As die son skyn, dan lek dit mos nie …” sê die liedjie. Dieselfde is waar van water. “Niemand het mos ’n waterprobleem nie, totdat daar ’n probleem is,” sê mnr. Rod Cairns van JoJo-watertenks. En dan is dit ’n gróót probleem.
Baie mense verkies die kop-in-die-sand-reaksie omdat stellings soos “waterskaarste ons grootste bedreiging” en “wateroorloë gaan in die toekoms geveg word” soos sensasionele bangmaakstories klink, en buitendien buite hul beheer is. Maar waterrekeninge wat styg en styg, die periodieke afsny van water en selfs munisipale water wat ondrinkbaar is, is maar alte onmiddellik en neem ook kommerwekkend toe.
Dit is nog nie prakties uitvoerbaar vir die meeste mense, veral stedelinge, om glad nie munisipale water te gebruik nie. Maar dit word bereken dat tot 50% van alle huishoudelike, drinkbare water – dus silwerskoon, duur water – vir tuine, grasperke en die was van motors gebruik word. Vir dié water is daar ander, bekostigbare opsies.
Skaars twee geslagte gelede het menige huishouding nog elkeen sy eie watertenk op die werf gehad. Vra enige oumens as jy wil weet oor wateropgaar.
“Watertenks? Wat is daar om te vertel? Dit was alledaags, dis maar hoe almal gemaak het in daardie dae,” vertel my ma (84).
Die tenk was gewoonlik van sink gemaak, was basies ’n groot drom, en het ’n deksel gehad. Reënwater het van die dak af met ’n geut in die tenk geloop. Dit het op ’n sementplatform gestaan, en het ’n kraan gehad.
“Die mense was baie kwaai met die kinders oor die water, hulle moes wegbly van die tenk se kraan af. Maar jy ken mos ’n kind. Daardie water was vir die tuin, partykeer vir wasgoed. En vir harewas. Dit het jou hare baie lekker sag en blink gemaak.”
My pa (88) verduidelik die seisoen se eerste reënwater het al die stof van die dak af saamgevat tenk toe, en daardie eerste stowwerige water is maar “laat gaan”. Dit kon gebeur dat ’n voël of ’n muis in die tenk ingespoel het, “dan was dit ’n hele storie”, en moes al die water uitgetap word en die tenk skoongemaak word. Maar mense het maar hul dakke en geute skoongehou, daar was gewoonlik geen probleme nie.
By sommige huise het balies onder kort geute gestaan, dikwels sommer oop, tog te mooi. Dit was ook vir plante – dikwels die groentetuin.
Lees ook: Kostuine – die belangrikheid van water
Miskien het dit tyd geword om weer minder afhanklik te word van diensverskaffers soos munisipaliteite. Reënwater wat van jou dak “geoes” word en opgegaar word, kan jou dikwels diep in die droë seisoen help met water vir die tuin en so meer, en in ’n noodgeval, as dit gefiltreer en gesuiwer word, vir menslike gebruik.
Die meeste dakke is geskik vir die oes van reënwater, maar nie dié met loodverf nie. Grasdakke werk minder goed, hoewel mense in landelike omgewings in Asië en elders dikwels al geslagte lank reënwater van hul grasdakke opvang en stoor.
Reënwatertenks is voordeliger in somerreënvalstreke, maar ’n groot tenk in ’n winterreënvalstreek waarvan die water vir spoeltoilette gebruik word, kan steeds jaarliks 10% tot 15% van ’n huishouding se water verskaf.
Plastiektenks
Vandag se tenks is byna deurgaans van plastiek. Cairns sê die voordele is dat plastiek, anders as sink, nie roes nie en aan die einde van ’n tenk se leeftyd gehersikleer kan word.
Vir huishoudelike gebruik is die 750 liter-grootte die gewildste, en vir die gemiddelde gesin word twee van dié aanbeveel. Die altesame 1 500 liter kan ’n gemiddelde gesin twee dae lank van betreklik spaarsamige watergebruik voorsien, insluitende bad of stort en wasgoedwas, sou die watertoevoer afgesny word.
Sommige tenks is so knap ontwerp dat selfs ’n 750 liter-tenk baie min plek opneem en ideaal is vir mense wat ’n gebrek aan ruimte het, soos in deeltitelkomplekse. Solank daar ’n geut is wat op jou binnehof of by jou buitedeur uitloop – en jy dit by die owerheid van die kompleks uitklaar – kan selfs mense wat in komplekse woon, ’n watertenk laat installeer en goed gebruik.
Daar is ’n handjie vol maatskappye in Suid-Afrika wat watertenks maak en installeer. Pryse wissel en volledige stelsels, waar die tenk aan jou huis se loodgieterwerk gekoppel kan word, is beskikbaar maar kos natuurlik meer.
Sementtenk
Maar as jy nou ’n mooi tenk wil hê, moet jy een laat bou. By die Green Power House in Linden, Johannesburg, staan twee groot watertenks wat soos reuse-eiers lyk. Dit is van stene en sement gebou en waterdig uitgevoer. Die binnekant is ook eiervormig sodat die water nêrens in hoeke of gleuwe stillê nie. Soos wat die son dele van die “eier” warm maak, beweeg die water effens; gevolglik stagneer die water nie en bly dit vars. ’n Mens kan jou eier enige kleur verf, maar by dié huis is die mooi terracottarooi kleigrond uit die tuin aangesmeer.
Gryswater
Gryswater is gebruikte bad-, stort- of wasgoedwater waarvoor jy reeds betaal het (of binnekort sal moet betaal) en wat in rioolpype beland. Kombuisafvalwater word ook as gryswater beskou, maar bevat meer vaste stowwe en diereproteïene en het meer behandeling of filtrasie nodig.
Gryswater kan opgevang word en weer gebruik word. In Suid-Afrika word gryswater nog op klein skaal gebruik, maar dis lank reeds algemeen in Amerika en Australië. Gryswatertenks is gewoonlik baie kleiner as opgaartenks; die water word onmiddellik of baie gou gebruik, dikwels as drupbesproeiing vir die tuin.
Gryswater het ’n klompie meer moets en moenies as reënwater. Dit mag nie ge-stoor word nie omdat bakterieë daarin gedy – sit maar net ’n emmer badwater vir ’n dag of twee in die son, en dit begin erg sleg ruik. Die meeste huishoudelike gryswater bevat stowwe soos nitrate en fosfate, standaardbestanddele van baie kunsmis wat in klein hoeveelhede nuttig kan wees in jou tuin.
Nietemin is dit nie raadsaam om jaar na jaar gewone seep, bleikmiddels, badsoute en dies meer in jou gryswater te laat beland nie. Soek liewer seep wat nie fosfate of nitrate bevat nie; Ecosoft en Enchantrix is van die handelsname wat aanbeveel word, en baie ander organiese soorte seep is beskikbaar. Ja, dit is effens duurder, maar jou waterrekening is laer en die luuksheid van sulke seep is ’n bonus!
Gryswater moet liefs nie gebruik word vir vrugte, groente of kruie nie, of minstens nie ’n week voor dit geoes word nie, en dan moet dit deeglik gewas word. Baie mense – soos in projekte by skole – gebruik waswater in hul groentetuine, maar gooi dit net versigtig teen die wortels, direk in die grond. ’n Goeie kwekery behoort meer spesifieke inligting te kan verskaf.
Jy kan jou eie, organiese gryswaterfilterstelsel maak. Dit bestaan uit ’n put waar gryswater van die huis inloop. Die water perkoleer deur ’n spesiale stel organiese filters wat ’n mini-ekostelsel vorm. So ’n organiese stelsel kan ook laat installeer word.
– Deur Corné Coetzee