Margaret Gardiner pryk op die voorblad van rooi rose se Maart-uitgawe en gesels onder andere met ons oor haar nuwe boek, Bedorwe Skoonheid: Joey Superster, wat pas (in beide Afrikaans en Engels) in Suid-Afrika bekendgestel is.
Haar eerste roman is ’n uitvloeisel van haar jare lange ervaring in die vermaaklikheidsbedryf en haar perspektief op die maniere waarop mense in die kollig terugslae en mislukking hanteer.
“Ek is opgewonde om my storie met my Suid-Afrikaanse aanhangers te deel – in ’n land wat ek baie liefhet,” sê sy. “Hierdie boek gaan oor hoe ons die uitdagings oorkom wat ons vorm en hoe ons innerlike krag vind te midde van ons diepste struwelinge.”
Welkom in die wêreld van die model Joey Superster – ‘n warrelwind van kokaïen, seks en geld.
Dit lyk asof Josephine Brinkley alles het: Sy is ‘n superstermodel in Amerika tydens die 1980’s, ‘n voorbladmeisie wat kaal op mode-advertensieborde bo Sunset Boulevard pryk. Vroue wil soos sy wees. Mans wil haar eenvoudig net hê. Maar onder die blink lagie fineer skuil ‘n traumatiese verlede.
Die einde van haar huwelik met die Italiaanse aristokrasie het gelei tot ‘n tydperk in rehabilitasie.
Met haar terugkeer na partytjies, premières en modelwerk, hoop sy dat ‘n lewe van ontwerpersklere en glansmense haar nie weer op haar ou weë sal terugneem nie. As sy maar net werklik gesien, gehoor en verstaan kon word, sou sy dalk nie weer op ‘n pad van selfvernietiging gaan nie.
Joey wil die oorsaak van haar wilde, ongetemde gedrag konfronteer – maar moet toegee dat ‘n daad uit haar jeug by haar spook. Terwyl Joey veg van verslawing tot verlossing, kan sy die rigting van haar lewe verander, haar donker verlede hanteer en die superster word wat sy altyd bestem was om te wees?
Die voormalige Mej. Heelal vertel sy is tasbaar opgewonde om Joey, ’n supermodel, se storie te deel. “Joey Superstar is die eerste van ’n reeks Damaged Beauty-boeke wat ek beplan oor goeie meisies wat volgens die reëls probeer speel, seergemaak en gebreek word, en eindelik die grense verskuif om te word wie hulle regtig is,” sê sy.
Die Afrikaanse uitgawe word deur Naledi uitgegee, en beide die Afrikaanse en Engelse weergawes word deur Naledi in Suid-Afrika versprei.
“’n Groot dag het aangebreek vir Naledi. Om Margaret Gardiner se eerste internasionale roman uit te gee, is ’n belangrike mylpaal vir ons. Beide die Engelse en Afrikaanse weergawes verskyn in Maart in Suid-Afrika en sal gepaardgaan met haar besoek aan die land – ’n groot hoogtepunt in ons publikasieprogram,” sê Johan Coetzee, uitvoerende hoof van Naledi.
Om Margaret se boek, Bedorwe Skoonheid: Joey Superster, te bestel, klik hier.
Ter viering van Margaret se nuwe boek, gee ons vir vyf gelukkige lesers elk ‘n kopie en ons Maart-uitgawe wat Margaret geteken het!
Bepalings en voorwaardes: Alle pryse in rooi rose is onderhewig aan beskikbaarheid en is nie oordraagbaar, herverkoopbaar of terugbetaalbaar vir kontant nie. Vir nog bepalings en voorwaardes, besoek www.rooirose.co.za
Om in te skryf, volg @rooirose op Instagram en voltooi die onderstaande vorm:
Sluitingsdatum: 4 April 2025