Is daar ‘n mens wat alles eet? En ek bedoel – ALLES? Soos in paddaboudjies, vetgevoerde slakke, mopaniewurms, rysmiere, hondevleis en afval?
Dalk is jy ‘n dapper eter wat reeds al ses items hierbo kafgedraf en selfs hier en daar ‘n tweede skeppie gevra het. Ek het my mond aan vier van hulle gewaag, maar sien nie noodwendig uit na ‘n herhaling nie. Veral nie na nog ‘n paar porsies afval nie.
Ja, ek weet party mense sal hulle voortande gee vir ‘n geurige bord afval. (Dis juis my probleem – die geur.) Nou wonder ek net hoe hulle oor hondevleis voel.
Ek het die idee dat smaak grootliks kultureel bepaal word; òf deur sekere disse van kleins af vir jou kinders te voer, òf deur die land te besing wat die oorsprong van die kossoort is. Van ek kan onthou, was my ma mal oor Frankryk: die taal, die musiek, die plattelandse landskap, die kos. Ek het soveel respek vir haar en haar goeie oordeel gehad dat ek outomaties ja gesê het wanneer daar paddaboudjies of slakke op die spyskaart was.
Maar hondevleis? Te min Chinese bloed in my are en ‘n algehele gebrek aan pro-Chinese propaganda in my ouerhuis. Of dalk het dit te doen met die feit dat honde in my oë ons vríénde is. Aan die ander kant ken ek wel mense wat diere eet wat hulle ken – soos een van die beeste in die kampie neffens die huis, of die hoenderhaan wat hulle op ‘n vakansiedag wakker gekraai het.
Toe ek klein was, is ek geleer om nie politiek of godsdiens aan tafel te praat nie. Dis emosionele onderwerpe wat tot ‘n stryery en tot slegte spysvertering kan lei. Ek dink kos is net so ‘n sensitiewe onderwerp, veral wanneer dit by Tim Noakes versus a vegan dieet kom.
Ons moet in elk geval ons goeie oordeel gebruik wanneer ons met kos omgaan. Netnou misgis ons ons met ‘n wilde sampioen, of skrik ons vir koue pampoen. Mense is nou maar eenmaal goedgelowig. Die Franse se liefde vir paddaboudjies het skynbaar onstaan toe die kerkowerhede wou planmaak met die groeiende aantal oorgewig monnike. Die manne moes ‘n tyd lank vleis uit hul dieet sny, maar gelukkig het paddas onder vis geresorteer. Voor jy “kwaak” kon sê, was paddaboudjies ‘n delikatesse, en het die bevolking die monnike se voorbeeld gevolg.
Ek is kláár met paddaboudjies. Gelukkig kan mense aan die volwasse kant van vyftig besluit wat hulle wil eet. Nou moet ek net nie te fluks visualiseer hoe die lamstjoppies waarvoor ek so lief is op die tafel beland nie …