Windswael: Die koek deur Martie Swanepoel. Foto’s: Martie Swanepoel
Windswael: Die koek
Desiree is ons kind en ons het haar lief soos sy is.
Sy is 32 jaar oud en ’n skisofreen. Sy bly by ons.
Sy praat maklik oor die wrede siekte wat haar brein skommel, en ek het haar toestemming gevra om oor haar en haar koek te skryf. Want sy verdien respek en liefde.
Skisofrenie is ’n siekte met baie OP en baie AF vir die sieke en die uitgebreide gesin.
Maar vandag wil ek nie oor die AF praat nie. Dit sny te na aan die hart.
Ek wil skryf oor ’n OP.
Oor die koek.
Desiree hou van kook en bak. Sy kan die vreemdste bestanddele bymekaar gooi, en soms werk dit wonderlik. Soms nie.
As sy my spesery- en kruierak tref, doen sy dit in oormaat en met passie. Kombinasies waarvan geen sjef nog ooit gehoor het nie.
Ja, sy tref die kombuis meer as dikwels soos ’n orkaan en tsoenami in een. Verwoestende passie. (As sy lus is, was sy darem die skottelgoed, die merrie! Dan weerklink dit in die kloof waarin ons bly van potte en panne en borde wat hardhandig gewas word. Dan is Desiree en die vloer sopnat!)
Hierdie week was die week van die koek.
Ons stoorkamer het rakke vol koekpanne, rollers en allerlei gadgets want ons kook en bak graag in hierdie berghuis. Ons het ’n rak vol toorgoed, soos ekstrakte, kleursels, verskillende suikers, mele, sprinkels.
Maar ondanks dit, het Desiree ’n paar honderd rand se smere en versierings vir die koek gaan koop. (Ons bly moerse ver uit die dorp, maar Giel is ’n wonderlike pa, hy kners sy tande, maar hy swipe sy kaart by die bakwinkel X).
Met haar wilde passie vir dinge bymekaar gooi, het ek liefs met die bakmetode gehelp. ’n Koek is mos maar ’n wetenskaplike, sensitiewe proses en mens kan nie net ’n hand van die en ’n skoot van daai ingooi nie. Die risiko dat ’n flop van ’n koek Desiree kan ontstel, is ook net te groot.
Ek het die Kenwood, handmenger, al die bestanddele en twee voorskote uitgepak en ons het begin. Dit was ’n wilde, lekker oggend. Ek wens ek kon die proses verfilm. Die blink in haar oë as sy na my opkyk en gelukkig glimlag, die diep frons van konsentrasie as sy meng dat die deeg spat. Sy het geklits, gemeng en gesmeer.
Ek het my hart vasgehou terwyl ons die koek in die oond gesit het, want ’n teleurstelling en die AF kan groot wees.
Die koek het hemels gerys en soos ’n droom uit die pan geval. Perfek!
Vir die versiering het ek haar alleen gelos. Sy en haar sak versierings, wat haar geduldige pa gekoop het.
Peperduur kersiemengsel tussen die lae. Versiersuiker met egte plaasbotter, blink balletjies en silwer knopies, gevul met sjokolade. Soentjie-swieties om die kante. Wit plastiekversiersel op die bo-laag en konfyt (gemengde vrugte, of vloerpolish, soos ons koshuisrotte altyd gesê het), met ’n stensel afgedruk, bo-op.
’n Oordadige koek. ’n Mooi een.
Toe moes ons teeparty hou.
Ons bly taamlik afgesonder in ’n kloof tussen berge in Mpumalanga. Ons is ’n klein gemeenskap hier in die kloof en baie dae sien ons net een mens, Louis, ons 85-jarige buurman wat hoër op in die kloof bly. Erich en Annie se huis is die verste op in die kloof en hulle is, soos ons, ook permanente inwoners. Baie van die ander inwoners kom net soms vir ’n naweek.
Lees ook: Windswael: Paaie
Ons sien Louis die meeste. Hy is ’n Ierse omie wat al dekades lank in Suid-Afrika bly. Hy stap soms oor vir gesels, en soms om Edwina, sy kat, te kom soek. (Oor Edwina wil ek nog skryf!) Dan praat ons oor hoe stout die ape is, en waar die bobbejane vandag weer verbygetrek het. Kloofstories.
Louis, Erich en Annie is amptelik na die teeparty genooi. Ek moes die tafel dek en die dek skrop vir die okkasie. (Madam het na haar kamer verdwyn om musiek te luister …)
Die kruks van my storie oor die koek gaan oor die liefde wat Desiree in die bestanddele ingewerk het. En, die liefde van die mense wat die teeparty bygewoon het. Mense wat Desiree verstaan en haar liefhet.
Mildelike snye koek is geëet terwyl sy blinkoog en gelukkig toegekyk het. Sy het nog idees bespreek van toekomstige koeke. Wilde kombinasies.
My hart bewe al die hele week van emosie oor die koek. Dit het vir ’n groot OP in ons huis gesorg. Desiree het geblom. Dit is belangrik dat sy voel sy bereik iets. Dis belangrik dat sy ’n taak suksesvol kan voltooi. Dit laat haar voel sy beteken iets. Mense verstaan nie altyd hoe moeilik die voltooi van ’n taak is as jy moet veg teen soveel dinge wat in jou kop aangaan nie.
Ja, daar is tye wat sy (en ons) ’n AF beleef, en na al die jare ontstel dit my steeds. Daar is trane en frustrasie, maar deur dit alles weet sy ons het haar lief.
Ek weet sy word soms vir my en haar pa kwaad as ons raas. Maar sy weet ons is haar primêre versorgers en ons het haar onvoorwaardelik lief.
Sy vertel die wonderlikste fassinerende stories en skryf gedigte. Sy het ’n skryfvernuf wat baie bekroonde skrywers sal beny. En soms komponeer sy haar eie liedjies en sing vir ons.
Haar AF, trek ons ook AF, maar dan is daar dae wat sy ons druk dat ons ribbes kraak en groot nat spoegsoene gee.
Mens moet die vreemdhede van haar siekte verstaan, verwerk, aanvaar.
Maar dan kry jy ’n OP week, soos dié een.
Die versiering van Desiree se koek het al die elemente van ons lewe bevat. Haar oordaad, passie.
Die surigheid van die kersies, die soet van die versiersel … en die klipharde soentjie-swieties wat sy rondom die koek geplak het.
Dis ons lewe.
Harde swieties, maar dit is soet soentjies.
As jy van Windswael: Die koek gehou het: Lees nog van Martie Swanepoel se blogplasings vir ons, genaamd Windswael
Het jy geweet?
Martie skryf ook vervolgverhale vir rooi rose! Klik hier om haar vervolgverhaal, Vlam te begin lees.
Ons het ook ’n podsending gemaak van haar verhaal Botox, Barbies en Bietse, en dis voorgelees deur Elize Cawood. Klik hier om te begin luister!