By Anna Smit* was daar geen twyfel dat sy die stryd moes aanpak om haar kleinkind te mag sien nie. “Die kultuurkenner P.T. Muntze som die belangrikheid van kontak met jou voorouers uitstekend op: ‘Hulle is soos sy/haar beskermengele waarsonder die lewe in rampspoed eindig.’ Vir my is die kwessie die belang van die kind, en sy toekoms.”
Vir ’n paar maande ná haar dogter se dood kon Anna haar kleinseun besoek, en hy vir haar en ander lede van sy ma se familie. Maar die verhouding tussen haar en die seuntjie se pa het vertroebel, en dit het al moeiliker geword om haar vyfjarige kleinseun te mag sien.
“Ná verskeie vrugtelose versoeke om die seuntjie te sien is ek op advies van my prokureur na die People’s Family Law Centre in Kaapstad om toegang tot my kleinkind te probeer kry. Ná vier maande se gesloer en gesoebat het ek eindelik ’n afspraak by die gesinsadvokaat gekry, maar ek het gevoel hulle is nie opgewasse vir die taak nie en besluit om my na die hooggeregshof te wend.
“Ek was uiters bekommerd oor my kleinseun se emosionele welstand nadat ek gelees wat dr. Peter Whybrow, direkteur van die Neuropsigiatriese Instituut van die Universiteit van Kalifornië in sy insiggewende boek A Mood Apart geskryf het.
“Hy skryf onder meer dat kinders wat deur hul ma’s saam met ander familie grootgemaak word, nie so ’n drastiese toename in streshormone ervaar wanneer sy ma sterf soos wat gebeur by die geïsoleerde kind nie. Volgens Whybrow kan familie intieme moederlike gehegtheid uitbrei, of selfs vervang, maar as familie afwesig is, veroorsaak ouerlike verlies groot ontwrigting. Sterk familiebande en sosiale verkeer met familie verminder die onsekerheid ná ’n ouer se dood omdat daar ondersteuning en bystand is. Hy meen ook ’n klein kind wat ’n ouer verloor, loop ’n hoër risiko vir latere depressie en selfs selfmoord.
“Volgens Whybrow is gehegtheid en die ondersteuning van familie lewensbelangrik. Net soos goeie fisieke voeding tydens ontwikkeling liggaamlike groei bevorder, so versterk ’n koesterende, emosionele omgewing van hegte familiebande gedurende die kinderjare die ontwikkeling van die emosionele self.”
Teen alle raad in het Anna ’n hooggeregshof-advokaat gaan spreek. Dié was allesbehalwe optimisties oor haar kanse om te slaag.
“Hy het saak op saak aangehaal om te bewys dat dit ’n onbegonne taak is, maar ek het verbete vasgebyt. Dit was voor die nuwe Kinderwet (wet 38 van 2005) in werking getree het. Hy het my gewaarsku dat dit ’n lang, uitgerekte proses gaan wees, maar ek was heeltemal onvoorbereid vir presies hóé langsaam die meule van die gereg maal! ’n Uitmergelende twee jaar het gevolg waarin ek soos ’n klimtol gespeel is en van advokaat na hooggeregshof na kurator na sielkundige/mediator moes gaan.”
Anna se mosie om toegang is by die hooggeregshof op die rol geplaas, maar die saak is met drie maande uitgestel omdat haar kleinseun se pa (die respondent) se advokaat nie gereed was nie. ’n Kurator is benoem om ondersoek in te stel na die wenslikheid van haar toegang, en ’n sielkundige is as bemiddelaar aangestel. Die saak is uiteindelik met nog nege maande uitgestel omdat die sielkundige en kurator vir meer tyd gevra het vir onderhandelings tussen Anna en haar kleinseun se pa.
Vir Anna, destyds 68, was die hele proses baie traumaties. Elke hofdatum het indringende onderhoude, baie koste en “oorweldigende spanning” meegebring.
“Die eerste mediasie-sessie tussen my, die sielkundige en my kleinkind se pa was ’n fiasko. Die pa was buite homself van woede en het weer eise gestel vir persoonlike vergoeding – een van die redes hoekom hy my kleinseun van ons af weggehou het, was omdat hy nie finansieel by my dogter se dood baat gevind het nie. Toe ek in die sessie weer weier om aan sy eise te voldoen, het hy uitgestorm met dié woorde: ‘Shove it where it hurts’”.
Hy het nie opgedaag vir die volgende geskeduleerde bespreking nie, en die derde een het ewe stormagtig verloop, onthou sy. “Die volgende drie maande het die korrespondensie veertien keer heen en weer tussen my en sy regspanne gevlieg, en byna ’n jaar nadat ek die hof genader het, het die kurator en sielkundige hul tussentydse evaluasie-verslae bekend gemaak. Die sielkundige het tydelike besoeke aanbeveel, maar my kleinkind se pa het geweier. Ek het verniet gesoebat dat my kleinseun se vervreemding in sy belang gestaak moet word.”
Daarna was daar nog mediasie-sessies wat Anna as “klugtig” beskryf. Haar kleinseun se pa het bly weier om in te stem tot die voorstelle en voorgestelde toegangskedule wat aan die hof oorhandig sou word vir bekragtiging.
Twintig maande het verbygegaan, en uiteindelik het die dag aangebreek waarop Anna gehoop het. Haar saak sou uiteindelik voor die hof dien. Maar toe is daar geen regter om die saak aan te hoor nie! “Die destydse regterpresident het my advokaat bruusk toegesnou dat dit nie nodig is om ’n regter vir die saak te verskaf nie, want ’n grootouer het nie regte ten opsigte van ’n kleinkind nie.”
Hieroor is Anna steeds verstom. “Ek wou eintlik vir hom vra hoe het die kleinkind dan mens geword as daar nie ook iewers ’n voorouer in die prentjie was nie?” Sy het besluit om die saak nie daar te laat nie, en het ’n brief per geregistreerde pos aan die regterpresident gestuur waarin sy beswaar gemaak het teen sy siening.
Kort daarna is sy per brief in kennis gestel dat die saak vroeg die volgende jaar aangehoor sou word, en dat sy intussen tussentydse toegang tot haar kleinseun kry. Al was die toestemming net vir een besoek voor daardie jaar se Kersfees en nog ’n besoek op sy verjaardag (in die teenwoordigheid van ’n derde persoon) was dit ’n groot ligpunt.
Goedkoop was dit allermins. Selfs vir die hofsitting waarvoor daar nie ’n regter beskikbaar was nie, moes sy R24 000 opdok vir die regspan en die kurator. Sy moes ook die respondent se regskoste betaal, en die rekening was reeds ver meer as R300 000. “Maar dit was elke sent werd!”
Gelukkig kon die saak voor die volgende hofdatum buite die hof geskik word, en twee jaar nadat sy haar stryd begin het, het die hof die ooreenkoms bekragtig. Anna mag nou haar kleinseun ad infinitum elke ses weke van 09:00 tot 17:00 sien, sonder dat enige derde party hoef toesig te hou. Sy kry ook sewe dae gedurende een skoolvakansie per jaar op ’n plek van haar keuse, en redelike telefoniese toegang tot hom.
“Reg het uiteindelik geskied, maar dis ’n bittersoet oorwinning. My kleinseun is vandag 15 jaar oud. Sy sprankel het verdwyn. Hy is ’n geslote, somber, laglose, onseker, soms afsydige vreemdeling. Dis hartverskeurend om te aanskou. Ek smag na sy spontane groet van sewe jaar gelede: ‘I love you Ouma, more than the sun and the moon, more than the whole wide world!’ Die drie jaar waarin hy kontak ontsê is met my en sy oorlede ma se familie, het hom van alle emosie gestroop. Hy het ’n muur om homself gebou as verskansing teen seerkry en teleurstelling. Ons verhouding is vertroebel.”
Tien jaar het verloop sedert sy ma se dood, en Anna is nou ’n vrou van 75. “Ek sien hom nou baie ongereeld, want op my ouderdom raak dit moeiliker om die lang pad aan te durf om hom te besoek. Hoewel ek ten volle betaal vir sy skoolopleiding en koshuisverblyf binne maklike ry-afstand, neem sy pa hom elke naweek huis toe sodat ek nie my wetlike voorregte – en my kleinkind s’n – kan geniet nie. Ek sien ook nie kans om die trauma van nog ’n hofsaak aan te durf nie. Emosioneel is die skade onherstelbaar tussen grootouer en kleinkind weens die gesloer van die regstelsel.”
Tog wil sy vir ander grootouers in haar posisie moed gee met dié onderhoud. “Druk deur, want as ek kon, kan julle ook. Ek weet van baie grootouers wat ook in hierdie situasie is – soms weens ouers wat geskei het, maar ook soms weens finansiële of ander kleinlike twispunte. Die kleinkinders, wat reeds so ontwrig is, word boonop die liefde en samesyn en sekuriteit van oupas en oumas ontsê. Maar volgens die nuwe Kinderwet (38 van 2005) het grootouers die reg om aansoek te doen. Enige normale grootouer dra tog hul kleinkinders se belange op die hart, wil familiebande versterk eerder as verbreek, en het hul kleinkinders lief.”
Wat sê die Kinderwet?
Wie kan aansoek doen om toegang? Enige persoon wat belang het by die versorging, beskerming, welsyn of ontwikkeling van ’n kind, maar onthou dat dit net op die voorwaardes van die hof sal geskied.
Waarna kyk die hof by so ’n aansoek?
• Die beste belang van die kind.
• Die band/verhouding tussen die applikant en die kind, asook die band tussen die kind en enige ander betrokke persoon.
• Die hof sal kyk na jou geskiedenis met die kind. Dus, hoe lyk jul verhouding tot dusver, en wat is die aard en omvang van jou betrokkenheid tot in daardie stadium in die kind se lewe.
• Die kind se verhouding met die persoon wie se ouerlike regte of verantwoordelikhede beveg word.
• Jou bydrae tot die kind se lewe sal beslis in ag geneem word (finansieel en andersins).
• Enige faktore wat die hof as belangrik beskou.
Wat sê ’n sielkundige?
Nellie Prinsloo, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg met uitgebreide sielkundig-forensiese ervaring (howe gebruik haar gereeld as kundige) verduidelik wat ’n sielkundige alles by so ’n aansoek in ag neem.
Gelukkig maak die nuwe Kinderwet (38 van 2005) nou daarvoor voorsiening dat grootouers, veral dié wat reeds ’n emosionele en verhoudingsband met die kind het, om toegang- en/of versorgingsregte aansoek kan doen. Die wet sê duidelik dat die kind die reg het tot behoorlike ouerlike versorging van sy ouers en ander ouerlike figure soos grootouers of stiefouers.
Die klem is op ’n emosionele band wat reeds tussen die kind en grootouers bestaan. In Anna se geval is een van die kind se regte tog sekerlik om ’n afgestorwe ma deur die grootouers te leer ken. Indien daar reeds ’n betekenisvolle verhouding was, het die kind die reg om gereelde toegang tot sy grootouer te hê indien hierdie verhouding ook vir hom belangrik is.
Die nuwe Kinderwet is geskryf met die kind se belang as hoofdoel. Selfs baie jong kinders kan gevra word (deur ’n kundige in ’n terapeutiese omgewing) wat hul behoefte is. Die dae dat daar gewag moes word tot ’n kind twaalf is voor hy sy sê mag sê, is lankal verby. Selfs die ouerskapplan wat nou ’n vereiste is met elke egskeiding, moet met kinders bespreek word. Die kinders het beslis ook ’n sê in wat hulle wil hê en die kind (volgens ontwikkelingsvlak) moet die plan goedkeur.
Sielkundiges kyk na verskeie aspekte voor hulle ’n aanbeveling oor toegang tot kinders maak:
- Bestaan daar ’n emosionele en verhoudingsband tussen die grootouer en kleinkind, en wat is die aard van die verhouding? Die sielkundige evalueer die verhouding in ’n terapeutiese omgewing.
- Hoe gesond is die grootouer emosioneel en kan hy/sy die nodige aanpassings maak om kinders se veranderende behoeftes te akkommodeer?
- Kan die grootouer verantwoordelik wees vir die algehele welstand van die kind en is hy/sy in staat om logiese en realistiese besluite te neem oor die algehele (fisiek, emosioneel en sosiaal) welstand van die kind?
- Psigometriese toetsing, asook agtergrondinligting word van die betrokke persone en mense uit hul leefwêreld verkry om ’n omvattende beeld te kry van die persoon se funksionering en vaardighede.
- Daar moet gekyk word na die klagtes of redes wat ’n ouer het om toegang te weier en daar moet vasgestel word of die redes gegrond is en of dit bloot net moedswillige vervreemding van die grootouer ten doel het.
- Die beste belang van die kind word deurgaans in gedagte gehou en kinders se gevoelens oor kontak word geëvalueer en in ag geneem.*Skuilnaam