“Jy is soos helder water,” het ‘n oom by hul dertigste huweliksherdenking vir sy vrou gesê. Al was ek nog op laerskool, het ek dit nooit vergeet nie. Ek het instinktief geweet hy verwys na haar natuurlike warmte en haar manier om jou spontaan aan haar ruim boesem te druk.
Water is magies. Soms strek dit roerloos voor jou uit, vol kleur en die beelde van wolk, wal of boom. Soms raas dit teen ‘n verskriklike spoed by jou verby sodat jy sidder by die gedagte dat jy meegesleur kan word.
Sekere waterervarings bly my by. Blinkblou sterretjies op die Malawi-meer (lank, lank gelede), die bruisende gordyn van die Victoria-waterval, ‘n smaraggroen bergpoel in Thailand. Of ‘n koeëlronde druppel op ‘n kappertjieblaar, en ritse “diamantjies” aan ‘n spinnerak.
Water neem die vorm aan van die glas waarin jy dit gooi, kalwe oor dekades nuwe roetes uit, of vernietig ‘n sementwal in ‘n oogwink. Maar die kragtigste verskyningsvorm is seker trane in die oë van iemand vir wie jy lief is – ‘n grootmens, of ‘n kind.
In “The invitation” skryf Oriah Mountain Dreamer: “I want to know if you can sit with pain, mine or your own, without moving to hide it or fade it or fix it.”
Mense met die innerlike kalmte om hierdie stil aanvaarding vir iemand anders te bied, is soos helder water. Hulle les ‘n diep, diep dors.