Laas Saterdag het ek die eerste keer in ‘n warmlugballon gevlieg. Om geruisloos bo die aarde te sweef in ‘n stilte soos wat die arende dit beleef, is ‘n intense ervaring. Veral as jy die kans kry om uit die maag van ‘n vallei hoër en hoër te klim tot by die hoogste rande van die ruwe rots, en die berg oor te steek.
Toe alles klein word onder ons, het dit tot my deurgedring hoeveel groter die wêreld is as wat ek in my gewone plat-op-die-aarde-gang besef.
Jare gelede het ek ‘n onderhoud gehad met die Amerikaanse life coach, Martha Beck. Martha doen iets aan die bedrading in jou kop. Toe ek daar wegry, het ek voor my geestesoog ‘n duidelike toneel gesien: ‘n lappieslandskap ver onder my, nes Saterdag uit die lugballon. Ek het die gewaarwording gehad dat die lewe veel groter is as wat ek besef.
Hoe bewoon jy ‘n ruimer werklikheid? Jy dy self so ‘n bietjie uit. Nie noodwendig fisies nie (behoede my) maar in terme van uitkyk. Jy laat skiet die ondeurdagte reëls wat jy heelhuids ingesluk het sedert jy jou verstand het, en torring aan die eise wat jou sinneloos inperk. Jy kyk wat vir jou werk.
Ja, ek weet – die kinders! Wat doen ek as hulle hul vryheid van spraak en denke bo my sienswyses stel? Dit kan mos ongemaklik raak, veral wanneer huistakies in die gedrang kom.
Na lang en ernstige nadenke oor ‘n glasie wyn het ek besluit ek hóú van die beeld van my kinders in ‘n metaforiese lugballon. Dit voel al asof hulle jonk-jonk reeds hoër vlieg en verder sien. Anders as ons destyds, kan hulle uit ‘n verstommende verskeidenheid van gebruike, sienswyses, voorkeure, mikpunte, moontlikhede kies.
Scary stuff. Maar ook die opwindendste manier om in vertroue, selfontdekking, en oorgawe aan die lewe te leer lééf.