kategorieë: LeesOntspanning

Windswael: Die Bergfee

Windswael: Die bergfee deur Martie Swanepoel

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

C.S. Lewis het gesê mens sal eendag weer oud genoeg word om feëverhale te lees. Ek het nou daardie ouderdom bereik. Maar ek lees hulle nie, ek leef hulle. Want na ’n harde lewe in die korporatiewe wêreld het ek nodig om weer aan feetjies te glo.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sedert ek Desember my nodigste besittings op ’n sleepwaentjie gepak het en met my amptelike aftrede na ons berghuis getrek het, het ek ’n ware bergfee geword.

Weg van die korporatiewe loopbaan van 37 jaar kry ek weer kans om op my tyd deur die natuur te dwaal en my te verlustig aan die fantasie om my. Dit het my uitgebrande siel stukkie vir stukkie weer heel gemaak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Elke dag dartel my feëvlerke saam met vlinders soos die African Monarch met sy oranje en swart vlerke, die geel pansy-skoenlapper en die patrysvlindertjie verby fyn veldblomme wat in die klowe en in die veld om ons huis wegkruip. Op my roetes raak ek meegevoer deur die klein natuurwonders in die blare van die Aptosimum indivisum, Ornithogalum juncifolium, Relhania pungens, Aristea abyssinica en die Helichrysum ecklonis. Vingerhoedjies, sterblomme, wilde stokroos, rivierlelies, kalkoentjies, heuningblom, osbossie, skaapstertjie, wilde balsem, klein rooi disas, en wilde salie.

Ek verwonder my aan wilde appelkose, gifappeltjies, mispels en stamvrugte. Op my staptogte is daar kantvlerkies, liewenheerbesies, toktokkies, miskruiers, sjongolôlos en reënspinnekoppe. Oor die waterlelies in ons damme swiep die rooinerfie en waterjuffers van alle kleure. Waterhondjies tart die rooistreep-kurpers en baars.

Mens kan kies wat jy raak wil sien. Jy kan vir oefening teen die aftelling van die pedometer-toep op jou foon stap, of jy kan met jou oë aan die fyn netwerk op die vlerk van die naaldekoker raak, of al langs die fyn piksels in die sonstrale deur die bome reis tot by die wonderwêreld waar jy as kind feetjies sien vlieg het in die sonstrale deur jou ma se sonfiltergordyne.

Al wat jy nodig het, is ’n bietjie kinderlike geloof en feetjie-stof in jou siniese oë … en tyd.

Toe ek klein was, het die feetjies in ons voortuin langs die kraan gebly. Ek en my sussie het daar ’n dammetjie gegrawe as ons met ons karretjies speel. Maar as ek alleen gespeel het, het ek met my feetjies gesels. Ek het stukkies mos soos ’n grasperkie gepak en hulle fyngemaakte roosblare en oranje bessies uit my ouma se pyracantha-heining gevoer.

Die mensdom word al lank betower deur die gedagte dat klein gevleuelde wesens in ons tuine en woude woon, wat die bome en blomme wat hulle bewoon, beskerm.

Navorsing wat toon dat baie volwassenes in die werklike bestaan van hierdie klein wesens glo, verbaas my nie. Die bestaan van feetjies is steeds ’n integrale deel van baie kinderjareverhale. Altesame 44% van Britte het laasjaar in ’n studie getoon dat hulle glo feetjies bestaan werklik.

Daar is studies wat die oorsprong van feetjies in bose okkulte soek, maar vir my is dit ’n stukkie kinderjare wat ek in my hart bewaar het. Ek sien die bestaan van feetjies in die bos veldblomme in my sitkamer. Elke vlerkie ’n ander kleur. Fyn stuifmeelvoelers.

Ek het hulle nog altyd op my reise deur my volwasse lewe gesoek. Ek het ure aaneen met my kamera op my knieë in die reënwoud langs die Victoria-watervalle rondgekruip om elke fyn blommetjie en insek af te kon afneem. Ek het hulle aan die voet van Kilimandjaro en die heilige woude langs Dar Es Salaam gesien. Hulle woon in die Weense woude en in die winterlelies in die Switserse Alpe. Op sulke plekke het ek nog altyd dieselfde opgewondenheid in my gevoel, soos toe ek as kind na feetjies in die vlei naby ons huis gesoek het.

Ek het as joernalis die voorreg gehad om in die skrywer Dalene Matthee se Knysna-woud te stap. Sy het ook die magiese in die natuur raaksien, en ek glo dit is wat mense in haar skryfwerk boei. Jy ruik die dennenaalde van haar bos, jou vingers streel oor die klamheid van die mos as jy haar werk lees.

Ek het op ’n keer ure rondgedwaal tussen die antieke feetjie-skilderye van Ruby Reeves in die George Museum. Fyn waterverf-detail deur ’n vrou wat dinge kon raaksien soos ek en Dalene en ander volwassenes, wat weet waar om te kyk.

Op my boekrak is daar boeke soos How to Find Flower Fairies van Mary Cicely, Good Night, Fairies van Kathleen Hague en The Dollhouse Fairy van Jane Ray.

My hart het lanklaas met soveel opwinding gebewe as toe ek onlangs by Kaapsehoop in ’n dennewoud klippe met fyn mos en sampioene van alle kleure kon afneem. Op my knieë was ek weer weggvoer na die klein dogtertjie wat ’n feetjietuin langs haar pa se tuinkraan gebou het.

Lees ook: Kaapsehoop, plek van die wilde perde

Tussen die mos, dennenaalde en plate sampioene het ek hulle weer ervaar. Klein wesens wat nog altyd deel was van my fantasie. Wat deel is van hoe ek die natuur in fyn detail waarneem.

So twee kilometers op in die kloof vanaf ons berghuis, is daar ’n natuurlike reënwoud. Dis daar, waar die sonstrale deur die loofdak van die bome breek, wat ek weer soos ’n kind kan glo.

Ek sien geheime deurtjies in boomstamme en waardeer die sagte skakerings waarin verskillende sampioenspesies hul karakter toon. Die klamheid van die verrotte blare onder die bome, die groei van die mos. Dan vlieg my kop saam met die fyn vlerkies van ’n naaldekoker, weg van die hardheid van die lewe.

William Butler Yeats stel dit so mooi:

Come Fairies, take me out of this dull world, for I would ride with you upon the wind and dance upon the mountains like a flame!

Lees nog Windswael-blogplasings:

“’n Tiet om te kom en ’n tiet om te gaan”

Alleenvlug

Eenvoud van geloof

Paaie

Kaptein se kruis

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Bobby en sy Annatjie se paaie skei: Hier’s hul laaste onderhoud met rooi rose

Deur RIËTTE VAN DER WAT. Foto's: WILLEM BOTHA.   Dis ’n bedrywige oggend in die…

14 hours Gelede

Pas bekend: ‘Die Byl’ se sesde seisoen is om die draai!

Die misdaadreeks Die Byl maak geskiedenis met sy sesde seisoen, wat in Januarie 2025 begin. Dié…

15 hours Gelede

5 ligte aandetes vir die somer

In die warm somermaande sien mens nie kans om swaar etes te eet, of om…

15 hours Gelede

ARD Matthews en Tanya van Graan het sopas ‘n liedjie vrygestel – en ja, hulle is verlief!

ARD Matthews, `n ikoniese figuur in Suid-Afrikaanse musiek met 'n nalatenskap wat oor dekades strek,…

17 hours Gelede

10 redes waarom jy die Desember-uitgawe van rooi rose móét lees!

  Suzette en Skye: Sielsmaats met die liefde saamgesnoer    Suzette van der Merwe…

4 days Gelede

Van ‘slop’ tot ‘demure’: Hier’s die ses woorde wat meeding om Oxford se Woord van die Jaar

Vanjaar se kortlys, wat van dié jaar se gemoedstoestande en gesprekke opsom, is deur OUP…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.