In jou ouerhuis leer jy praat, dink, voel … leer jy hoe om mens te wees. In dié taal verwoord jy jouself die maklikste en duidelikste en dig, bid of droom jy. Die Engelse skrywer Samuel Johnson stel dit so: Taal is die klere van die gedagte. Ons woorde is die boustene van ons drome … die grootste skeppende krag en energie wat ons het.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }
Maar moet ons woorde, ons eie taal, noodwendig ook ons onderrigtaal wees?
Tradisioneel Afrikaanse universiteite is besig om een vir een hul onderrigtaal na Engels te verander. Al meer ouers is bekommerd en wonder of dit nog wys is om hul kinders Afrikaanse skool-opleiding te gee as tersiêre instellings en die ekonomiese wêreld, nie net internasionaal nie, maar ook plaaslik, Engels as voertaal gebruik.
'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }Die uitlatings van politici en opvoedkundiges, soos prof. Jonathan Jansen, dat Engels van skool- tot universiteitsvlak die onderrigtaal moet wees omdat wit Afrikaanse skole ’n gevaar vir rasse-verhoudinge inhou, asook die gebruik van taal om leerders uit te sluit, lok sterk reaksie by voorstanders van moedertaalonderrig uit. Aan die ander kant beklemtoon akademici en taalaktiviste die noodsaaklikheid en belangrikheid van moedertaalonderrig.
Mense word deur hul moedertaal bemagtig, want daar is dikwels ’n direkte verband tussen die ekonomiese ontwikkeling van gemeenskappe, hul status en die mate waarin hulle hul taal ontwikkel het. Dis ook ’n grondwetlike reg om in jou moedertaal toegang tot alle stelsels te hê, maar vir die grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking is moedertaalonderrig ongelukkig nie moontlik nie.
Volgens Theo du Plessis, direkteur van die eenheid vir taalfasilitering en bemagtiging aan die Universiteit van die Vrystaat, het kinders hul moedertaal nodig om kognitiewe ontwikkeling te verseker. ’n Te vroeë oorskakeling na ’n onderrigmedium wat nie die moedertaal is nie, en sonder die behoud van die moedertaal in die onderwyssituasie, kan katastrofiese gevolge vir die kognitiewe ontwikkeling van sulke kinders inhou. Baie kinders kan nie intellektueel en akademies byhou by kinders wat in hul moedertaal onderrig word nie.
Kinders leer makliker in hul moedertaal lees en skryf. Skrif is ’n tegniese middel waardeur taal uitgedruk word en anders as gesproke taal, ontwikkel dit nie spontaan nie. Dis baie makliker vir kinders wat in hul moedertaal leer lees en skryf om die konneksie tussen die geskrewe en die gesproke taal te maak. As jy leer lees het in ’n taal wat vir jou maklik is, is dit soveel makliker om die konsepte en vaardighede na ’n tweede of ’n derde taal oor te dra.
Die ontwikkelingsvlak van ’n kind se moedertaal is ’n sterk voorspeller van die ontwikkelingvlak van die kind se tweede taal omdat hulle uit hul onderliggende taalstelsel en hul bestaande taalkennis kan put. As ’n kind byvoorbeeld in Afrikaans tydkonsepte leer, hoef hulle nie weer die hele tydsbegrip in Engels te leer nie, maar slegs die oppervlakgegewens, die Engelse labels of woorde. Hulle het reeds die intellektuele basis en begrip. Ander belangrike intellektuele begrippe, soos oorsaak en gevolg, of om tussen hoofgedagtes en ondersteunende detail te kan onderskei, word gemaklik van die moedertaal na ’n tweede taal oorgedra.
Prof. Wannie Carstens, direkteur van Noordwes-Universiteit se Skool vir Tale, wys daarop dat moedertaalonderrig ’n menslike reg is wat in die grondwet verskans is, en dus ononderhandelbaar behoort te wees. Dis ook omdat navorsing bewys dat mense die beste in hul moedertaal leer, veel meer verstaan, en hulself skerper en meer gesofistikeerd daarin kan uitdruk. Ons voel ons ’n beter mens in ons eie taal omdat ons ons menswees soveel makliker daarin kan uitleef – lief kan hê, kan bid of ons fynste gedagtes kan verwoord. Dit verbind ons aan ons kultuur en ’n gemeenskap.
Prof. Carstens wys ook tereg daarop dat dit belangrik is om te besef dat ons in Suid-Afrika in ’n meertalige omgewing met 25 moedertale leef, waarvan 11 amptelike tale is. Almal se reg op moedertaal moet gerespekteer word, en tale mag nie aan ander opgedwing word nie. Ander moedertale moet ook ontwikkel word sodat dit as onderrigtale kan funksioneer.
Prof. Susan van Rooy, adjunk-dekaan van die Vaaldriehoek-kampus van Noordwes-Universiteit, sê die wêreld het te klein geword om in net een taal te kan funksioneer. Meertaligheid is die norm, want een taal bied nie meer alles wat ’n mens nodig het om in ’n postmoderne wêreld te kan funksioneer nie. Mense het minstens twee tale nodig waarin hul geletterd is en minstens nog een vir sosiale verbintenis. Meertaligheid gee betekenis aan jou lewe, open geleenthede, bou brûe van erkenning na ander se menswees: Ek ag jou, ek kan met jou in jou taal praat. Soos die ou-ou spreekwoord lui: “Soveel tale as jy kan, soveel male is jy man.”
Prof. Ellen Bialystok, ’n Kanadese sielkundige, het bevind dat meertaligheid nie net ’n mens se brein ontwikkel nie, maar jou ook teen siektes soos dementia beskerm. By meertalige mense wat die geen vir dementia dra, is die aanvang van die siekte gemiddeld sewe jaar later as by eentalige mense.
Talle Afrikaanssprekendes vrees ’n terugspoeluitwerking: Indien Afrikaans as tersiêre onderrigmedium gaan verdwyn, sal die vraag na Afrikaanse skole en instellings ook verdwyn omdat talle ouers liewer hul kinders in Engelse skole sal sit. Daar word geglo dat ’n taal instellings nodig het vir die beskerming en ontwikkeling daarvan, asook vir sy letterkunde en musiek.
Prof. Van Rooy meen dat ouers eerder vir hul kinders gehalte-skole kies, dikwels ongeag die taal van die skool. Talle ouers sit ook hul kinders in parallelmediumskole. Volgens die resultate van ’n studie van een van haar meestersgraadstudente, Stefnie Mostert, sit talle Engelssprekende ouers deesdae hul kinders in Afrikaanse skole omdat hulle glo dat die dissipline en standaard van onderrig soveel beter in Afrikaanse skole is.
Jonathan Jansen skryf in sy boek Knowledge in the Blood oor sy klasbesoeke aan skole, en dat hy bevind het dat onderwysers in Afrikaanse skole wêreldklasonderrig gee. Dié onderwysers drentel nie, hulle drafstap en nooi hom in, anders as in talle Engelse skole waar hy nie noodwendig so welkom was nie.
Volgens Prof. Van Rooy is Afrikaanssprekendes in ’n unieke situasie van werklike tweetaligheid, wat byna nêrens in die wêreld voorkom nie. Dis uitsonderlik om te vind dat twee tale op gelyke vlak, in terme van lees en skryf ontwikkel is. Afrikaanse kinders se vaardighede in albei tale is oor die algemeen beter as dié van Engelssprekende kinders. Talle ouers besef hulle kan maar hul kinders in Afrikaanse skole hou omdat die standaard van Engels in Afrikaanse skole baie hoog is. Hulle sal goed genoeg voorbereid wees vir tersiêre onderrig in Engels. Prof. Michael le Cordeur het dit vir sy eie kinders gekies, sonder enige beperkende invloed op hul tersiêre studie.
Goethe, die Duitse skrywer en staatsman, het gesê: “The person who knows only one language does not truly know that language.” Tweetalige mense is meer buigsaam in hul denke omdat hulle inligting met twee taalstelsels prosesseer.
Die beste is om kinders van geboorte af konsekwent en gelyktydig twee tale aan te leer. Kleuters meng aanvanklik die twee tale, bloot omdat hul woordeskat nog beperk is. Hulle leen wedersyds woorde om hulself beter uit te druk. Hul woordeskat is aanvanklik kleiner per taal as kinders wat slegs een taal praat, hoewel hul gesamentlike Afrikaanse en Engelse woordeskat gewoonlik dieselfde as dié van slegs moedertaalsprekers is. Die kleiner woordeskat hou eerder verband met die kind se geheuekapasiteit op daardie ouderdom en kinders haal dié “agterstande” wel in. Die taalvaardigheid van die ouers is wel bepalend vir die kind se taalontwikkeling.
Hoe beter die kind se woordeskat, hoe makliker kan sy haar idees, behoeftes en oortuigings aan ander oordra en hoe beter is haar leer- en begripsvermoë. ’n Beperkte woordeskat beperk ’n kind se vermoë om verbande tussen vreemde konsepte te trek, en ook om opdragte, humor en figuurlike taalgebruik te verstaan. Dit kan kinders sosiaal ongemaklik maak en isoleer as hulle nie vir ander se grappies lag, of hulself kan uitdruk nie, en in die proses ’n gek van hulself maak.
Soveel ouers, soveel redes:
• Bemagtiging vir ’n wêreld van werk wat oorwegend Engelssprekend is
• Om hulle ook internasionaal te kan handhaaf
• Uit vrees dat hulle op universiteit met Engels sal sukkel
• Sodat hulle taalvaardig genoeg kan wees om te kan emigreer
• Gehalte-onderrig. Hulle is bekommerd oor die gehalte van staatskole en kies private, Engelse skole
• Hulle hou van die gees van trots en tradisie, asook die outydse waardes van private skole
• Hulle glo dat Engelse skole meer ruimte vir ’n kind se eie stem, individualiteit en kreatiwiteit bied.
Navorsers is dit eens dat ’n mens moet onderskei tussen sosiale taalvaardighede en akademiese geletterdheid. Akademiese geletterdheid is onder meer die vermoë om akademiese woordeskat in konteks te verstaan; onderskeid te tref tussen hoofsaak en bysaak, oorsaak en gevolg, feite en menings en in staat te wees om gegewens te klassifiseer en te kategoriseer; om metafore, idiome en dubbelsinnigheid in akademiese tekste te verstaan, verbande in te sien en afleidings en gevolgtrekkings te kan maak; om te kan bewys en te beredeneer en om die groter betekenis van wat gelees is, te verstaan.
Ouers wat ’n tweede taal as onderrigtaal kies, glo dat hul kinders heeltemal vlot in die taal is en dat die taalverandering nie ’n beduidende impak op hul kind se vordering sal hê nie. Al kan hul oënskynlik gemaklik kommunikeer, byt hulle die spit af wanneer akademiese taalvaardigheid van hulle verwag word. Hul woordeskat is armer en lees-, begrip-, skryf- en spelvaardighede, wat sentraal in die leerproses staan, ly daaronder.
Op universiteit word agterstande in akademiese geletterdheid direk in verband gebring met studente wat nie die pyp rook nie en nie hul grade binne die verwagte tyd voltooi nie. Aan die Universiteit van Pretoria lê eerstejaarstudente jaarliks ’n akademiese geletterdheidstoets af. Studente met agterstande word verplig om ’n oorbruggingskursus te volg.
Opvoedkundige sielkundiges en veral spraakterapeute kan ouers met die besluitnemingsproses help, maar ook om vroeg reeds leemtes te identifiseer wat leerpobleme kan voorkom.
• Die onderrigtaal mag nie die moedertaal heeltemal vervang nie. Hou sy moedertaal, die taal waarin hy dink, in stand.
• Maak seker dat die kind se leerervarings positief is – dit bepaal haar selfbeeld en selfgeloof.
• Maak seker dat jou kind akademies geletterd is.
• Sorg vir ’n ondersteuningstelsel tuis en elders as dit nodig is om emosionele en skolastiese probleme op te klaar. Ongelukkige en gefrustreerde kinders onderpresteer.
• Help jou kind om ook op sosiale vlak in die nuwe omgewing in te skakel.
• Maak die kind se taalomgewing in albei tale so ryk moontlik met genoeg ontspannings- en inligtingsmateriaal: boeke, tydskrifte, koerante …
• Wees die beste voorbeeld van die noodsaaklikheid en vreugde van lees.
• Skaf taalspeletjies aan waarmee jy hul taal speel-speel kan ontwikkel.
• Verwag dat vermenging van die twee tale gaan voorkom. Moenie foute voortdurend korrigeer nie – wees liewer ’n goeie spraakmodel.
Daar is talle suksesverhale van kinders wat in hul tweede taal onderrig word. Dit is makliker as hulle van die begin af in hul tweede taal leer, of as die oorskakeling tussen laerskool en hoërskool is. Hulle pas op sportgebied, sosiaal en akademies aan; word Dux-leerlinge, hoofseuns of hoofmeisies. Verskillende kinders pas natuurlik verskillend aan. Dit werk nie vir almal ewe goed nie – daar is soveel faktore wat ’n rol speel. Een skool kan vir ’n kind ongelooflik goed werk en vir ’n ander een glad nie. As dit nie slaag nie, moet ouers inspring en ’n plan maak. Taal help mense om te leer, te wees, te leef … om hul diepste wese uit te druk. Daarom mag ’n kind nooit minderwaardig voel oor sy agtergrond, taal en identiteit nie. Dit ondermyn selfvertroue en ten diepste sy menswees.
• Bepaal jou kind se taalvaardigheid, taalvermoë en aanleg en veral sy intellektuele akademiese geletterdheid in albei tale voor jy die keuse maak. Kinders met agterstande onderpresteer en ontwikkel skolastiese probleme.
• Die gehalte-onderrig wat die kind gaan ontvang.
• Is daar ’n ondersteuningsnetwerk vir haar by die huis en by die skool?
• Is die voertaal van die skool ook die onderwysers se eerste taal?
• Jou kind se intellektuele vermoë. Hoe hoër, hoe makliker.
• Ouers se taalvermoë in albei tale.
• Hoe ryk is die taalomgewing? (Die beskikbaarheid van lees- en leerstof).
• Die persoonlikheid, houding, motivering en selfbeeld van die leerder.
• Haar emosionele en sosiale aanpasbaarheid.
• Die grootste probleem wat kan ontstaan, is wanneer nie een van die twee tale behoorlik ontwikkel is nie, want dan verloor die kinders ook die voordeel van twee- of meertaligheid.
Goeie kommunikasie in ’n verhouding laat die liefde blom. Maar soms eindig verskille in ’n…
Deur Rediscover Dairy Voorbereidingstyd: 5 minute Gaarmaaktyd: 20 minute Bedien: 4 porsies Porsiegrootte: 300…
Riaan Grobler, ’n geliefde radio-omroeper by Pretoria FM asook bekende skrywer en sanger, bewys weer…
Bestanddele 45 ml (3 e) olie 4 klein lamskenkels, die sening afgesny 2 wortels,…
Genoeg vir 6. Bestanddele Jy hoef nie die filo te weef nie, jy kan…
Of jy op soek is na ’n kragtige skootrekenaar om meer as een taak mee…
Hierdie webwerf gebruik koekies.