Wat jy moet weet as jou maat Aspergers het deur Mariette Snyman. Hooffoto: iStock/ PeopleImages
Help, my maat het Aspergers!
Voor die TV verkneukel ons ons in karakters soos Sheldon Cooper in The Big Bang Theory en dr. Martin Ellingham in Doc Martin. Hulle is briljant, eksentriek, en albei uitstekende kandidate vir die Aspie-etiket. Solank ons hul doen en late op ’n veilige afstand kan volg, is dit groot pret. Maar om ’n Aspie – soos mense met Asperger-sindroom ook genoem word – as lewensmaat te hê, hou eiesoortige uitdagings in.
“High functioning autism is ’n laatlam van die mediese veld,” sê dr. Shirley*, ’n algemene praktisyn met ’n spesiale belangstelling in neurologiese toestande.
“Vroeër is Asperger-sindroom as ’n afsonderlike sindroom beskou, maar volgens die jongste hersiene uitgawe van die Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders – die DSM-V – vorm dit deel van die outismespektrum. Dit lê aan die minder ernstige kant van die spektrum. Soms word daarna as hoogsfunksionerende outisme of HFO verwys. Algemene bewustheid van hierdie komplekse sindroom is nog in sy kinderskoene.”
Wat kenmerk mense met hoogsfunksionerende outisme?
“Hulle toon eienskappe van die outismespektrum, maar nie die taal- of kognitiewe ontwikkelingsagterstande wat gewoonlik met outisme verbind word nie. Hulle het ’n normale tot bogemiddelde intelligensie, en ’n beduidende persentasie het buitengewone kognitiewe of kreatiewe vermoëns, soos ’n skerp geheue, ’n instinktiewe begrip van ingewikkelde konsepte, of besonderse kuns- of musiektalent.
“As jy een mens met HFO ontmoet het, het jy één mens met HFO ontmoet. Elkeen is anders.”
Tog kom sekere eienskappe dikwels voor:
- Onderontwikkelde sosiale vaardighede, soos ’n onvermoë om gesigsuitdrukkings en lyftaal te lees. As ’n neurotipiese of “normale” mens skielik trane in ’n gespreksgenoot se oë sien, kan sy aflei of die oorsaak ’n hartseergedagte, lagbui, lang gaap of hooikoors was. Mense met HFO sukkel om nieverbale kommunikasie en die groter prentjie te ontsyfer. Hulle raak verward, en ervaar ook moeilik empatie. Hulle kan ongevoelig voorkom of ontoepaslik optree deur vir ’n vreemdeling te sê: “Jou tande is geel.” (Want dis die waarheid!)
- Kommunikasieprobleme, veral die onvermoë om tussen die lyne te lees. Insinuasies of die toon waarin iets gesê word, soos ’n sarkastiese aanmerking, gaan dikwels by hulle verby. Spreekwoorde kan letterlik opgeneem word. As jy sê “die aap is uit die mou”, kan ’n kind met HFO vra: “Waar is hy nou?” Die wanbegrip vir konteks beïnvloed ook hul sin vir humor. Grappies kan ontoepaslik wees, of op die verkeerde oomblik vertel word. Daarby verstaan hulle moeilik dat ’n gesprek gee en neem behels, of hulle praat met ’n plat stem sonder intonasie. ’n Onemosionele toon beteken nie hulle ervaar nie sekere emosies nie, maar hulle sukkel om hul emosies oor te dra. Dit kortwiek emosionele intimiteit.
- Beperkte belangstellingsveld. Baie mense met HFO fokus obsessief op enkele onderwerpe, soos weerberigte of sportuitslae. Hulle kan baie kennis hê, maar oor ’n koppie koffie dalk wegtrek met ’n lesing oor die oorsprong, volhoubare verbouing, ensovoorts van koffie. Neurotipiese mense ervaar dit as vreemd.
- Oënskynlike selfgerigtheid. Mense met HFO lyk baie keer net begaan oor feite, take, of hul gunstelingonderwerpe. Verhoudingsmaats voel húl belangstellings kry geen lugtyd nie.
- Fiksasie op rituele en roetines, soos ’n preokkupasie met vasgestelde leefpatrone. Etenstye moet op spesifieke tye wees en kan net sekere kossoorte insluit wat in ’n sekere volgorde geëet moet word. Afwyking van so ’n patroon skep angstigheid.
- ’n Gebrek aan koördinasie, soos lompheid of om voorwerpe te laat val. Dit kan vir onverskilligheid aangesien word. Sommige mense met HFO het ’n onnatuurlike manier van loop.
- Wisselvallige gedrag soos onvoorspelbare optrede, of herhaalde aksies soos “flapping”, ’n geskud van die hande. In volwassenes is dit dikwels meer subtiel: flapping kan vervang word deur met ’n pen te speel.
- ’n Gebrek aan sensoriese integrasie. Neurotipiese mense filtreer outomaties sensoriese inligting en neem sommige stimuli slegs op die agtergrond waar. Iemand met HFO kan alle sensoriese stimuli op dieselfde intensiteitsvlak beleef en byvoorbeeld tydens ’n gesprek uitsluitlik op jou oorbelle van halfedelstene – dalk sy nuwe belangstellingsveld – fokus. Hulle kan oorsensitief vir klank en reuk wees. Omdat hul brein nooit “afskakel” nie, ly hulle dikwels aan sensoriese oorlading, wat op aggressiewe uitbarstings of selfbesering kan uitloop.
- Angstigheid; elke situasie is vir hulle vreemd, en aanpasbaarheid is ’n geweldige uitdaging.
Gestel my maat het HFO?
“’n Diagnose berus op kliniese waarneming deur ’n spesialis wat hiermee werk,” sê dr. Shirley.
“HFO word dikwels verkeerdelik as aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteit, angsstoornisse, oppositional defiant disorder, skisofrenie, bipolêre siekte, Tourette-sindroom, sosiopatie of ander toestande gediagnoseer. HFO kan wel met sulke toestande gepaardgaan.
“HFO kom sowat vier keer meer by mans as by vroue voor en is geneties sterk oordraagbaar. ’n Ouer met HFO wie se kind daarmee gediagnoseer word, word baie keer só die eerste keer daarvan bewus.
“Die behandeling hang van die simptome af. Medikasie kan ingespan word om angs, depressie, fobieë, buierigheid, slaapstoornisse ensomeer aan te spreek. Dieetkundige hulp kan ’n verskil maak omdat verteringsprosesse dikwels nie optimaal funksioneer nie.
“Kognitiewe gedragsterapie en die aanleer van sosiale vaardighede, woedebestuur en tegnieke vir stresbeheer lewer goeie resultate. Omdat Aspies so intelligent is, leer hulle nuwe vaardighede maklik aan, soos wanneer om mense te groet, of hoe om op sekere social cues soos trane te reageer.
“Mense met HFO moet werklik goed na hul algemene breingesondheid en stresvlakke omsien deur genoeg te slaap, gesond te eet, in ’n omgewing te werk wat sensories gemaklik is, te doen wat hulle geniet, en genoeg me time in te ruim. Hoe nader jy aan die grens van wanfunksie lê, hoe groter is die kans dat spanning, te veel suiker of te min slaap jou omver kan werp. Jy moet ’n buffer tussen jou en die ‘afgrond’ inbou sodat jy jou selfbeheersing nie skielik verloor en jou werk of verhoudings in gevaar stel nie.
“In ’n verhouding met ’n Aspie sal ’n maat waarskynlik in ’n stadium van ’n gebrek aan empatie bewus word. Verwagtings van toenemende intimiteit en ’n dieper konneksie kan onvervuld bly.
Wanneer ’n paartjie albei HFO het, is die afwesigheid van emosionele intimiteit ’n kleiner probleem.
“Dit help baie wanneer die toestand ’n naam kry. Begrip maak die verhoudingsmaat vry. Dit doen weg met verwyte soos dat die persoon eiesinnig, ongenaakbaar, selfgerig of weird is. Dit verklaar onverstaanbare gedrag en kweek deernis – die toestand is tog nie jou maat se skuld of keuse nie.
“Baie Aspies oorbrug hul ‘tekortkominge’ deur hul nis in die samelewing te vind en op grond van hul kennis en vaardighede aanvaar (of verdra) te word. Hul maats het dit nie maklik nie, maar as die maat die irritasies kan hanteer omdat hulle lief is vir die Aspie se ander aspekte, is dit ’n groot stuk genade. Aspies gee nooit voor dat hulle iemand anders is nie. Hulle is deurgaans hul eie, unieke self.”
* Om etiese redes verkies dr. Shirley om geen verdere kontakbesonderhede te verskaf nie. Sy beklemtoon dat die artikel ’n algemene strekking het en nie professionele evaluering en bespreking mag vervang of tot spesifieke besluite aanleiding moet gee nie.
My Aspie-man – een leser vertel
Daleen* is reeds 19 jaar met Christo* getroud: Toe ek Christo ontmoet, was hy sjarmant, vriendelik en oënskynlik vol selfvertroue. Dit het my veilig laat voel. Hy was snaaks en soms ’n bietjie gek – eienskappe wat my later baie moedeloos sou maak!
Sy werk in ’n tegniese veld het duidelike swart en wit gebiede. Dit werk perfek vir hom. Hy hou hom eenkant, maar kom goed met een of twee van sy kollegas oor die weg.
Vir Aspies is ’n nuwe belangstelling amper soos ’n obsessie. Aanvanklik was Christo se volle aandag by ons verhouding, maar binne ’n jaar was daar probleme. Ons grootste struikelblok bly kommunikasie. Christo sukkel om duidelik te kommunikeer, tensy dit ’n onderwerp is wat sy belangstelling prikkel. In ’n gesprek wil ek iets graag hardop uitredeneer, ’n proses wat ’n bydrae van albei kante verg. Hy is geneig om net vrae te vra wat ek dan moet beantwoord. As ek iets wil weet, moet ek dit uit hom trek. Daarby sal hy sommer die gesprek onderbreek, iets anders gaan doen, en later terugkom om die gesprek te hervat – of terselfdertyd ’n tweede gesprek met die kinders voer. Ek voel hy luister nie na my nie.
Hy maak dikwels op onvanpaste tye ’n grap, en mense sien hom as ongeskik. Ek is ’n sosiale mens en dit het my aanvanklik alleen en ongelukkig laat voel. As ek met hom daaroor sou praat, was hy op die verdediging. Daar was net geen begrip nie.
Ná ons troue het ons gou van my vriende en familie vervreem. Christo wou net sy familie sien, omdat hy by hulle veilig voel. Ek het dit nie verstaan nie. Vandag nog “ignoreer” hy ’n vriendin wat by my kom kuier, of bekendes wat ons iewers raakloop. Ons het bitter min vriende en bring ons tyd maar tuis saam met die kinders deur.
Ons het twee seuns en ’n dogter. Christo was van die begin af ’n raakvatpa wat nie geskroom het om snags op te staan of doeke te ruil nie. Hy en die seuns het ’n goeie verhouding, hoewel hulle ook maar moet baklei vir sy “luister”.
Sussa is ongelooflik lief vir hom maar raak ongelukkig oor sy emosionele afwesigheid. Dit voel dikwels of ek tussen pappa en die kinders staan, besig om vure dood te slaan. Maar op ’n goeie dag kan hulle net so lekker kuier en gesels.
Ons een seun het aandagafleibaarheid en die ander een HFO met bipolêre neigings. Ek het ophou werk om die seuns met hul skoolwerk te help. Dit gaan dol met almal se vol roosters. Christo help om die kinders aan te ry, maar ek moet hom élke keer herinner wat moet gebeur. Ek beplan elke dag op my foon met verskeie alarms wat afgaan.
HFO is by Christo en ons jongste seun gediagnoseer. Hoewel ek ’n vermoede gehad het ná ’n vriendin my aangeraai het om oor HFO na te lees, was die diagnose vir my erg. Ek moes my droom oor hoe die lewe kon wees net so weggooi, aanvaar dat daar geen geneesmiddel is nie, en my denke verander.
Christo neem medikasie om sy impulsiwiteit te rem en sy gemoed te stabiliseer. Ons het ses maande lank gesinsterapie gehad om te leer uitkyk na triggers: geluide, bewegings, ensovoorts wat Aspies se gemoed oombliklik kan laat verander en hulle aggressief laat oorkom. Ek moes byvoorbeeld leer om sagter te praat. Christo en ons seun moes leer om ’n trigger te onderskei en weg te beweeg, of hul gevoelens te verwoord.
Die behandeling hét gehelp, en Christo gebruik sy tegnieke al hoe beter. Ek moes leer om hom te lees om te weet wanneer ek met hom kan praat en wanneer ek liewer moet wag. Dit werk vir ons om saam aandete te eet, sonder TV of selfone, of ons gesels terwyl hy bad of bestuur.
Albei my Aspies sukkel met hul korttermyngeheue. Ek gee reëlings vroegtydig deur, verbaal én met WhatsApp. Spontane uitstappies is van die baan. As ek iets wil hê, moet ek dit uitspel – skimpe werk eenvoudig nie.
Aspies weet hulle is anders en ervaar dit dikwels daar buite. As hulle tuiskom en hul frustrasie op jou aflaai, is dit nie om jou te laat sleg voel nie maar omdat hulle veilig voel. Dis soms vir my baie moeilik.
Ek lees baie oor HFO en behoort aan ’n steungroep. Om te herlaai doen ek dinge wat vir my lekker is, soos scrapbooking, of gaan iewers heen met ’n vriendin.
Waar ek aan die begin van ons huwelik gevoel het ek maak my man net ongelukkig, verstaan ek nou ek is nie die oorsaak van sy gevoelens nie. Op dae met min spanning is hy die rustigste en aangenaamste mens denkbaar. Ons connect deur saam dinge te doen wat vir ons altwee lekker is.
Ons lewe is nie perfek nie – ons het moeilike en maklike dae. Hoe meer ons leer, hoe makliker raak dit. Ek wens net ek kon sién hoe sy brein werk …
*skuilname
Lees ook: Wat mans by ons oor seks wil weet