Het jy geweet drie uit die vyf renosterspesies word erg bedreig? Ons gesels met Bonné de Bod, bekende kampvegter vir renosters, oor wat #WorldRhinoDay behels en waarom mense die belangrikheid van renosterbewaring moet besef.
Wat behels Wêreld Renoster-dag?
Dit is ’n dag waar die wêreld se media kennis neem van renosters, ’n dag waar hierdie pragtige diere se ikoniese status en natuurlike skoonheid gevier word. Maar dit is natuurlik ook ’n dag waar die publiek opnuut herinner word aan die stropingskrisis.
As gevolg van die stropingskrisis is elke dag ’n ‘renosterdag’ vir baie Suid-Afrikaners. Ek hoef nie ons almal te herinner dat ons veldwagters, manne en vroue in die polisie, teenstropingseenhede en selfs informante het wat ons renosters beskerm nie.
Dan is daar die veeartse, versorgers en rehabiliteerders van wees-renostertjies wat ons beseerde renosters versorg. Wanneer ’n renoster gestroop word, het ons die ondersoekbeamptes en staatsaanklaers wat baie hard werk om aangekeerde stropers suksesvol te vervolg. Maar die belangrikste in hierdie stryd is elke Suid-Afrikaner. Ons moet aanhou om die boodskap uit te dra dat ons renosters belangrik is en van hierdie genadelose slagting gered moet word. Dit is so eenvoudig soos dit … die wêreld mag dalk renosterdag vier, maar omdat die meerderheid van die wêreld se renosters hier in ons land is, moet ons eienaarskap neem van hierdie dag en opstaan vir ons erfenis.
Wat beteken dié dag vir jou?
Mens wonder dalk hoekom daar een dag is waar ons al ons fokus op iets spesifieks plaas. Vir my persoonlik is elke dag renosterdag … en natuurlik ook vir elke persoon wat in die voorste linies veg in hierdie oorlog. Ek het heelwat tyd saam met hierdie manne en vroue deurgebring tydens die verfilming van STROOP en wat duidelik is in my gesprekke met hulle, is dat hulle lewens handomkeer verander het. Die spil draai om renosters, dag in en dag uit. So, selfs al is daar een dag waarop die media bewusmaking skep, waar ons praat oor die uitdagings wat ons in die gesig staar, help dit in die stryd. Ek praat op verskeie televisie- en radio-programme en dit is wonderlik. Ek kan hierdie platform gebruik om vir die publiek te laat verstaan dat ons renosters se tyd besig is om min te raak. Dat ons as ’n nasie meer betrokke moet raak en eienaarskap moet neem, want ’n renoster wat gestroop is, is ’n renoster wat van elkeen van ons gesteel is.
“’n Renoster wat gestroop is, is ’n renoster wat van elkeen van ons gesteel is”
Waarom moet mense omgee oor die bewaring van renosters?
Dit is ons erfenis, onvervangbaar en sonder ’n prys en dit verkeer onder geweldige druk. Ons gaan terugkyk op hierdie tyd, miskien 10 jaar van nou, en wonder of dit die draaipunt was en wat gedoen is om die slagting van ons renosters in die natuur te stop. Ons gaan óf die stryd gewen het en die spesie vir ons kleinkinders gered het, óf ons gaan liederlik gefaal het en net ons herhinneringe hê van renosters in die natuur, en hulle in die dieretuin waardeer. Ek kan nie terugsit en kyk hoe dit gebeur nie, en ek dink nie enige Suid-Afrikaner kan nie.
Hoe lyk die statistiek ten opsigte van renosters en renosterstropery tans in Suid-Afrika?
Volgens die regering se jongste vorderingsverslag wat onlangs vrygestel is, het stropers in 2016 tot dusver 702 renosters gestroop, maar daar is nog vier maande van die jaar oor. Ons het verlede jaar (2015) meer as ’n duisend renosters verloor, meer as ’n duisend die jaar voor dit, so wanneer jy daaraan dink … vyf en ’n half duisend renosters is vir hul horings afgemaai en is die land uit geneem Asië toe. Dis eenvoudig ongelooflik en dit sedert 2010, en ons almal onthou daardie jaar, die Wêreldbeker-sokkertoernooi, dit was nie so lank gelede nie. Maar volgens die regering is daar ’n klein afname in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar. Die Kruger Wildtuin het ’n afname gesien maar dan is daar weer ’n toename in ander provinsies. Dit blyk dus dat daar vordering gemaak word en dit is bemoedigend, maar dit is steeds onaanvaarbaar hoog, op hierdie stadium verloor ons 88 renosters per maand.
Wat voorspel jy vir die toekoms van ons renosters?
Dat iets drasties gaan moet verander anders gaan ons ons renosters verloor. Selfs die Minister van Omgewingsake, Edna Molewa, het drie jaar gelede by CITES CoP16 in Bangkok gesê dat wat ons doen nie besig is om te werk nie. En dit was drie jaar gelede.
Ek wonder waar ons oor tien jaar gaan staan. Ek dink persoonlik dat ons nie wilde renosters, soos wat ons hulle ken in ons parke, gaan hê nie. ’n Reuse kopskuif is nodig indien ons hierdie stryd wil wen.
Wat is die harde feite oor renosterstropery waarvan Suid-Afrikaners bewus moet wees?
Renosterhoring is vandag die waardevolste kommoditeit op aarde en ons het die meeste renosters hier, so natuurlik gaan misdaadsindikate ook hier wees. Renosterstropery is lankal nie meer net ’n bewaringsaangeleentheid nie, dit is ’n kriminele saak. Wildlewe-misdaad, insluitend renosterstropery, het ontaard in een van die wêreld se grootste oorgrens georganiseerde misdaadaktiwiteite, naas die handel in dwelms, wapens en mense. Dit is ernstige misdade wat aangevuur word deur aanvraag en korrupsie en bande het met georganiseerde misdaad in baie lande, insluitend terroriste-netwerke. Sedert ek twee jaar gelede met die verfilming van STROOP begin het, het ek gesien hoe ingewikkeld die stropingskrisis is. Dit is ’n probleem met soveel lae, beginnende met die denkwyse van miljoene mense honderde kilometers weg oor die oseaan, wat onwrikbaar glo dat renosterhoring siektes kan genees en dat dit status bring. En ek het dit gesien in die paar weke wat ons in Asië verfilm het. Van vooraanstaande kankerdokters, tot die gebruikers van fyngemaalde renosterhoring tot onwettige handelaars in agterstegies … daar is hierdie diepgewortelde geloof in die magiese krag van renosterhoring.
Op voetsoolvlak in Suid-Afrika begin dit met armoede aangesien baie stropers uit armoedige gemeenskappe rondom ons nasionale parke kom. Daar is is soveel aspekte rondom hierdie krisis.
Wat kan Suid-Afrikaners doen om te help om renosterstroping te bekamp?
Ek kom gereeld in aanraking met mense wat magteloos voel en nie weet hoe om te help nie, maar gewone mense is nie altyd bewus van die buitengewone mag wat binne elkeen van ons lê om beweging van stapel te stuur nie. Ek dink die hele #feesmustfall debakel is ’n uitstekende voorbeeld hiervan. Die studente het in hulle massas saamgestaan om nie net hulle stemme te laat hoor nie, maar met ’n spesifieke uitkoms in gedagte. As Suid-Afrikaners sterk voel oor iets, keer niks hulle om luidkeels te betoog en hulself te laat hoor nie. Ons kan wette verander, maar dit vat moed en durf van ons kant af. Die hele land moet meer betrokke raak, want ons gaan ons renosters verloor. Dis so eenvoudig soos dit.
Ja, donasies help natuurlik altyd, maar onthou dan om jou huiswerk behoorlik te doen voor jy jou organisasie kies. Baie het al hulle vingers verbrand en ek het al eerstehands gesien hoe misleidend baie van hierdie renoster-fondsinsamelingsgroepe kan wees. En dan moet ons aanhou om die renoster se storie te vertel totdat dit deel van die hoofstroom kultuur word. Wie is nie deesdae op sosiale media nie? Ek wil hê die publiek moet ontslae raak van die verskoning “Ek het nie geweet nie” of “Ek kon niks doen nie”.