Seks is veronderstel om ’n wonderlike ervaring te wees wat twee mense op alle vlakke aan mekaar verbind. Maar wat doen jy wanneer enige seksuele toenadering van jou maat jou liggaam laat reageer soos ’n hand wat op ’n warm stoofplaat beland?
Louise* is ’n 31-jarige beroepsvrou met ’n optimistiese geaardheid. Sy is sosiaal goed aangepas en vier jaar lank met haar groot liefde getroud. Sy het ongekompliseerde kinderjare gehad en is nooit seksueel mishandel nie. Tog het sy ’n geskiedenis van pyn tydens seks.
“Ek was van die begin af gek na my man en kon skaars wag vir ons huweliksnag. Dit sou ons eerste seksuele ervaring wees en ek het opgewonde daaroor gefantaseer.
“My vriendinne het gesê dit vat ’n tydjie om aan te pas, maar dis great.
“Ons eerste probeerslag was vir my nie wow nie. Ek het ’n bietjie gebloei en ’n oomblik lank pyn ervaar. Ek het gewonder waar die hele hype oor seks vandaan kom, maar besef ek moes geduldig wees. Die wow het egter nooit gekom nie.
“Die eerste ruk het ek probeer vrede maak hiermee. My man doen huweliksberading en ons kommunikasie is baie oop. Hy het geweet ek het seer tydens seks. Hy was altyd geduldig en ons het gehoop dit sou in ’n stadium beter begin gaan. Maar ek het nooit vreugde aan die ervaring gehad nie.
“Hoewel penetrasie problematies was, het ek swanger geraak. Daar was komplikasies en ek was dodelik siek. Rickert* is twee maande vroeg gebore en sy gesiggie was nie normaal gevorm nie. Dit was absoluut traumaties. Hy moes op vyf en sewe maande groot operasies kry. Sy armpies is gespalk sodat hy nie sy gesiggie kon beseer nie; dis verskriklik om jou kind so te sien swaarkry. Die eerste operasie kon ek nog hanteer, maar die tweede een was te erg, veral omdat ek voltyds moes werk.
“Ná Rickert se geboorte het ek gewig begin aansit. Ek het nie na myself omgesien nie en wou ook nie seks hê nie. Ek is na ’n ginekoloog om ’n intra-uterine apparaat te laat insit wat as voorbehoedmiddel sou dien. Dit was my eerste inwendige ondersoek, en hy het gesê ek lyk binne soos ’n maagd. Ek het hom vertel hoe pynlik seks vir my was. Hy het gesê die enigste oplossing was ’n operasie om die vagina te vergroot. Maar ná die ervarings met ons seuntjie wou ek niks van operasies weet nie.
“Toe Rickert ’n jaar oud was, het ek weer aan myself en my behoeftes begin dink. Ek het besluit hoe ek wou lyk en voel en hoe ek my huwelik wou hê. Die feit dat seks so seer was, het ons huwelik geaffekteer. Wanneer ons eindelik sover sou kom, was dit vir my ’n emosionele krisis. Ek het gevoel ek bevredig my man nie en tree in terme van Bybelse beginsels nie reg teenoor hom op nie. Ek het soos ’n algehele mislukking gevoel.
“Op ’n dag is ek met mangelontsteking na ons algemene praktisyn en het haar van die ginekoloog se voorstel vertel. Sy het onmiddellik vir my ’n afspraak by ’n seksuele gesondheidspraktisyn, dr. Elna Rudolph, gemaak.
“Omdat ek afgeboek was, is ek dadelik na Elna se spreekkamer. Koorsig of te nie – ek wou hierdie saak eens en vir altyd oorwin. “By Elna was daar nie ’n ondersoekbed in sig nie. Ons het gesels en ek kon ontspan. Toe Elna verduidelik wat vaginisme is en my simptome beskryf, was dit of ’n damwal breek. Ek kon nie ophou huil nie. Ek het besef ek het ’n behandelbare toestand!
“Ons is na ’n ander vertrek waar sy my ondersoek het. Sy het net met ’n oorstokkie aan my vagina geraak en dit was pynlik – g’n wonder seks was vir my angswekkend nie. Ek het boonop ’n chroniese infeksie gehad, wat dit vererger het. Ek weet nou vaginisme begin dikwels as ’n fisieke toestand en kry dan emosionele bagasie by.
“Die behandeling was meerledig. Ek het ’n vaginale room gekry om die oorgestimuleerde senuweepunte te verdoof, asook fisioterapie. Ek was verstom om te hoor dat spesialisfisio’s hierdie gevalle behandel. Hulle kyk hoe die spiere in jou pelvis saamwerk – daar kan ’n gebrek aan blaasspierkontrole wees, en jy leer om jou pelviese vloerspiere te beheer. Jy ontwikkel knoppe in jou vagina, nes spasmas in jou nek, en hulle vryf dit uit. Dis intieme behandeling, maar hulle tree baie professioneel op. Hulle gebruik ook masjiene en gee jou oefeninge.
“My man was gewillig om saam met my na Elna toe te gaan. Hy het geweet hy sou die vrugte pluk. Die voordeel is dat jy met haar praat, nie direk met jou maat nie. So kom baie knelpunte op die tafel. Sy het gevra watter drie woorde by my opkom as ek aan seks dink. Daar was net een woord: pyn, pyn, pyn.
“Deur die sintuiglike fokustegniek, waar penetrasie vir ’n sekere tydperk ontoelaatbaar is, het ons mekaar weer sensueel leer ken en geniet. Dit was nogal ’n uitdaging om tyd vir mekaar te maak met ’n kleuter in die huis! Ons het elke week ’n date night gehad. My man het sy skedule aangepas sodat hy nie so laat tuiskom nie.
“Die afspraakaande het dit vir my makliker gemaak. As ek geweet het ek kon ’n romantiese aandjie verwag, was ek minder gespanne as wanneer dit my onverhoeds betrap het.
“Die voordeel van die fisioterapie was dat ek kon ervaar hoe my spierbeheer toeneem en hoe die spasmas verminder. Maar my kop moes ook die skuif maak, en emosioneel moes ek genees.
“Toe ek gereed was, het die fisio my geleer om ’n dilator in my vagina te sit. Ná twee maande kon ek dit regkry sonder om ’n gesig te trek. Ek het ’n lang pad gestap voor my kop én lyf besef het seks is nie iets pynliks wat ek tot elke prys moes vermy nie.
“Toe ek eindelik pynvry kon seks hê, was ek in ekstase. Ek besef nou: dit moet lekker wees! Eindelik weet ek hoe ’n orgasme voel. Ek verstaan nou hoekom mense soveel van seks hou. Ek kan nou my eie magic met my man maak.”
*skuilname
Multi-dissiplinêre benadering
“Vaginisme is die onwillekeurige sametrekking van die bekkenvloerspiere wat seks pynlik en penetrasie dikwels onmoontlik maak,” verduidelik dr. Elna Rudolph, die kliniese hoof van die Intercare Sentrum vir Seksuele Gesondheid in Pretoria. “Pyn tydens seks kom by tot een uit vyf vroue voor, in verskillende grade. In erge gevalle kry vroue angsaanvalle as hul mans net naby hul geslagsdele kom. Die tragiese is dat hierdie vroue graag seks wíl hê. Vaginisme benadeel hul verhoudings en skep intense innerlike konflik; by sekere van my pasiënte het dit al tot egskeiding en selfs selfmoordpogings gelei.
“Omdat ons elkeen siel én liggaam is, is oorsaak en gevolg verweef. Partykeer maak ’n mediese toestand soos ’n infeksie, velaandoening of aangebore abnormaliteit die vagina hipersensitief. Enige aanraking is pynlik en skep ’n vrees wat voortaan haar spiere laat saamtrek as enigiets naby haar vagina kom. Ek sien vroue wat letterlik van hul knieë af boontoe toeknyp as ek hulle wil ondersoek.
“Die ervaring van seksuele mishandeling of ’n streng geloofsopvoeding wat seks veroordeel, kan ook veroorsaak dat ’n vrou oor penetrasie ‘katastrofeer‘ en ‘toetrek‘. Dit kan op vyf, twintig of vyftig gebeur, selfs met iemand wat jare lank pynvrye seks gehad het. Verkragting op sewe kan vaginisme op veertig sneller.
“Met elke pasiënt kyk ons watter persentasie van die probleem biologies, sielkundig en sosiaal (die invloed van die gemeenskap of omgewing) is en pas die behandeling daarby aan. Die biologiese aspek kan deur medikasie, fisioterapie en dilatorterapie behandel word. Hierdie fisioterapeute het ’n nagraadse kwalifikasie in bekkenvloerterapie. Hulle leer die pasiënt dat iets haar vagina kan binnegaan waaroor sy beheer het en wat sy kan toelaat indien sy wil.
“Ek beveel chirurgie net in uitsonderlike gevalle aan omdat dit die vrees vir vaginale aanraking wat die spiere laat saamtrek net vererger, en omdat die hersteltyd baie lank is. As ’n laaste uitweg gebruik ons soms botox-behandeling, maar dis nog in ’n eksperimentele fase.
“Ek verwys pasiënte indien nodig vir psigoterapie. Angstigheid en obsessief-kompulsiewe versteuring is dikwels ter sprake. Ek sien ook die paartjie vir seks-terapie, wat die sintuiglike fokustegniek insluit. Die mans kry gewoonlik baie swaar. Jare se ‘verwerping’ kan tot lae libido en premature of vertraagde ejakulasie lei. Hulle worstel baie keer reeds lank alleen met hierdie situasie. Die goeie nuus is dat fisieke en emosionele intimiteit herstel kan word. Dis vir my werklik ’n voorreg om die heling van so ’n verhouding saam met pasiënte te beleef.”
Hoe kan vaginisme betyds opgespoor word? “Die onvermoë om tampons gemaklik te gebruik, is dikwels ’n vroeë aanduiding. As iemand nog nie seks gehad het nie, is dit die maklikste om te herstel. Ma’s kan dus gerus met hul dogters hieroor praat.
“Bewustheid kan die verskil tussen die grootste ongelukkigheid en ’n normale, vervulde sekslewe beteken. Dis nooit te laat om hulp te kry nie.”