas, sodat jy dit elke keer ’n ander voorkoms kan gee. Die gewildste is om dit saam met donker denims en wit tekkies te dra.
Kasjmier-trui
’n Kasjmier-trui is een van jou beter beleggings, mits jy mooi daarna kyk. Dit lyk nie net duursaam nie, maar dit voel ook sag teen jou vel en sal jou beslis warm hou. Grys is die perfekte kleur vir ’n crew-nek kasjmiertrui.
Wit tekkies
Wie het ooit gedink wit tekkies sal só gewild wees? Wit is normaalweg ’n gewaagde kleur vir skoene, maar dit skep die perfekte voorkoms vir moeitelose gemakdrag. Dit sal jou donker denim goed uitbalanseer of by jou ligter kleure inskakeer. Daar is ook deesdae baie produkte wat jy kan koop om wit tekkies skoon te hou, asook verskeie wastegnieke wat hulle splinternuut laat lyk.
Donker denims
Die eerste ding waarna jy gryp op ’n koue wintersoggend. Daar is net iets omtrent donker denims wat dit ’n gunsteling vir wintersdrag maak. Die donker kleur skep daardie effense netjieser voorkoms wat jou stylvol laat lyk. Belê in meer as een van hierdie items vir die tye wanneer een in die was is. Hierdie een van Woolworths is gemaklik, baie vleiend en sal jou nie ’n plaas se prys kos nie.
Swart enkelstewels
Jy kan nooit verkeerd gaan met swart nie. Jy vertoon op jou beste as jy swart van kop tot tone dra. Hierdie enkelstewels is jou beste maat in die winter, omdat dit ’n praktiese lengte vir enige geleentheid is en jy lyk altyd netjies.