Deur Salomé Delport
Wat jy onder geen omstandighede mag doen nie, is om die persoon te etiketteer, sê dr. Peter Velloza, voorstander van die Dore-tegniek wat spesifiek daarop fokus om mense met disleksie te help.
“Etikette skep by veral kinders die persepsie dat hulle ‘anders’ is. Dit tas hul selfvertroue en selfbeeld aan, en hulle voel gou dom en onbekwaam.
Disleksie het niks met IK te doen nie. Trouens, daar is baie meer disleksielyers onder kunstenaars, sakemanne en wetenskaplikes as onder die res van die bevolking.
Van die voorste disleksiekenners verwys selfs daarna as ‘the gift of dyslexia’, en ons wat met disleksielyers werk, sien van werklik begaafdes tot kinders met ’n laer as gemiddelde vermoë.
“Ek beskou disleksie as ‘onvolledige bedrading’ van die brein wat lyers kortwiek. So ’n beskrywing laat die kind in staat voel dat hy iets daaraan kan doen. En dis wat jy wil hê: ’n positiewe, bemagtigende uitgangspunt.”
Dis baie moeilik om nié ’n raakvat- woord vir jou ontsteltenis en onsekerheid te soek wanneer jou kind in die junior grade vasval nie. Dis ’n ewe groot uitdaging om oplossings te kry. Wat kán jy doen?
Kry die kern
Die eerste stap is om vas te stel of jou kind wél disleksies is, sê Christa Agenbag, ’n arbeidsterapeut. “Moenie net op jou eie of die klasonderwyseres se waarnemings staatmaak nie. Julle tel waarskynlik sy leesprobleme eerste op en gaan ’n groot deel van sy terapie hanteer, maar dis nie noodwendig disleksie nie.
“Ek beveel altyd aan dat julle by ’n ontwikkelingsielkundige begin. Hy het die groter prentjie en stel vas presies waar jou kind se uitvalle lê. Hy kan dalk ’n probleem met sy oë, eerder as met sy motoriese vaardighede hê, of selfs met albei sukkel.
“Hiervandaan gaan julle na die regte terapeute vir spesialisevaluasies, soos ’n oogkundige, arbeidsterapeut, oudioloog en spraakterapeut. Die terapeut/e sal vir julle ’n program saamstel vir jou kind se spesifieke probleme.”
Deidre McGregor, ’n remediërende onderwyseres, stem saam: “Baie van die kinders wat ons sien, is nie disleksies nie. Ja, hulle kan nie lees nie maar om ánder redes soos dat hulle in hul kleuterjare nie gestimuleer is nie.
Groter kinders het soveel TV gekyk dat hulle nooit leesvaardigheid ingeoefen het nie. In Suid-Afrika het ons ’n verdere probleem: hier begin besonder baie kinders hul skoolloopbaan in hul tweede taal. Baie van hulle het ’n te klein tweedetaalwoordeskat om doeltreffend te leer lees.
“Dié kinders se agterstande kan met ekstra remediërende klasse reggestel word en hulle ‘ontgroei’ hul leesprobleme. Maar kinders met ware disleksie moet op ander maniere as met ekstra leesklasse gestimuleer word.”
Warren Wagner, ’n optometris wat in visie-oefeninge spesialiseer, sê dis net so belangrik om basiese sigprobleme uit te skakel. “Om te kan lees, moet jou oë saamwerk. By party kinders gebeur dit nie outomaties nie, en moet hulle hierdie vaardighede aanleer.
En dan is ’n groep kinders oorsensitief vir sekere ligfrekwensies. Ook hulle is nie werklik disleksies nie, sê Martin Grimbly, ’n optometris wat in kolorimetrie spesialiseer. “Al wat hulle kort, is gekleurde lense wat die hinderlike ligfrekwensies uitskakel. Dit los die probleem onmiddellik op vir sowat 25% van mense wat as disleksies beskou word.”
Raak prakties
Wat nié belangrik is nie – vir ouers altans – is die teorieë oor die oorsake van disleksie. En daar is ’n hele aantal, met ’n vuurwarm debat oor watter een die ‘ware’ antwoord is, en daarmee saam watter terapie die beste is. Maar vir ouers van jong kinders, vir tieners wat skaam, gefrustreerd, verneder en kwaad hul onvermoë begryp, maar nie weet wat om te doen nie, en vir die talle volwassenes wat maniere gekry het om hul verleentheid weg te steek, is die brandende kwessie wátter terapie.
Rene Engelbrecht, ’n ontwikkelingsterapeut, sê die jongste insig is dat daar nie net een antwoord is nie. “Geen terapie werk vir elkeen nie. Al is ek ’n voorstander van die Davis-tegniek, gebruik ek ander tegnieke daarmee saam om aan te pas by die kind se spesifieke profiel. En al is ons sukseskoers baie hoog (vier uit vyf kinders vind baat hierby) is dit waar dat dit vir party kinders net nie werk nie.”
Peter Velloza stem heelhartig saam. Al is die Dore-tegniek vergelykbaar suksesvol (dit werk vir nege uit tien kinders) sê hy dat ouers objektief na die resultaat moet kyk. “Gee ’n terapie ses maande kans en evaleer jou kind weer. As hy nie meetbaar verbeter het nie, mors julle kosbare tyd.”
Peter verduidelik dat terapie in een van twee hoofgroepe val: terapieë wat die brein se funksionering verbeter, meestal deur oefeninge wat daarop fokus; en terapieë wat die fonologiese probleme takel, meestal deur ekstra klank- en leesoefeninge. ’n Ander interessante aspek van terapie vir disleksie is dat volwassenes óók hul disleksie kan oorkom. “Die brein verloor nooit sy vermoë om te leer nie, en daarom kan selfs volwassenes – en tieners beslis – hul disleksie oorkom. Jou brein herleer nou stadiger en jy sal baie meer ure moet insit, tot sowat 300 uur.
“Maar dit kán gedoen word. ’n Britse vrou wat op 83 besluit het om iets aan haar disleksie te doen, kan nou ná Dore tjeks uitskryf, ’n inkopielys uitskryf en boeke lees … vir die eerste keer in haar lewe.”
Tipies van disleksie
- Disleksie is ingewikkelder as die omkeer van b’s en d’s. Ander algemene probleme is:
- visueel. Die oë ‘dans’ sodat die kind ’n woord soos elektrisiteit soms as elekteit lees en dan as trisielekikiteit en so aan. Daarom sukkel hy om die woord konstant te herken. By ander lees die oë van regs na links, of een lees van regs na links en die ander een van links na regs.
- perseptueel. Die kind het nie ’n persepsie van hoog, laag, voor, agter, diep, naby en ver nie. Letters soos a en d lyk vir hulle baie eenders, en hulle kan nie dan en aan onderskei nie.
- Onderontwikkelde koördinasie, fynmotoriese spierbeheer en balans en sukkel bloot om letters te maak.
- Foutiewe fonologiese prosessering, met ander woorde die kind kan nie ’n lettergreep met die ooreenstemmende klank verbind nie. Sekere kinders sukkel met ouditiewe prosessering, wat beteken hulle hoor uitstekend maar verwerk nie die boodskap nie. Hulle kan nie vasstel wat van hulle verwag word nie.
- Swak korttermyngeheue. Hulle onthou nie lank genoeg om te kan onthou wat om te doen nie. Baie van hulle het wel ’n uitstekende langtermyngeheue.
Lees ook: Is jou kind ADHD of begaafd?