Ek lees in een van my gunsteling-inspirasieskrywers, Cheryl Richardson, se e-nuusbrief van haar man se gebruik om heelnag te werk en te gaan slaap sodra die son opkom. Hoewel sy eers onlangs vrede gemaak het daarmee, spreek hul vriende nog gereeld die opinie uit dat hy vreemd optree. Die “reël” is immers dat mense dagdiere is.
Dit laat my dink aan die skedules van ons kleintyd. Etenstye, byvoorbeeld, was heilig. Was jy ‘n halfuur voor ete honger, moes jy maar uithou. En het jy op jou heel, heel lekkerste gespeel – wegkruipertjie met die buurkinders in ‘n skemer tuin – moes jy die speletjie laat staan en tafel toe kom. Ek kan my sterre dank dat skottelgoed was nie met dieselfde erns bejeën is nie.
Slaaptyd was natuurlik erg. Soos enige regdenkende kind het ek gou geleer om nét afgehaal genoeg te lyk om my pa se hart te vermurwe sodat hy (weer) vir my die storie van Hasie Kalbassie vertel.
Toe kom my eie kinders. Ek sal hulle liewer nie pols nie, maar ek vermoed ek was ‘n akute pyn wanneer reëls ter sprake was.
En vandag? Na vyf dekades weet ek reëls is meestal eg menslike pogings om die werklikheid te beheer. As jy ses huismense het, wil jy hulle nie op ses verskillende tye voer nie.
Ongelukkig strek die begeerte om mense in toom te hou soms te ver. Ek raak toenemend rebels oor voorskrifte rakende geloofsoortuigings, seksuele voorkeur, ouerskap en ‘n paar ander ou dingetjies. As jy mooi kyk, verbied reëlmakers gedrag wat húlle ongemaklik maak.
Dit geld natuurlik vir my ook. As ek weer subtiel skimp dat sigaretstompies asseblief ín die asbakkie op die tuintrap moet beland, moet ek ’n slaggie wonder wie se issue dit is …