Dis toe ek die soveelste keer ‘n geldjie uit my beursie haal vir ‘n karwag wat – as ek eerlik moet wees – geen merkbare bydrae gelewer het tot die veiligheid van my voertuig nie, dat ek oor werk begin wonder. Hoe werk werk, en hoe werk vergoeding?
Party mense kry kommissie, ander word per uur of per projek betaal, en dan is daar salaristrekkers soos ek. Ek het een keer gelees predikante en huisvroue ervaar ‘n groot mate van frustrasie omdat hul werk nie duidelik omlyn is nie en hulle voel hulle kry nooit klaar nie.
Ek kon net sowel ‘n predikant of ‘n huisvrou gewees het, want ek het die edel maar onpraktiese oortuiging dat ek dag en nag behoort te werk. Doen ek dit, is ek poegaai. Doen ek dit nié, is ek ongedurig. (Ek is heeltemal te slim om te laat glip of ek merendeels poegaai of ongedurig is …)
Die probleem, besef ek, lê by my definisie van werk. Wanneer ek navorsing doen of artikels skryf, voel dit of ek werk. E-posse, nasorg of administratiewe takies is “onproduktief”; dit voel nie na regtige-egtige werk nie. Daar is geen bewyse dat ek dit gedoen het nie, nes niemand dit oplet wanneer ‘n huis skoon is nie.
Ek dink ek moet ‘n wag oor my denke aanstel. Enige gedagte wat hoe ookal na werk herlei kan word – soos ‘n denksaadjie vir ‘n artikel, ‘n aanhaling wat ek op ‘n brokkiesblad kan gebruik, of die lees van enigiets wat my horisonne verbreed – moet onmiddellik as “werk” geëtiketteer word. Ingewings onder die stort ook. En die plannetjies wat ek uitdink terwyl ek motor bestuur.
Dalk moet ek by daardie karwag gaan kers opsteek. As hy opdaag en skitterwit glimlag, het hy volgens hom klaar sy brood verdien.
Net more skaf ek ‘n nuwe, superdoeltreffende buisie tandepasta aan.
.