Wat alle ouers moet weet oor allergie en wanvoeding deur Salomé Delport. Hooffoto: iStock/skynesher
Hoe hou allergieë en wanvoeding verband?
Wanvoeding stapel nóg ’n klomp probleme op die allergie, sê dr. Marinda McDonald, allergiespesialis van die Rosebank-allergiekliniek.
“As ’n melkallergie by ’n kind gediagnoseer word, sny baie ouers bloot alle melk en melkprodukte uit sy dieet, sonder om daarvoor te vergoed. Kleiner kinders kan dan tekorte ontwikkel aan veral proteïene, plus die vitamiene en minerale waaraan melk ryk is, soos kalsium, kalium en vitamien D. As jy melk uitsny, het jy ’n alternatiewe dieetplan nodig wat die uitgeslote voedingstowwe vervang. Jy kan ook nie sommer net koeimelk deur ander dieremelk vervang nie. Baie kinders is daarvoor net so allergies. Verder word soja liefs vermy vir kinders onder ses maande, weens die omstredenheid oor die fito-estrogeen daarin. Buitendien, sowat die helfte van die kinders wat vir koeimelk allergies is, is ook vir sojamelk allergies. Verder is daar verskillende vorms van melkallergie.”
Wat om te doen as jou kind ’n melkallergie – of enige ander allergie – het?
Haar raad:
- Begin met ’n akkurate diagnose deur ’n dokter of kliniek wat hierin spesialiseer
- Vervang jou kind se melk deur ’n korrek uitgewerkte eetplan
- Neem jou kind jaarliks vir ’n opvolgondersoek. Baie kinders ontgroei hul allergie, en kan lateraan normaalweg melk gebruik, met al die voordele daarvan.