Windswael: Eenvoud van geloof deur Martie Swanepoel
My stap-tyd is bid-tyd. Dan gesels ek en God.
Gister het ’n swaarigheid oor my gehang daar langs die see.
’n Swart seebrak op my spoor.
Sulke tye weet ek ek moet my dink beheer. Fokus op die eenvoud van die mooi voor my. Kyk vir die spiraal van ’n gebreekte toringskulp, spoelhout met skeepswurmtonnels, stukkies seekastaiingdop, krappe se afgebreekte valdeurtjies in reënboogkleure.
Dinge wat die tyd vir ’n paar sekondes laat stil staan.
Eenvoud.
Op ons terugroete het ons ’n groot swart seevoël in die branders sien spartel. Hulpeloos teen die golwe het hy getol. Teen sy aard.
Ek is klere en al die branders in om hom te gaan uithaal. Hy het met sy skerp snawel paniekbevange na my gepik, maar ek kon sien hy het byna geen krag in sy swart gespikkelde lyf meer gehad nie.
’n Man, wat met sy honde verby gestap het, het aangebied om ’n voëlliefhebber te bel en sy het op haar beurt die veearts op Port Edward gebel.
Bring hom, het hy gesê.
As voormalige stedelinge het ek en Giel gedink die behandeling van die beseerde voël gaan ons ’n fortuin kos. In die stad betaal jy mos maar vir alles.
In die veearts se wagkamer het ’n vriendelike vrou gesit. Giel meen dat sy waarskynlik sedert die hippie-era van die sestigs hier iewers onder ’n mangoboom op die strand bly. Haar glimlag breed en warm en haar arms klingelend van skulp-armbande.
Zennith, die ontvangsklerk en veearts-assistent by die klein praktyk, is haar seun.
Jy kan die sagtheid van hul siele aanvoel.
Die seun het die voël by my oorgeneem en hom verwonder aan die wye vlerkspan.
Dr. Doug het verklaar dis ’n jong Gannet wat eintlik nie in die omgewing van Munster hoort nie. Hulle kom gewoonlik nie verder Noord as Port Elizabeth nie. Maar party kom soms agter die aas aan wat die vistermanne op die rotse agterlaat.
Dit is juis wat hom siek gemaak het. Die vrot aas veroorsaak ’n soort voedselvergiftiging waarvan seevoëls moeilik herstel.
As die voël ’n gebreekte been of vlerk gehad het, sou die veearts hom kon behandel en na ’n rehabilitasiesentrum stuur. Maar die vergiftiging van die vrot aas verlam die voëls. Dit is dodelik.
Sy raad was om die Gannet van sy lyding te verlos.
Geen koste, net ’n warm vriendelike glimlag van die diere-arts, sy assistent en sy assistent se hippie-ma.
Mense doen partykeer dinge wat hulle nie hoef te doen nie. Jy kry nie ’n invoice daarvoor nie. Dit kos net omgee.
Mens hoef seker nie ’n sterwende seevoël uit die branders te red nie. Jy kan wegstap en hom los dat hy op sy eie tyd doodgaan.
Maar ek en Giel sou dit nie kon doen nie. Hoekom toelaat dat hy verdrink of ’n dag of twee later van honger doodgaan as jy hom die pyn kan spaar?
Daar is mense wat voel die natuur moet sy gang gaan, en elkeen is geregtig op sy opinie. Maar ’n seevoël wat vrot aas eet wat ’n visterman net so op die rotse los, is dit nie regtig deel van die natuur se gang nie.
By die ski-bootklub vertel Jurg ons hoeveel seevoëls hy al gered het wat in ou vislyne en plastiek verstrengel geraak het.
Vistermanne geniet die kuslyn, maar sommiges laat hul rommel net so op die rotse en dit benadeel die seelewe.
Die spartelende voël het in sy laaste uur van lewe ’n belangrike doel gedien.
Hy het ’n groep mense bymekaar gegooi wat nog nooit ontmoet het nie. ’n Man met sy honde en sy selfoon, ’n voëlliefhebber wat omgee, ’n hippie met windklingel-armbande en ’n seun met die naam Zennith. … En ’n veearts, wat nie altyd ’n rekening uitskryf as hy ’n dier gehelp het nie.
Ek glo as ek terug sou kyk op my spore die oggend van die strand af tot by ons huis, sou myne ’n alleenry spore gewees het.
Sonder die saamsleepsel van die swart seebrak.
Lees ook Martie se ander bloginskrywings:
Windswael: “’n Tiet om te kom en ’n tiet om te gaan”
Het jy gesien dat Martie ’n nuwe vervolgverhaal vir rooi rose geskryf het? Klik hier om meer uit te vind oor Vlam.