5 wenke oor hoe jy vanjaar se Valentynskleure moet dra om by jou styl te pas deur Bea Lingenfelder. Hooffoto: Pixabay
Wenk 1: Pas dit by jou persoonlikheid?
Jou uitrusting verklap so baie van jouself: Jou persoonlikheid en jou gemoed word deur jou voorkoms weerspieël en daarom is dit belangrik om jou beste kenmerke te beklemtoon.
Jou “Valentynspersoonlikheid” kan afgelei word deur te kyk na watter van die rooi en pienk kleurskakerings reeds deel van jou klerekas is: Is dit sag en klassiek of sterk, helder en kreatief?
’n Ligte pienk vertoon sag en vroulik waar rooi met ’n kontrasterende wit meer dramaties is. Dit sal beslis enige nuwe aankoop vergemaklik, omdat jy sal weet waarvoor om uit te kyk en omdat jy dit moontlik weer sal dra na Valentynsdag.
Wenk 2: In ’n ander rooi getooi
Die standaardrooi wat as ’n primêre kleur bekendstaan is ’n baie sterk kleur, en pas vanselfsprekend nie by almal se veltoon nie. Gelukkig is daar nie net die een rooi skakering nie!
Sommige rooie het selfs ’n koeler ondertoon as ander. As jy verskeie rooie teen jou vel hou, sal jy sien dat sommige skakerings jou veltoon meer ophelder. Dieprooi / wynrooi is een van die kleure wat die meeste veltone komplementeer.
#rrWenk: Die geheim lê in die soekproses. Jy sal vanselfsprekend ’n hele paar skakerings moet aanpas om vas te stel watter keuses werk die beste by jou en jou klerekas.
Wenk 3: Jy mag maar neutrale bo helder kleure kies
Die tradisionele Valentynskleure vertoon helder en dramaties, maar as jy nie daarvan hou om met ’n kontrasterende kleurpalet te eksperimenteer nie, kan neutrale kleure jou voorkoms dadelik versag.
Wit is een van die gunstelingopsies om ’n uitrusting te balanseer, maar dit vertoon tog verskillend afhangende van die ander kleure waarmee saam jy dit stileer. Dus kan wit “sterker” vertoon saam met helder rooi of pienk, maar die algemene voorkoms versag as dit saam met ligter pienk gebruik word.
Wenk 4: Rooi en pienk is vuurwarm
Moenie dat hierdie kombinasie jou die skrik op die lyf jaag oor sy sy kontasterende effek nie. Die rooi-en-pienk-voorkoms het sedert 2018 in gewildheid toegneem namate bekendes dit op die rooi tapyt vertoon het, en van toe af kan die modekenners net nie genoeg daarvan kry nie.
Nie almal van ons is egter voorstaanders van die helder rooi en pienk nie. Wissel dit af met ’n poeier- of pastelskakering van pienk saam met boergonje of wynrooi. Jy kan ook die effek van sterk kleure versag soos genoem in wenk 3
Wenk 5: Begin klein
Nie almal van ons is aanhangers van die tradisionele Valentynskleure nie, maar voel tog effens vasgevang in die liefdeskoors wat Februarie kenmerk.
Stylvolle haarversierings is sedert verlede jaar groot nuus in die modewêreld, en nou nog beter nuus vir jou! ’n Tikkie kleur is genoeg om jou betroubare daguitrusting op te kikker.
’n Ander tydlose gunsteling is ’n serpie wat jy vinnig om jou nek, hare of handsak kan bind.