Wilmari Senekal: Jou rug teen myne maak ons albei sterker

Deur Rentia Mynhardt. Foto’s: Gerduan Kemp

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die RugTeenRug-inisiatief is ʼn platform wat goeie Afrikaanse musiek bevorder deur opkomende, onafhanklike kunstenaars te ondersteun. Blootstelling by feeste en op TV is goud werd en dit is dan ook waar hierdie kunstenaars die kans kry om hul stemme te laat hoor. Wilmari Senekal is een van die kunstenaars wat besig is om onder hierdie handelsmerk naam te maak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

In diepseeduik of gevegskuns word daar van “rug-teen-rug” gepraat as ʼn tegniek waar twee duikers of soldate met hulle rûe teen mekaar staan sodat albei 360˚ beskerm word omdat alle flanke op dié manier gedek kan word. Die naam van die musiekinisiatief deur The B4i Project – waaronder ontbytSAKE, die ontbytprogram op kykNET, ook val – is op hierdie beginsel gegrond.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

RugTeenRug

Die RugTeenRug-platform het in 2022 ontstaan as ʼn platform waar opkomende, onafhanklike Afrikaanse kunstenaars ondersteun word om te ontwikkel en meer blootstelling te kry. Dit het met ʼn liedjieskryfkompetisie op ontbytSAKE begin. Die wenlied “Rug teen rug”, is deur Ruan Jordaan geskryf en deur Muller Brandt, sanger en deesdae ook musiekhoof van RugTeenRug, opgeneem.

Louis McLaren, die uitvoerende hoof van The B4i Project-groep van maatskappye, verduidelik: “As ʼn kunstenaar rug teen rug met ons platform staan, is sy kanse baie beter as wanneer jy alleen sou staan. Ons ondersteun kunstenaars om in alle opsigte die beste weergawe van hulself te wees, gee hulle lugtyd op ontbytSAKE asook die geleentheid om by groot feeste op te tree en in die publieke oog te kom, iets wat andersins baie moeilik deur opkomende kunstenaars vroeg in hul loopbane reggekry kan word.”

Daar is tans 20 kunstenaars wat onder die RugTeenRug-handelsmerk bygestaan word en die kans kry om hul      eie vlerke te sprei en naam te maak. ʼn Professionele produksie (onder die BitterLekker-vaandel) word vir feeste deur die bekroonde Willie Venter aanmekaar gesit waar ʼn groep van sowat vyf RugTeenRug-kunstenaars vir omtrent ʼn uur lank individueel maar ook saam sing en só blootstelling kry. “Hulle hoef nie ʼn optrede alleen te maak werk nie; almal kry ʼn kans, maar die druk is net soveel minder en die rugsteun en beplanning in die agtergrond is uiters professioneel.” Dit is ʼn wen-wen-situasie: BitterLekker-produksies vir én deur bitter lekker mense!

Die RugTeenRug-logo beeld perfek uit waarvoor hulle staan met 2 r’e, rugkante teen mekaar, wat die illusie van ʼn musieknoot op ʼn notebalk vorm.

“Dis vir ons belangrik om dit wat ons aan ons kunstenaars belowe, uit te voer, en dit is hoekom ons eerder ʼn beperkte hoeveelheid kunstenaars aan boord kry,” verduidelik Louis. “Ons het onlangs 100 onafhanklike kunstenaars vir deelname aan die Aitsa-toekennings geborg, en ons het ook ons RugTeenRug-kunstenaars se inskrywings by die Afri-Indie toekenningsaand vir onafhanklike kunstenaars in Afrika geborg.”

Wilmari Senekal is een van die opkomende kunstenaars wat deur RugTeenRug raakgesien is en besig is om te danke aan die blootstelling wat hierdie platform haar bied, as kunstenaar in eie reg naam te maak.

Wilmari Senekal

Vra jy hierdie 26-jarige blondekop uit oor haar grootwordjare, antwoord sy baie spesifiek: “Ek is om 22:10 in die pragtige Jakarandastad gebore, wat waarskynlik die rede is hoekom ek eerder ʼn naguil as ʼn oggendmens is!” Sy vertel opgeruimd hoe sy haar kinderjare met pannekoek, tee met baie melk, motorfiets ry, en krieket en rugby speel saam met haar broer en twee nefies assosieer. “Ek was glad nie ʼn girly girl nie.”

Nadat sy aan Hoërskool Garsfontein gematrikuleer het (sy wou hoofsaaklik dié skool bywoon omdat hulle drama as vak aangebied het), het sy as Tukkie grondslagfase-onderwys studeer. Ná twee jaar se aanlyn studies gedurende die grendeltyd kon sy steeds haar graad met lof slaag.

Haar sangloopbaan as sopraan het na regte al as kleuter van vyf jaar oud begin. Hoewel sy aanvanklik blatant geweier het om Pinnochio op die verhoog te sing, het sy van sewe af as koorlid en eisteddfod-deelnemer heelwat meer selfvertroue begin kry. In graad 2 is sy as junior “Idol” van die skool aangewys, en in graad 7 as eisteddfod-graadwenner in Pretoria, sowel as laerskoolwenner van Musiek en liriek, wat destyds op Radio Pretoria uitgesaai is. Daarna was dit die een na die ander solo-item in konserte en hoofrolle in musiekblyspele. “Ek het net tot in graad 10 in die skookoor gesing, want dit was nie meer vir my lekker om so stil te staan terwyl ek sing nie!”

Om te sing mag wel ʼn aangebore talent wees, maar net soos enige sport verg sang goeie afrigting en baie ure se oefening om jouself te bly ontwikkel en verbeter. “Ek het van graad 1 af vir tien jaar lank sanglesse by my ouma Louise Senekal gekry, wat self haar buiging in die Afrikaanse musiekbedryf gemaak het. S‎‎ý was die een wat my alles van musiek geleer het en ek het ook onder haar begeleiding aan vele kunswedstryde deelgeneem.” Deesdae ontvang sy weekliks sanglesse by Christo Botha, wat al haar talent raakgesien het toe hy haar as hoërskoolleerder moes beoordeel. “Ek doen daagliks spesifieke stemoefeninge, maar om eerlik te wees, loop ek eintlik heeldag en sing!” Met haar gesonde dosis ritme en liefde vir dans, is dit te verstane dat sy uiteindelik haar balletklasse vir hip hop-klasse geruil het!

Wilmari hou van ʼn uitdaging en verkies om in verskillende genres te sing. “Ek wil nie net in een boksie wees en net een tipe musiek sing nie. Ek verkies wel om in Afrikaans te sing, hoewel ek al in Engels, Italiaans en Latyn gesing het. Afrikaans is die taal van my hart.” Sy skryf graag haar eie lirieke en sien haarself as ʼn prentjiemens. “Vir my is daar niks beter as om die prentjie wat in my kop is deur middel van musiek aan ander oor te dra nie.”

Wilmari is amptelik in Augustus op ontbytSAKE as ʼn RugTeenRug-kunstenaar bekendgestel waar liedjieskrywers uitgenooi is om spesiaal vir haar ʼn liedjie te skryf. Die wenlied sal tydens die proses aangewys word en dan deur Wilmari opgeneem word, waarna die musiekvideo amptelik later in die jaar tydens ʼn uitsending op ontbytSAKE vrygestel sal word.

Wilmari is deur RugTeenRug gekontak kort nadat ʼn skoolvriend van haar ʼn paar van haar video’s vir Muller Brandt van dié platform gestuur het. Sy is vol lof as sy hieroor gesels: “Hierdie platform ontwikkel my in soveel opsigte, wat ek as onafhanklike kunstenaar nooit so vinnig sou regkry nie. Ek kry die geleentheid om by plekke op te tree waar ek raakgesien word, soos by groot feeste. Ek as RugTeenRug-kunstenaar sing my eie musiek en kan myself op die verhoog wees met behulp van hul ondersteuning met elke tree wat ek gee.” Wilmari is, as deel van RugTeenRug se ondersteuning, ook met haar verhoogvoorkoms bygestaan. “Ek sal my voorkoms beskryf as funky, maar steeds stylvol, met ʼn titseltjie andersheid, want dit is presies wie ek is.”

Sy beskryf die ander kunstenaars wat, soos sy, deur hierdie platform bygestaan word as haar musiekfamilie. “Ons is mekaar se grootste cheerleaders. Almal is opbouend en ondersteunend teenoor mekaar en sal gou kyk of alles reg lyk voor jy op die verhoog stap. Ons gee om vir mekaar en wil mekaar sien wen.”

Wilmari het vroeër vanjaar saam met die RugTeenRug-span ʼn BitterLekker-produksie by Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees gedoen. “Ek tree ook as deel van die span by die B Loved Kleinteater op waar mense na ons kan kom kyk.”

Behalwe om vanjaar bo-op die verhoog in plaas van onder op die grond by Innibos te kon staan, was die opname van haar enkelsnit, “Afrika Sonsak”, wat amper daagliks op verskeie radiostasies gespeel word, ʼn groot musiekhoogtepunt.

Enige bedryf het sy uitdagings en daar sal altyd lesse te leer wees. “Jy gaan nie met jou eerste probeerslag sukses behaal nie. Dis harde werk wat aanhou en uithou vra. Jy gaan dalk nie almal se koppie tee wees nie, maar jy moenie dat ander se menings jou onderkry nie. Glo in jouself en in jou drome en hou aan doen waarvoor jy lief is.”

Wilmari droom van die dag wat sy by ʼn groot fees optree, die mikrofoon voor haar mond wegvat en hoor hoe die skare haar liedjie woord vir woord saamsing. Sy droom ook om eendag deur verskeie lande, veral Europa, te reis om ook daar haar musiek met mense te deel.

Van die verhoog af geniet sy ʼn goeie speurreeks, oefen graag hard in die gimnasium, en drink sowat tien koppies tee per dag. Sy hou van haar rooivleis sappig – net-net deur die veearts gered – en vermy liefs die winkels omdat sy mal is oor inkopies doen. “My ouers, broer, skoonsussie en silver dapple-worshond is baie na aan my hart, en Christenskap speel ʼn enorme rol in my lewe. Ek glo dat alles in my lewe op die Here se tyd en nie op myne nie gebeur.”

Hierdie RugTeenRug-blondekop is pure bruiswater – lekker om na te kyk én te luister. Dis mos nou bitter lekker!

Wilmari kan gekontak word by admin@rugteenrug.co.za

Lees ook: Ons gesels met Geon Nel oor NNK: “Waar daar donkerte is, is daar lig”

Deel
Gepubliseer deur
Karlien Meiring

Onlangse plasings

MSI Vakansieverkope: Maak die Perfekte Geskenk Oop Hierdie Seisoen!

MSI is opgewonde om ons eksklusiewe vakansieverkope aan te kondig, wat van 10 Desember tot…

2 weeks Gelede

Maak vanjaar jou beste jaar

Die lewe is te kort om al jou eie foute te maak. Leer by ander…

2 weeks Gelede

Skoonheidsprodukte: foute wat almal maak

Los jy jou potjies se deksels oop of staan jou skoonheidsprodukte in die son? Dan…

2 weeks Gelede

Maklike gemmerbier – sonder gis

Maak hierdie maklike gemmerbier - dit bevat nie gis nie! Dis die heerlikste afkoel-drankie.

2 weeks Gelede

Ken jou vonkelwyn

Vonkelwyn is ryk aan geskiedenis Die tradisie om met vonkelwyn iets te vier word histories…

2 weeks Gelede

5 maniere om jou dag reg te begin

Met hierdie wenke sal jy soggens die spreekwoordelike gousblom eerder as die molshoop wees, al…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.