Wie is die swakker vat?
’n Ruk gelede skryf me Charlotte Allen in die Washington Post sy is oortuig daarvan dat vroue tog die swakkere vat is. Die stryd van die Amerikaanse presidentskandidate, en veral die optrede van vroue by die vergaderings, het haar oortuiging versterk. Sy skaam haar morsdood vir die vroue wat so gil en te kere gaan oor Barack Obama. Hoe kan vroue flou val as hulle ’n moontlike president sien? En dit uit pure ekstase.
Dié irrasionele optrede laat haar glo die vroulike brein word deur emosies en hormone oorheers. Waar is die stem van die rede in die verkiesingsveldtog?
Moenie dink Hillary Clinton vaar beter in haar oë nie. Sy dink Clinton se verkiesingsveldtog was die swakste tot nog toe. Sy sê onder meer Hillary kan nie argumenteer nie. Sy soek simpatie deur soos ’n kindjie by die juffrou te huil dat die seuns “lelik” met haar is. Kan so ’n vrou president word van die sterkste land in die wêreld? “Wat is dit omtrent ons vroue? Waarom swig ons voor die histeriese, die sentimentele, die oppervlakkige?” vra sy moedeloos.
En sy verwys na die beste niefiksieverkoper onder Amerikaanse vroue. Die outobiografie handel oor ’n vrou wat haar goeie man verkul, Italië toe vlug, daar 27 pond aansit van al die lekker eet, Indië toe gaan om te mediteer en op ’n Indonesiese strand ’n Latynse minnaar raakloop. Die vroue drink die kaf in, skryf sy. Kos, klere, seks en ’n twyfelagtige goedvoelgodsdiens maak hul hele wêreld uit. Hoe pateties!
Is sy reg?
Kyk dan na die brief (op die Internet gekry) wat ook sentimenteel klink, maar ’n ander waarheid vestig.
Toe jy agt was, het jou ma jou bederf met ’n roomys. Jy het haar bedank deur jou broek vol roomys te mors.
Toe jy nege was, het sy ten duurste vir jou klavierlesse betaal. Jy het haar bedank deur nooit te oefen nie.
Toe jy tien was, was sy jou taxi wat jou oral heen rondgery het. Jy het haar bedank deur uit te spring sonder om te groet.
Toe jy elf was, het sy jou en jou vriende fliek toe gevat. Jy het haar bedank deur haar die dood voor oë te sweer as sy in dieselfde ry as julle sit.
Op 12 het sy jou verbied om bepaalde TV-programme te kyk. Sy het jou daarmee vertrou. Jy het haar bedank deur pal daarna te kyk.
Toe jy 13 was, wou sy jou hare ordentlik laat sny. Jy het haar voor die barbier uitgetrap en van swak smaak beskuldig.
Toe jy 14 was, het sy jou op ’n skooltoer Zimbabwe toe gestuur. Jy het haar bedank deur nooit van jou te laat hoor nie.
Toe jy 15 was, en sy soms met jou wou gesels, het jy haar bedank deur jou kamerdeur te sluit.
Toe jy 16 was, het sy jou geleer motor bestuur. Jy het haar bedank deur saans die kar te steel.
Op 17 het sy een aand vir ’n baie belangrike oproep gewag. Jy het haar bedank deur heelaand op haar foon met jou meisie te praat.
Op 18 het jy matriek geslaag. Sy het gehuil van trots. Jy het haar bedank deur heelnag uit te bly sonder dat sy geweet het waar jy is.
Op 19 wou sy help om jou klere in jou koshuiskamer uit te pak. Jy het haar bedank deur haar in die voorportaal te groet.
Op 25 het sy help betaal aan jou troue. En vir jou vrou vertel hoe sy nog altyd op jou kon staatmaak. Jy het haar bedank deur te emigreer.
Toe jy 50 was, het sy geval en is in die hospitaal dood.
Jy was te laat om haar te bedank.
Was sy dom en eenvoudig? Of was die seun blind en onnosel? Miskien moet ons vir me Allen die ou bekende Bybelgrappie vertel: Adam wou by die Here weet hoekom hy Eva so mooi gemaak het. “Sodat jy op haar verlief kon raak,” kom die antwoord. Toe vra Adam: “Maar hoekom het U haar so dom gemaak?” En toe kom die antwoord: “Sodat sy op jou verlief kon raak.”
Aan al die sentimentele, maar toegewyde, en selfs afgesloofde ma’s: Gelukkige Moedersdag.
Ek hoop julle kinders bederf julle. Ek was te laat. My ma is reeds dood.