Welige wenkbroue … en dít met seep. Deur Bianca Muller. Hooffoto: Honey Bee Creations vir Pexels
Jou wenkbroue kan ’n reuse-verskil aan jou voorkoms maak en is daarom ’n belangrike stap in jou grimeerroetine. Die dae van wenkbroue pluk totdat daar slegs ’n dun lyntjie oor is, is lankal verby. Die nuwe mode? Welig en natuurlik. Gryp ’n koekie seep nader vir ’n sakpas-manier om voller wenkbroue in ’n kits te kry. Al wat jy nodig het, is seep (ons stel deurskynende seep voor hoewel enige soort sal werk), ’n bietjie water of grimeersproei en ’n wenkbrouborsel. Jy kan ook ’n wenkbroupotlood byderhand hou as jy jou wenkbroue ná die tyd verder wil afrond.
Volg die stappe
- Maak die koekie seep nat met ’n bietjie water of grimeersproei.
- Vryf die wenkbrouborsel oor die seep totdat dit met seep bedek is.
- Kam die hele wenkbrou skuins en opwaarts. As jy gekleurde seep gebruik, maak seker dat daar nie oorblyfsels op jou wenkbroue agterbly nie.
- Diegene met yler wenkbroue kan die roetine ’n stap verder vat deur ’n wenkbroupotlood te gebruik en in ligte hale in te kleur om die illusie van weliger wenkbroue te skep.
Hierdie metode is baie nuttig as jy nie wenkbroujel het nie. Nie net laat dit jou wenkbroue voller lyk nie, maar die seep se wasagtige tekstuur hou die haartjies ook in plek.
Kyk hierdie video vir ’n demonstrasie van die grimeertegniek.