’n Kombinasie van faktore soos waterretensie, vetselle onder jou vel en slegte veltekstuur speel hier ’n rol. Al oefen jy hoe baie, eet hoe gesond en handhaaf ’n normale gewig, kan selluliet steeds ontwikkel en hardnekkig bly klou, sê dr. Maureen Allem, stigter van Skin and Body Renewal in Kaapstad. ’n Multidissiplinêre benadering, van salon- tot tuisbehandelings en leefstylveranderinge is nodig om selluliet te verminder.
Voorkom selluliet só:
- Vermy vet, koolhidrate en sout en sluit meer vesel by jou dieet in, sê dr. Allem.
- Gereelde kardiovaskulêre oefening (minstens drie keer per week) is ook noodsaaklik om die voorkoms van selluliet te verminder, want dit help om gifstowwe uit te skei,” sê Jody Hyam, kommunikasiehoof van Clarins.
- Stres minder! ’n Stresvolle leefstyl lei tot ’n verhoogde afskeiding van streshormone, soos adrenalien en noradrenalien wat ’n rol speel in die vervaardiging van selluliet, verduidelik dr. Allem.
- Ons sê, probeer joga om spanning te verlaag.
- Hou op rook, dis net nog ’n gifstof wat selluliet veroorsaak.
- Beweeg, moenie te lank stilsit of staan nie. Loop ook gereeld by die werk rond.