Windswael: Engel van karre deur Martie Swanepoel. Foto van Theuns van der Merwe: Deon TerBlanche
In die twaalf jaar wat ek in Parys gebly het, het die liewe Here vele engele op my pad gestuur.
Dit was nie altyd lekker jare nie.
Daar was trauma, snot en trane.
Maar as ek een engel op my pad kan uitsonder, sal dit Theuns van der Merwe wees, my mechanic. My kar-engel.
Theuns is in sy sestigs en hy sê hy is al 25 jaar terug op Parys. Hy het eens ’n werkswinkel in die hoofstraat gehad, maar die afgelope paar jaar werk hy uit sy erf.
Mense sal sê hy is ’n back yard mechanic, maar hy is ’n man wat na ’n kar se hart luister soos ’n dokter.
Hy ken die siel van ’n kar.
Na ek my laaste grênd nuwe kar in ’n slaggat afgeskryf het, het ek net tweedehandse karre kontant gekoop. Ek kon nie weer ’n duur paaiement bekostig nie.
Dis toe Theuns my kar-engel geword het.
My grootste flop was die Daewoo Matiz. ’n Cute klein silwer karretjie, maar beslis nie geskik vir iemand wat soveel kilometers soos ek ry nie.
Ek het ’n jaar lank skoolgehou by ’n hotel- en landbouskool 30 km grondpad buite die dorp en die sensitiewe klein Matiz het net mooi niks daarvan gehou nie. Sy het gereeld protesterend vasgesteek. Dan moes Theuns kom red.
Daar is min mense wat bereid is om jou in die nag op so ’n rowwe, verlate grondpad te kom tow. Maar Theuns sal.
Na hy moedeloos geword het om my Matiz aan die lewe te hou, het hy my vertel van die rooi Toyota Corolla wat ’n vriend wou verkoop. ’n 1998 model. ’n Sterk kar. Nie glamorous nie, maar betroubaar. Elke petroljoggie wou haar by my koop.
Ou Rattles, soos my kinders haar genoem het, het ook haar geite gehad, maar Theuns kon haar nog elke keer weer tot op die pad dokter.
Hier moet ek noem ek is ’n dramatiese mens. ’n Emosionele wrak wat soms my snot en trane en angs met ’n blou pilletjie en soet tee moet laaf.
Maar niks kan my so laat huil soos ’n stukkende kar nie.
My kar was die sentrale punt van hoe ek my brood en botter verdien. Die laaste ses jaar van my beroep het ek en Rattles weekliks ten minste 1 000 km gery.
Drie dae per week van Parys na Vanderbijlpark om klas te gee by die universiteit, twee dae per week van Parys na Potchefstroom se kampus. Vrydae het ek deur vyf provinsies gejaag. Van my huis in die Vrystaat na Noordwes om klas te gee, dan van Noordwes terug na die Vrystaat om Desiree op te laai, dan van die Vrystaat, deur Gauteng tot in Mpumalanga na ons berghuis.
Dit was harde jare vir ou Rattles, maar sy was ’n geduldige ou girl. Sy het ’n paar keer gaan staan, pap wiele gekry, ek het haar gecrash en ons het vele spoedkaartjies gekry.
Sy was ’n sterk vinnige meisie en ek is mos lief vir voet in die hoek. Ons hoogtepunt saam was toe ’n verkeersvrou ons eendag op die snelweg voorgekeer het en gesê het, “Oumatjie, jy het 145 km per uur gery!”
Maar Theuns was die een wat ek nog elke keer kon bel om my te kom tow of red. Maak nie saak waar ek was of hoe laat nie. Ek kon voor sy huis stop en dan het hy gehelp.
Ek het al by vele geleenthede my mechanic se skouers natgehuil. Ek dink hy was by tye meer my sielkundige as my mechanic.
Theuns van der Merwe is een van daardie mense wat tot in sy core ’n mensch is. Die absolute sout van hierdie nare ou aarde. In my jare in Parys was hy vir my ’n anker, en ek kan hom nie genoeg bedank vir wat hy vir hierdie dramatiese tjankbalie en haar ou rooi Toyota beteken het nie.
Ek het onlangs vinnig by hom gestop toe ek op ’n blitsbesoek aan my ou dorp was. Giel se Hyundai se enjinskerm het losgekom en ek was in die nood. Alweer. Dit was vyfuur die middag en dit was koud. Ek moes drie uur terugry na Mpumalanga en ek kon nie die lang grondpad na my huis met die slepende enjinskerm aanpak nie.
Theuns het gehelp. Gratis. Met sy groot glimlag.
Ek was hartseer toe ek wegry by Theuns. My ou vriend het 30 kg verloor. Hy is nie gesond nie. Sy vrou, Nicolene, is ’n maand gelede dood. Hy en sy kat bly nou alleen in die huis met die yard vol karre.
Ek weet nie van baie mense met die integriteit en medemenslikheid van Theuns nie. Hy is een van daardie suiwer mense met geen kwaad in hom nie.
Die soort ou wat jy bel as jy in jou diepste nood is.
My kar-engel.
Lees nog van Martie Swanepoel se blogplasings vir ons, Windswael
Het jy geweet?
Martie skryf ook vervolgverhale vir rooi rose! Klik hier om haar vervolgverhaal, Vlam te begin lees.
Ons het ook ’n podsending gemaak van haar verhaal Botox, Barbies en Bietse, en dis voorgelees deur Elize Cawood. Klik hier om te begin luister!