Wees die verskil wat jy wil sien deur Ilse Salzwedel. Hooffoto: iStock/PeopleImages Foto van Sanet Fagan: Hema Patel.
Wees die verskil wat jy wil sien
As dit soms vir jou voel asof alles in Suid-Afrika net negatief is, is jy nie alleen nie – daarvan getuig die meer as 17 miljoen stemgeregtigdes wat besluit het om nie vanjaar te stem nie.
Dit was die laagste stempersentasie sedert 1994, en is volgens kenners een van die duidelikste tekens dat Suid-Afrikaners van alle rasse siek en sat is vir politici, verkiesingsbeloftes en die vlaag haatspraak en rassisme wat die laaste paar jaar deel van ons diskoers geword het.
Teen hierdie tyd is dit vir die meeste Suid-Afrikaners duidelik dat die oplossings vir ons probleme nie uit politieke geledere gaan kom nie. Inteendeel. Maar hoe gaan ons maak om die verskil – en versoening – wat ons so bitter nodig het te bewerk-stellig?
Die goeie nuus is dat dit gedoen kán word. Een so ’n voorbeeld is die versoeningsinisiatief op Coligny, ’n dorpie in Noordwes wat die afgelope twee jaar in die nuus is. Eers weens die dood van Matlhomoloa Moshoeu (16) wat na bewering deur Pieter Doorewaard en Philip Schutte vermoor is omdat hy glo sonneblomme gesteel het. (Doorewaard en Schutte is skuldig bevind, maar het reeds aansoek gedoen om teen hul skuldigbevinding te appelleer.)
Moshoeu se dood het gelei tot kwaai rassespanning, gewelddadige opstande en huise en sakeondernemings is aan die brand gesteek. Maar sedertdien het Coligny ’n plek van hoop geword waar wit en swart hande gevat het. Hulle het ’n vredesforum gestig en opheffingsprojekte onder die leiding van ds. Tewie Pieters, ’n plaaslike predikant, begin. Dit, vertel die mense van Coligny, is besig om hul hele gemeenskap te verander.
’n Onlangse besoek aan Rwanda het my opnuut laat besef dat versoening en vooruitgang moontlik is, selfs in ’n land waar een miljoen mense – meestal Tutsi’s – tussen April en Julie 1994 vermoor is. In ’n skrale honderd dae is een van die grootste volksmoorde in die moderne wêreldgeskiedenis gepleeg. Familielede het mekaar verraai en bure wat voorheen vreedsaam langs mekaar gewoon het, het mekaar vermoor. Nou, 25 jaar later, is Suid-Afrika skynbaar meer verdeeld as in 1994, terwyl Rwanda skitter. Die land is silwerskoon, die tronke feitlik leeg en die bevolking ywerig aan die woeker.
Deesdae word daar nie meer onderskeid getref tussen die groot bevolkingsgroepe (Hutu’s en Tutsi’s) nie – nou is almal Rwandese.
Maar waar begin ’n mens? Hier is Sanet Fagan van Pretoria se verhaal
Sanet, deesdae hoofuitvoerende beampte van die nie-regeringsorganisasie SA Cares for Life, het alles gehad waarvan sy kon droom. ’n Man, twee kinders en ’n suksesvolle loopbaan in die internasionale hotelbedryf.
“Ek het nog altyd baie ambisie gehad, ek wou naam maak en sukses behaal. Ek wou ander inspireer en ’n verskil maak,” vertel sy.
Sy het altyd eersteklas gevlieg en in die beste hotelle gebly, en haar voorkoms moes natuurlik ook haar loopbaansukses weerspieël. Deesdae sal jy Sanet meestal in jeans en tekkies in die stofstrate van ’n plakkerskamp in Moreletapark in Pretoria aantref.
Sanet was altyd van plan om haar sukses met mense in nood te deel, maar vertel dat sy nooit gevoel het sy verdien genoeg om geld te kon weggee nie. Haar man se bekering in 2011 het ook haar verhouding met God verander, en sy het die duidelike boodskap gekry dat God wil hê sy moet met weeskinders en weduwees werk. Haar wêreldreise het haar laat besef dat Suid-Afrika eintlik ’n wonderlike land met wonderlike mense is. “Daar is so baie mense wat onder die radar fantastiese werk doen. Mense wat regtig omgee, en ’n hart het om ’n verskil te maak, al het hulle soms min. Eintlik is daar ’n hele Suid-Afrika vol sulke mense.”
Maar waar sou sy begin om weduwees en weeskinders te help?
Toe SA Cares for Life, ’n nie-regeringsorganisasie wat na vroue en kinders in gevaar omsien, haar ’n pos as hoofuitvoerende beampte aanbied, het sy dit dadelik aanvaar. “Dit was ’n reuse-besluit wat ook my gesin sou raak – my salaris en voordele het letterlik met die helfte verminder, en party het heeltemal weggeval.”
Maar voor sy kon begin in haar nuwe pos, het twee geskuifde rugwerwels haar onverwags vir twee weke in die hospitaal laat beland. ’n Operasie het na al uitweg gelyk. Terwyl sy doodstil in haar bed moes lê, het sy hope dinktyd gehad. Sy glo die Here wou haar laat stil word sodat sy oor haar nuwe werk kon besin. Wat sou sy daarmee doen? Vir Sanet was die antwoord eenvoudig: sy sou geld insamel, en sommer baie daarvan! “Enige nie-regeringsorganisasie wil tog graag meer geld hê.”
Toe sy die verhaal lees van Jesus wat vir die blinde man gevra het of hy wil sien, het Sanet gedink dis vreemd om so iets vir ’n blinde te vra. “Natuurlik sou hy wou sien! Toe besef ek dis wat ek met my nuwe werk wou doen: ek wou leer om werklik te kan sien. Ek het gebid dat God my moes help om op ’n ander manier te kyk sodat ek kon sien wat Hy vir my wou wys. In elke situasie, in elke mens, in elke plakkerskamp. Wat ook al Sy hart breek, moes my hart breek.”
Kort ná hierdie besef het haar rug herstel – sonder ’n operasie – en Sanet is ontslaan.
‘Elkeen van ons kan ’n verskil maak en versoening help bewerkstellig’
Sy kyk sedertdien anders na die wêreld om ons.
“In die plakkerskamp wys God duidelik vir my die gebrokenheid, die mense wat al so lank om hulp en uitkoms bid. Hulle het so nodig om die Here te sien en te ervaar!”
Vandag wéét sy: elkeen van ons kan God se hande en voete wees, kan ’n verskil maak, kan versoening bewerkstellig. “Maar ongelukkig is daar nog te min van ons wat optree, wat doen wat gedoen moet word. En ek verstaan ook hoekom, want dis ’n groot besluit wat ’n mens baie kan kos. Ek weet hoe baie gemak is uit my eie lewe weggeneem, en ek weet ook dat organisasies wat beloftes maak en dit nie altyd nakom nie mense al seergemaak het. En soms voel mense dit werk nie, en arm mense wil net vat en vat. Of dalk het jy al iemand probeer help en dit het nie gewerk nie.”
Maar die ander kant van hierdie munt en al die wonderwerke wat sy daagliks beleef, inspireer Sanet steeds. “Soos die agtjarige seuntjie wat so mishandel was dat hy dit as normaal aanvaar het en ook sy vierjarige sussie begin mishandel het. Die skool en gemeenskap wou opgee, maar ons het bly veg vir hierdie kind en bly liefde, kos en aandag gee.” Die draaipunt het gekom toe Sanet-hulle vir hom nuwe skoolskoene koop. “Dit het iets in sy hart heeltemal laat verander. Nou is hy – skaars tien – die een wat elke middag ná skool ’n bejaarde vrou gaan voer wat ’n beroerte gehad het en nie self kan eet nie. Want hy wil nou ook ’n verskil in iemand anders se lewe maak.”
Of stories soos die (swart) vrou wat ’n jong (wit) vrou en haar tweejarige dogtertjie in haar beskeie huisie ingeneem en gehelp het. “Daar is nie eens ’n vloer of beddens nie, maar sy het haar kos en komberse gedeel, gehelp om die dogtertjie te versorg en om hulle veilig te hou totdat hulle ook ’n huisie kon kry.”
Vir Sanet is hierdie stories meer as net wonderwerke – dit wys ook vir haar watter soort mense oral om ons in Suid-Afrika woon, baie van hulle ook in plakkerskampe en woonbuurte waar ons dit nie sommer sal waag nie.
“Ons moet altyd onthou dat daar in daardie buurte ook mense is wat bid. Hulle kry boonop swaarder as ons, en wag ook op verligting, op verandering, op ’n nuwe begin. Nes ons, raak hulle ook moedeloos. En hulle wonder of iemand gaan raaksien dat hulle nie almal sleg is nie.”
Sanet vertel dat haar hart en lewe saam met haar oë oopgegaan het. “Wanneer ek nou in ’n plakkerskamp stap, sien ek die mense en hul harte. Dis wat God my wou wys: mense wat bid en wag. Hy sal vir die wonderwerke sorg – ons moet net gaan en die werk begin.”
Natuurlik raak sy soms moeg en moedeloos. En ja, soms wonder sy oor geld vir mediese uitgawes en kos vir haar gesin, en waar die geld vir die organisasie se projekte vandaan sal kom. “Maar ek leer steeds daagliks van bid en wag op uitkoms. So baie mense was reeds dapper genoeg om gehoorsaam te wees en ’n verskil te begin maak, en saam kan ons so ’n groot verskil maak en groot versoening bewerkstellig.”
Voel jy geïnspireerd om ’n verskil te maak en by te dra tot versoening? Raak betrokke by ’n inisiatief in jou eie dorp/stad, of kontak Sanet by [email protected] en wees die verskil wat jy wil sien.