Windswael: Die Jakaranda en die luiperd deur Martie Swanepoel.
Net links onder die rotse waar die witkruisarend soms vir hom ’n dassie vir aandete kom vang, verskyn dit toe onlangs. ’n Pers kol blomme teen die berghang.
Giel sit regop op sy dekstoel. Waaragtig! Die blêddie Jakaranda het die aanslag op sy lewe oorleef! ’n Ent regs teen die berg slaan daar ’n dag later nog ’n pers kol uit. Daai een het ook oorleef!
Giel is ’n geswore ‘tree hugger’. Voorsitter van die dendrologiese vereniging se Boekenhout-boomklub. ’n Boompiemaatjie. Soos voëlkykers, ’n spesie op hul eie. Boompuriste.
Nietemin, geen geswore lid van dié uitgelese geselskap wil op sy dek sit en ’n Jakaranda sien nie. Uitheems. Ga! Dit sal nie deug teen ons krans nie. Soos die Lantana-bosse en die Lady of the Night, wat hulle ook teen die hange tuismaak. Ongenooides.
Bergbas, kasuur, drolpere, laventelbome, wildesering, karee. Hulle mag teen Giel se berghang groei. Hier groei 36 inheemse bome net rondom ons huis. Vir die indringers trek Giel en sy helper, Solly, hul wapenrustings aan. Saag, gif, byl.
Na Giel se hartoperasie kan hy nie meer die berg soos ’n ribbok uitklim nie. ’n Jaar gelede stuur hy Solly teen die berg uit. ’n Missie om Lantanas, en spesifiek die twee Jakarandas, te gaan vermoor. Solly het ’n paar uur weggbly en met sy neerdaal verseker die moorde op die twee uitheemse uitvaagsels is gepleeg.
Maar toe slaan hulle vanjaar weer uit. Pers kolle des aantoots teen die hange van honderde skakerings van groen. Of Solly het verkeerde bome vermoor, of ’n Jakaranda is ’n hardnekkige kalant.
Giel beduie onlangs weer vir Solly na die pers kolle. “Jy sal weer moet klim met die saag en gif.”
Maar Solly steek vas. Die nuus dat die luiperds deesdae baie doenig is is teen ons kranse het die Langkloof bereik.
“Maar die luiperd loop nie in die dag nie,” keer Giel.
Solly steek vas.
Heksie ook. Sy is dr. Kevin se Herdershond. Hulle bly ’n ent hoër op in die kloof. Heksie is nog ’n jong hond en eintlik aangeskaf om saam dr. Kevin se vrou te ry as sy laataand diens by die hospitaal doen. Heksie is veronderstel om ’n dapper hond te wees, maar deesdae is sy bang. As Kevin of Willie met haar die kloof opstap, is sy gewoonlik baldadig en verken elke bos. Maar onlangs het sy by ’n sekere punt begin vassteek. Naby waar Erich se skoonseun die spore gekry het. Luiperdspore.
’n Werker het onlangs beweer hy het gesien hoe die luiperd ’n dassie teen die krans jaag. Hmm ja, sien is glo.
Toe verskyn ta een middag onverwags langs die pas toe Giel huis toe ry. Ou Spotty. Hy kyk vier Giel en Giel kyk vir hom. Hy sit rustig langs die pad. Giel dink hy sal maar uitklim en Spotty nader leer ken.
Ggggsss! Blaas Spotty.
Giel klim vinnig terug in die kar.
Van die boere in die omgewing het al gekla oor kalwers en selfs ’n volstruis wat gevang is.
’n Ruk na sy ontmoeting met Spotty het Giel die luiperd se spoor by Wally se huis gekry. Marie het glo gesien hoe die luiperd die bobbejane jaag.
Buurman, Jonathan, se brakke het nou een aand vreeslik tekere gegaan. Hy het met sy flits uit die kombuisdeur gelig en toe lê die luiperd-wyfie daar met haar welpie langs sy tuinhuisie. Lekker lui uitgestrek met haar kolle-lyf.
Die nuus dat die luiperds naby die huise kom, sal ten minste sorg dat geen rondloper dit snags in ons kloof gaan waag nie.
Ons kloof-blyers stap almal graag. Ons kinders en kleinkinders speel buite.
Erich, wat hoër op in die kloof bly, se plan is dat hy ’n kort knuppel gaan saamdra as hy gaan stap.
“Luiperds val van agter aan,” het Giel sy plan se borrel gebars.
Ons handhaaf ’n goeie beleid hier in die kloof. Die diere was eerste hier. Dis hul tuiste en ons is die intrekkers. Die luiperds is al lank teen hierdie berghange en vir ons is dit ’n voorreg om te weet hulle is daar.
Ek gaan nie ophou om deur die klowe te stap nie. As ’n luiperd dink ek is ’n sappige vangs, sal dit ten minste vir ’n glorieryke einde sorg.
Daar is ander indringers waaroor ons ons eerder gaan bekommer, soos die Jakarandas, Lantanas en ander ongewenste gewasse. Hulle dring in waar ons eie natuurerfenis moet groei.
Ons probleem is nou om weer vir Solly te oortuig om die berg uit te klim om vir ons die Jakaranda-moord teen die krans te gaan pleeg. Solly, of ’n ander verkenner.
Want elke keer as Giel op die dek sit en kyk en na die berg kyk, weet hy daardie twee bome is daar.
Lees nog blogs uit die pen van Martie Swanepoel:
Windswael: “’n tiet om te kom en ’n tiet om te gaan”