• 300 g vetterige beesvleis, in ’n vleismeul gemaal, vra andersins jou slagter
• 300 g vetterige spek, in ’n vleismeul gemaal, vra andersins jou slagter
• 1,6 kg wildsvleis, ons het eland gebruik
• 100 ml yskoue water
• 10 g gemaalde koljander
• 7 g droë brandrissievlokkies
• 5 g knoffel, fyn gekap
• 100 g Crown Farmers Style-speserymengsel
Instructions
Spoel die skaapderms deeglik onder koue, lopende water af. Meng die beesvleis, spek, wildsvleis, koljander, brandrissie en knoffel in ’n groot mengbak. Voeg die speserymengsel bietjies op ’n slag by. Proe eers en geur dan volgens smaak.
Voeg die water by en sit die mengsel in ’n groot spuitsak met ’n tuit van 2 cm. Sit die punt van die derm oor die opening van die tuit (werk versigtig) en ryg so veel moontlik van die derm op die tuit en maak ’n stewige knoop aan die onderkant.
Druk die vleis met ’n ferm beweging uit die spuitsak in die derm. Moenie te hard of te vinnig druk nie, die derm sal skeur. Druk ook deurentyd die luggate uit. Moenie die wors te styf stop nie, want dit sal bars as dit gaargemaak word.
Los sowat 3cm van die derm oop sodat jy dit kan knoop. Laat die wors vir ’n dag in die yskas rus sodat dit kan uitdroog en die geure kan ontwikkel.