“Ou tannies. Die breiwinkel ruik soos ou tannies.” Al meer bewus van sy sintuie, dié negejarige seunskind. Hy druk sy neus in die wol. “Ruik Mamma, dit ruik soos ou tannies,” kreukel sy seunsgesig. En: “Ek hou daarvan.” Vinnig dan: “Moet vir niemand sê nie.”
Maar ek’s sy ma. Hy sal my vergewe. Dié keer weer.
Lees ek dié week dat ons reuksintuig so om en by agt jaar oud ’n plato bereik, en dan afneem hoe ouer ons raak.
Sommige slimmes sê ons ruik al in vanaf ons twintigs minder skerp, en, soos met baie ander dinge, glo ander dit is alles in jou kop, in jou hart en in jou lyf. In kort: jy ruik so goed, want jy voel so goed.
Navorsing wat verlede jaar gepubliseer is wys dat brêkfis (ja, die spek-en-eiers-soort) Adam se gunsteling-geur is, terwyl Eva die reuk van ’n pasgebore baba verkies.
En vir dié wat graag die Engelse “wake up and smell the coffee” gebruik: geweet jy’t dalk ‘n punt beet? Jou reuksintuig staak as jy slaap. Jy kán die koffie eers ruik as jy wakker is.
Te bewus van die eise van die ouderdom (deksels tog, hoekom waarsku niemand jou meer ernstig in jou twintigs as jy so min slaap en sleg eet dat jy kort duskant veertig die prys sal betaal nie?) het ek ’n nuwe missie. Ek ruik. Al wat mens, ding en dier is.
Want ek kan nog (net-net) vrede maak met ’n ekstra kilo of ses, die plooie pla my nie (die ekstra kilo’s help daarvoor) en soms is dit nodig om ’n ding of twee nie te hoor nie. Beter nog, om te vergeet is ook nie so sleg nie.
Maar ál minder ruik?
Want wat kom nou by vars gebakte brood (daai soort wat jy kan ruik tot jy dit sny-vir-sny proe), kaneelpannekoek, die buurman se braaivleisvuur, Coenie se kambro as dit reën in die Klein Karoo en die kriewelrige soet van die eerste bloeisels wat kom om die wintergrou weg te hou?
Soos nou.
Ruik jy? Nog ’n lente is in die lug.
Sy betrap my onkant. Padlangs, sonlangs, huis toe.
“Wat ruik-ruik jy so?” Ek kyk nie op nie. Ruik eers, kyk dan. Ou tannie. Sy ruik soos ou tannie. Maar nie die wolwinkel-soort nie. Ou-tannie-ek-hang-my-klere-in-die-kas-in-plaas-van-was. Druk my neus weer in die bloeisel langs die pad. Beter so.
“Ek ruik die lente,” antwoord ek, my neus jeukerig in die bloeiselblare.
“Jy jok.”
Ek kyk nie, stap aan.
“Dis die lewe. Jy ruik die lewe.”
Ek vra nie. Kyk vir haar en wonder stilweg, teer: wat, wat ruik jy?
Tot volgende week,
Mari
www.incontext.co.za