Liewe Florian, liewe Shireen
Ek kon dié week nie een van die voorbladstories in dagblaaie klaar lees nie. Die elektroniese nuuskanale was nog erger. Florian, elke keer hoor ek jou vreemdeling-stem in twee, drie sinne. Sit dan af en soek liewer die oppervlakkige. Kyk op my muur wat eet mense vir ontbyt, of middagete, Kyk wie kla oor wat, wie wroeg oor wat en wie . . . net om jul snikkend en seer weer te sien. Weer, weer, en weer. Florian en Shireen. Vreemdes. Stukkendes. Weerloses. Uitgelewerdes.
Die naweek net nóg ’n pa en ma. Dae later, tot in die Parlement, op almal se lippe: vermoorde Franziska se pa en ma.
Tuis skud huismense, kollegas, vriend en vyand hul kop: hoe gaan jy verder as jou sestienjarige die een oomblik ’n lewenslustige, drawwende jong mens is en dan, oomblikke later, ’n lewelose lyk onder die fynbos in die Tokai-woud?
Wens ek het geweet.
Hoe slaap jy met een minder onder jou dak? Hoe staan jy op met een minder onder jou dak? Hoe lag jy met een minder onder jou dak? Hoe dek jy tafel met een minder onder jou dak? Hoe eet jy met een minder onder jou dak? Hoe hou jy vakansie met een minder onder jou dak? Hoe kyk jy vorentoe met een minder onder jou dak? Hoe bly jy hier met een minder onder jou dak?
Hoe?
Dít weet ek nie. Ek weet wel: ons moet almal slaap. Ons moet almal opstaan. Ons moet almal lag. Ons moet almal tafel dek. Ons moet almal eet. Ons moet almal vakansie hou. Ons moet almal vorentoe kyk. Ons moet hier bly, dis ons plek.
Vanoggend soek ek Franziska se storie op die oggendkoerant se voorblad. Sy’t binnetoe geskuif. Vervang met stories oor ’n gesteelde kind, ’n verkragte kind, ’n wraaksugtige kind. Vreemdes. Stukkendes. Weerloses. Uitgelewerdes.
Dink weer: hoe? Hoe gaan ek, jy, ons en hulle verder?
Wens ek het geweet.
Tot volgende week,
Marí